Vraestelle in Xhosa: ‘Stap in die regte rigting’

Argieffoto

Dit is ’n groot stap in die regte rigting dat matrikulante in die Oos-Kaap ook nou hul matriekvraestelle in Xhosa, hulle moedertaal, kan skryf. Só het die Afrikanerbond Sondag gesê.

Jan Bosman, hoofsekretaris van die Afrikanerbond, sê volgens dié organisasie is die skuif na Xhosa-vraestelle vir Xhosa-sprekende matrikulante deel van die motivering om die slaagsyfer te verhoog.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het in 2010 reeds erken dat swak vaardighede in Engels die grootste oorsaak vir die swak 2009 matriekuitslae is. Sy het bevestig dat die meerderheid leerders, insluitend matrikulante, in Engels moet studeer, hoewel dit nie hulle huistaal is nie en leerders wie se eerste taal nie Engels is nie, sukkel om hulself in die taal uit te druk.

Bosman sê die gedobbel met die onderrig van Suid-Afrikaanse leerders gaan egter voort met die aandrang op Engels as onderrigtaal vir nie-Engelssprekendes.

“In ’n land met 11 amptelike tale is hierdie beleid onlogies en wys matriekuitslae dat die meerderheid van leerlinge nie die mas opkom met onderrig in Engels nie,” voer Bosman aan.

Volgens Bosman het navorsing bewys dat gedwonge vreemdetaal-onderrig grootskaalse ongeletterdheid veroorsaak.

“Dr. Kathleen Heugh, ’n kenner op die gebied van moedertaalonderrig, is van mening dat die vroegtydige onderbreking van moedertaalonderrig kognitiewe en akademiese ontwikkeling onderbreek.  In lande waar daar goed opgeleide onderwysers, voldoende klaskamers en genoeg boeke is, het kinders gewoonlik tussen ses en agt jaar nodig om ’n tweede taal aan te leer voordat hulle dit as medium kan gebruik. In swakker toegeruste skole kan leerders moontlik eers in gr. 9 in staat wees om dié skuif te maak.  Swak prestasies in geletterdheid, wiskunde en wetenskap hou ook verband met vroegtydige onderbreking van die moedertaal as onderrigmedium.”

Bosman sê moedertaalonderwys is een van die belangrikste fondamente vir die bevordering en beskerming van die regte van kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskappe en ouers het die reg om die taal en medium van onderrig vir kinders te kies. “Dit is internasionaal op grond van grondige navorsing bewys en aanvaar dat moedertaalonderrig onontbeerlik vir die vorming en ontwikkeling van leerders is.”

Bosman sê dit is van kardinale belang dat die regering moet herbesin oor moedertaalonderrig vir alle Suid-Afrikaners.

“Oor en oor is bewys dat taal tot prestasie lei. Ongelukkig is hierdie beginsel versaak en is die taalprestasie van Suid-Afrika se skoolbevolking baie swak. Van die redes wat aangevoer word was juis swak onderrig en die noodsaak vir moedertaalonderrig.”

Bosman sê die Afrikanerbond dring daarop aan dat moedertaalonderrig van gr. 1 tot gr. 12 moet geskied.

“Verengelsing is nie die antwoord nie. Dit word bewys deur die swak matriekresultate. Om matriekvraestelle in ʼn moedertaal te skryf is ʼn begin, maar dit kan nie die enigste antwoord wees nie.”

Bosman sê indien die regering nie onmiddellike stappe doen om die omstandighede te skep vir die ontwikkeling en gebruik van al ons amptelike tale, soos vereis word deur die Grondwet nie, die vooruitsigte vir ons inheemse tale – en vir die toekomstige opvoeding van kinders uit die betrokke taalgroepe – uiters negatief sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Pieter ·

Maar Afrikaanse skole moet toemaak. Rasgedrewe ideologie en agenda. Ons weet lankal dat moedertaalonderrig die beste is. Afrikaans kan veral die Suid Afrikaanse natuur beter verwoord.

Deon ·

Vanaf 2009 tot nou is daar al n hele skool loopbaan se tyd verloop. Met ander woorde daar is derduisende kinders wat ontneem is van n kwaliteit skool opleiding as taal een van die maatstawwe vir kwaliteit opleiding voor gehou word. Dan kan daar ook indirek aangeneem word ons sit met n generasie wat “sub” skol opleidong het. Enige verskoning vir swak prestasie is seker maar n verskoning.

annie ·

Dis alles waar en ons kan vandag Arikaans weer gelykstel aan Engels, maar dit is makliker gesè as gedaan met swart tale waarvoor tyd nodig is om handleidings in elke eie taal op te stel en onderwysers te vind en op te lei. Terme in eie tale is meestal afwesig. Om nou skielik alles reg te wil toor is dwaas. Die leerders sal chaos beleef en nasieners die vrae en antwoordstelle asof in Mandaryns of Grieks. Te oulik. Gee almal 100% want dis die plan.

Jdb ·

Dit sou nie vir my ‘n probleem gewees het as hulle daarna self vir hul universiteitstudies moes betaal nie, maar nou word my belastinggeld gebruik om meeste hulle daar te hou vir 4 jaar, net sodat hulle daarna kan druip en geen sent terugbetaal nie.

Francois Le Cochon ·

Wat is “astro fisika” in Xhosa, as daar nie eens ‘n Khosa woord is vir “taxi” nie?

Anoniem ·

Kan ek my Engelse 2de taal vraestel van 42 jaar gelede in Afrikaans aflê asseblief?

Anel ·

Dit vat gin 8/9 jaar om nuwe taal aan te leer nie. Ek het in Afrikaans skool gegaab tot einde std 2. My pa is tie Frankryk toe verplaas. Vir 9 maande het ek en my broer 3 keer per week vir ‘n uur lank Franse lesse gekry. September, met die nuwe skooljaar us ons skool toe. Binne 2 jaar was ons altwee onder die top 10, in ons onderskeie klasse, in’ ‘n suiwer Franse skool. Geen ander taal nie. Toe middel van my matriek jaar kom ek terug na’ ‘n Afrikaanse skool maar moes std 8 en 9 eers doen omrede ek nie Afrikaanse taalkunde gehad het nie. Ek het gesukkel met wiskunde en wetenskap se termes. Ek het matriek geslaak. So ja, ek ondersteun met alles moedertaal onderrig. Maar dit vat nie so lank, vir al vir’ ‘n kund om nuwe taal aan te leer nie. Hoe jonger hoe makliker. By gesê, Engels is een van die moeilikste tale om te leer. Ek praat nog steeds Afrikaans eerste, dan Frans en miskien Engels. Ek slaan maklik nog oor na Frans as ek opgewonde raak en nie die Engels kan kry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.