Vrae oor weermag wat nou Pta-hotel huur

St George-hotel (Foto: St George-hotel/Facebook)

Dit is vir die VF Plus onaanvaarbaar dat die Saint George Hotel en Konferensiesentrum in Irene buite Pretoria vir R5 miljoen per maand gehuur word om opleiding te verskaf aan senior offisiere en die party sal die openbare beskermer (OB) vra om dit te ondersoek.

“Hierdie opleiding is nog altyd op gevestigde persele aangebied en die vraag is wat die rede is waarom die SA Leërstigting besluit het om die Kollege vir Oorlogvoering en die Verdedigingskollege voortaan daar te huisves,” sê Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

“Indien daar gesê word dat die bestaande geriewe nie geskik is nie, kan gevra word waarom dit nie opgegradeer kan word met die miljoene wat nou aan die hotel betaal gaan word nie. Daar is talle weermagbasisse in die land met meer as genoeg geriewe waar opleiding gegee kan word aan senior offisiere.”

Groenewald sê die minister van verdediging en militêre veterane, Thandi Modise, behoort onmiddellik antwoorde oor die huurooreenkoms te verskaf.

“Dit is verdag dat die huurooreenkoms aangekondig is enkele weke nadat die hotel verlede maand aangekondig het dat hy sy deure sluit. Dit wek die indruk dat korrupsie by die huurooreenkoms ter sprake kan wees en die VF Plus wil duidelike antwoorde oor die aangeleentheid kry.”

Die Demokratiese Alliansie sal ook parlementêre vrae indien vir Modise en die sekretaris van verdediging, Sonto Kudjoe, oor die “ontstellende onthulling” dat die Saint George Hotel in Pretoria aan die departement van verdediging verhuur word.

Kobus Marais, die DA se skaduminister van verdediging, sê dit wil voorkom of daar verskeie ongerymdhede bestaan met die huurkontrak. “Dit kan deur korrupte individue uitgebuit word wat die staatskas verder wil plunder.”

Marais sê die hotel word nou verbind aan die geskiedenis van die ANC. “Talle van die party se geskiedkundige vergaderings is hier gehou en dit is ook waar minister Modise en die minister in die presidensie, Mondli Gungubele, gyselaar gehou is ná ʼn vergadering met militêre veterane. Die DA sal ʼn ogie hou oor hierdie ooreenkoms. Ons kan nie toelaat dat die SANW verder agteruitgaan en gebruik word as ʼn front vir staatskaping en korrupsie nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pietertjie

Hotel- en kamerdienste is hopelik ingesluit by daardie prys. Dink net: rustige drankies en versnaperinge op die veranda terwyl die volgende vergadering of weermag-ontplooiing bespreek word deur die comrades…

Lubbe

Ons openbare beskermer vra…asof dit gaan help. Oms moet almal aansluit by die weermag vir opleiding dan kan ons lekker in weelde lewe. Ons land is lagwekkend.

Piet Snot

Wie is die eienaar vd hotel?
Dalk gee dit ‘n aanduiding waarom dit so gewild is.

Porseleintjie

Die land is bankrot en tog leef die kommando-wurms in weelde?? Waarom word die geld nie aangewend om brandstof te finanaier sodat jan -en -alleman darem ‘n brood op die tafel kan sit nie?

Boer

Wat is dan fout met die huidige offesiers opleidings skool. Dit het al die jare goed gewerk hoekom nou miljoene uit gee vir n hotel waar daai geld gebruik kan word on die vliegtuie, voertuie en boote beter te kan diens. Ook jaar in en uit sny die ministers die weermag se begroting. Ek verstaan nie mooi hoe hulle koppe werk nie.