Vrae oor verspreiding van voedselhulp in Noordwes

(Foto ter illustrasie: Twitter)

Politieke partye is bekommerd oor kospakkies wat in Noordwes as deel van hulplenigingsprojekte tydens die algehele afsonderingstydperk aan armes uitgedeel moet word.

Die Forum 4 Service Delivery (F4SD) het verlede week in ʼn brief aan die LUR vir maatskaplike ontwikkeling in die provinsie, Boitumelo Moiloa, al met hofstappe gedreig as sy nie die vereistes verslap waaraan mense moet voldoen om vir voedselhulp te kwalifiseer nie.

Mbahare Kekana, F4SD-leier, het gesê diegene wat die departement as die enigste begunstigdes van hulp geïdentifiseer het, word weggewys by afhaalpunte wat veronderstel is om maatskaplike dienste toeganklik te maak. Hy het gesê die regering verwag nou van mense wat nie ʼn sent het nie om toegang tot slimfone te hê om toegang tot die diens te kry.

Die DA het die hantering van die voedselhulpprogram in Noordwes as ʼn ongeregtigheid teenoor die armes wat dringend kos benodig bestempel en gesê ʼn ondersoek daarna moet van stapel gestuur word.

Gavin Edwards, DA-woordvoerder, het gesê die party is ingelig dat kospakkies glo in ʼn stoorkamer toegesluit is waar dit lê sodat Moiloa dit later kan uitdeel – na bewering om publisiteit daarvoor te kry.

“Ons is ook bekommerd oor ernstige aantygings van faksiegevegte rakende verskaffers in die provinsie. Dit is nou tyd vir die LUR om beslissend op te tree deur deursigtig te wees oor die proses wat haar kantoor volg.”

Moiloa het die bewerings verwerp.

Die LUR vir maatskaplike ontwikkeling in Noordwes, Boitumelo Moiloa.

“Ons bevestig dat kospakkies aan verskeie behoeftige gesinne, van wie die omstandighede nagegaan is, in die Dr. Kenneth Kaunda-distrik versprei is nadat pres. Cyril Ramaphosa die staat van algehele afsondering afgekondig het,” het sy in reaksie gesê.

“Ons erken dat meer gedoen moet word aan die ernstige maatskaplike uitdagings wat gemeenskappe in die provinsie in die gesig staar en ons neem terselfdertyd met kommer kennis van die ongegronde en misleidende bewerings wat veral deur die DA gemaak word, tydens dié tydperk van nood weens Covid-19 in ons land en wêreldwyd.”

Sy het gesê die departement het nooit ʼn pamflet versprei met kontaknommers van koördineerders by verskillende distrikskantore nie en gebruik in samewerking met die Suid-Afrikaanse Maatskaplike Sekerheidsagentskap (Sassa) ʼn tolvrye nommer (0800 601 011) en ʼn streeksnommer (018 397 3360) om aansoeke te hanteer.

Volgens Moilao het die departement ʼn behoorlike plan om te verseker voedselhulp word op ʼn deursigtige en billike manier versprei.

Sy het gesê maatskaplike werkers gaan die omstandighede van aansoekers na voordat hulle kospakkies ontvang.

“Ons glo nie dat die verspreiders hulself aan die kospakkies gaan help nie omdat alle begunstigdes identiteitsdokumente moet wys en moet teken voordat hulle voedselhulp ontvang.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Boortor

Die helfte van die kospakkies het klaar voete gekry. Daarvan is ek oortuig!

Fedup

Food is a neccesity, not a luxury. What is wrong with this women?

Anel

Mense gaan dood van honger en hulle hou hulle besig met rompslomp. Gaan slaap elke aand lekker warm en dik geëet en nog lekker gedrink ook. Voel nie ‘n duit vir die honger mense nie. Hef op die inperking dat hierdie lsnd en sy mense kan aangaan met hul lewens.

Bets

Ek stem hier is hoeveel honger wit mense ook maar dit word nie raak gesien nie solank hulle kos het en lekker eet en drink voel hulls niks verder nie stop hierdie lockdown laat mense kan gaan werk en daar sal minder probleme wees

Eerlik

Die probleem is dat die kos pakkies nie aan die blankes versprei word nie, hulle sorg net vir “our people” met ons belasting geld.