Vrag dagga, mandrax by padblokkade gekry

Van die Noord-Kaapse polisie wat by die suksesvolle optrede betrokke was. Foto: SAPD

Verskeie eenhede van die Noord-Kaapse polisie het Woensdag by ʼn padblokkade tussen Upington en Olifantshoek op dagga en mandrax ter waarde van sowat R55 000 beslag gelê.

Lede van onder meer sigbare polisiëring en die honde- en veediefstaleenheid het die padblokkade op die N14 tussen 17:00 en 21:00 beman en in die loop van die aand ʼn Toyota Quantum-minibustaxi voorgekeer en deursoek.

Dit was deel van hul misdaadvoorkomingsoptrede in die vakansietyd, sê kol. Mashay Gamieldien, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder.

Die polisie het al die passasiers, wat onderweg was van Olifantshoek na Upington, laat uitklim en deursoek.

“Terwyl hulle die passasiers deursoek het,” sê Gamieldien, “het beamptes op 25 sakke dagga met ʼn geskatte straatwaarde van R25 000 en 300 mandraxtablette met ʼn straatwaarde van R30 000 in ʼn houer Kellogg’s afgekom.”

ʼn Man (46) is in hegtenis geneem. Upington se polisie ondersoek ʼn saak van dwelmhandel. Hy sal na verwagting binnekort in die plaaslike landdroshof verskyn, sê Gamieldien.

Lt.genl. Risimati Shivuri, Noord-Kaapse polisiekommissaris, het beamptes bedank vir hul paraatheid in die uitvoering van hul pligte en misdadigers gewaarsku dat die polisie geen misdaad in die provinsie sal duld nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Guve ·

Uitstekend, hou so aan, trots op jul, sluit hul toe, en gooi die sleutel weg, skuim.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.