Vrae oor wettigheid van VBS-lenings geopper

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

Daar bestaan vrae oor die geldigheid van lenings wat VBS Mutual Bank, voorheen bekend as die Venda Bouvereniging, aan kliënte toegestaan het, aangesien die bank, strydig met wetgewing, glo beleggings van 21 munisipaliteite aanvaar het.

Só sê Anton Alberts, VF Plus voorsitter en parlementêre woordvoerder van handel en nywerheid.

Munisipaliteite word ingevolge die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur verbied om by onderlinge banke te belê.

“Die Reserwebank het VBS die afgelope naweek onder kuratorskap geplaas en die VF Plus doen ʼn beroep op die kurator om vas te stel of lenings wat toegestaan is met geld wat deur onwettige beleggingsgeld bekom is, geldig is,” het Alberts gesê.

Volgens hom is VBS veral bekend daarvoor dat hy huislenings aan plattelandse kliënte en kleinsake-ondernemings verskaf het.

“Dié bank was verlede jaar ook in die kollig vanweë ʼn omstrede lening van byna R8 miljoen wat aan voormalige president Jacob Zuma toegeken is om vir sy deel van die opknappingswerk by Nkandla te betaal. “

Die VF Plus het die Nasionale Kredietreguleerder verlede jaar versoek om te ondersoek hoe so ʼn groot lening terugbetaal kon word met die salaris wat die voormalige president toe verdien het. “Die VF Plus gaan ʼn skrywe aan die kurator rig om die wettigheid van dié lening spesifiek te ondersoek.”

Alberts meen daar hang ook steeds vrae oor die besluit van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) om so ʼn groot bedrag by VBS te belê dat hy nou byna 30% van die bank besit. “Die OBK, wat staatsamptenare se pensioengeld belê, het in ʼn stadium selfs twee direkteure op VBS se direksie gehad. Die VF Plus het vandag [Dinsdag] parlementêre vrae hieroor aan die minister van finansies gerig,” meen Alberts.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Grassie ·

Die staatsdienspensioenfonds is nou ernstig op die afdraandepad. Hulle het by Eskom, die mislukte tolpadstelsel, Steinhoff en nou ook by die mislukte VBS belê – dit is in elke geval baie groot bedrae, baie miljarde rande. Ek weet nie hoe groot VBS se totale verlies is nie maar 30% daarvan is die pensioenfonds se skade. Ek vertrou ook nie Zuma se 8 miljoen rand lening nie. Was dit nie dalk net ‘n blykie van waardering in ruil waarvoor Zuma sy kaders by die pensioenfonds opdrag moes gee om miljarde rande by VBS te belê nie.
Ek dink daar lê vir ons nog ‘n paar onaangename verrassings voor oor vrotsige beleggings wat deur die pensioenfonds gemaak is.

marous ·

Waarom moet die goed eers op die lappe gebring word voor daar iets gedoen word ? Hoeveel miljoene gevalle word opsetlik weggesteek?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.