Vragmotor, matrasse ná kaping teruggevind

Altesaam 13 matrasse is glo gesteel. (Foto: Verskaf)

Talle matrasse wat glo tydens ʼn kaping gesteel is, is kort ná die voorval teruggevind nadat polisiebeamptes daarin geslaag het om die skuldiges vas te trek.

Brig. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, sê ʼn vragmotor was Woensdag op pad om 13 matrasse in die omgewing van Eersterust in Pretoria af te lewer toe dit deur ʼn motor voorgekeer is.

“Vier gewapende mans het die vragmotor genader en die bestuurder en twee insittendes opdrag gegee om uit te klim. Twee van hulle het met die vragmotor op die vlug geslaan, terwyl die ander twee in die motor gevolg het.”

Lede van die eenheid vir misdaadvoorkoming het per toeval verby die drie gestrande kapingslagoffers gery en gehoor wat gebeur het. Hulle het dadelik begin om die gebied te fynkam vir die verdagtes.

“Die polisiebeamptes het later die gekaapte vragmotor geïdentifiseer en die verdagtes agternagesit,” sê sy.

Die twee verdagtes wat in die vragmotor was is in hegtenis geneem. Die ander twee het egter daarin geslaag om die polisie te ontduik.

Volgens Muridili het die polisie beslag gelê op ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie wat in die verdagtes se besit gevind is.

Die 13 matrasse is ook teruggevind nadat die twee verdagtes die polisie gewys het waar hulle dit afgelaai het.

Die twee mans, onderskeidelik 29 en 30 jaar oud, sal na verwagting eersdaags in die hof verskyn. Die ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

madels ·

Hulle weet nog net nie hoe lekker hulle in die tjoekie gaan slaap nie

Swerwer ·

Gednik hul gaan skotvry anderkant uitkom as hul die matrasse uitwys?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.