Vragmotor ploeg deur ongelukstoneel; vlug glo met ambulans

Rescue Care-vloot (Foto: Facebook)

Rescue Care-vloot (Foto: Facebook)

ʼn Vragmotorbestuurder het Saterdagaand deur ʼn ongelukstoneel in Durban geploeg en vermoedelik ʼn insleepvoertuigbestuurder doodgery voordat hy ʼn ambulans gesteel en toe van die toneel gevlug het.

Die voortvlugtige vragmotorbestuurder was daarna in ʼn hoëspoedongeluk met die ambulans. Polisiebeamptes wat die ongeluk ondersoek het, het hom in hegtenis geneem.

Garrith Jamieson, woordvoerder van Rescue Care, het gesê paramedici het op die toneel bygestaan ná ʼn ongeluk Saterdagaand omstreeks 21:00 op die M7 in ʼn westelike rigting net voor die kruising met Wakesleighweg. Niemand is in dié ongeluk beseer nie.

“Net toe die ambulans van die toneel wou wegry, het hulle gesien hoe ʼn vragmotor deur die ongelukstoneel ploeg, die pad verlaat en uiteindelik teen ʼn wal tot stilstand kom,” het Jamieson gesê. “Paramedici het na die toneel gehaas waar ʼn werknemer van ʼn insleepdiens kritiek beseer is. Hy het noodlottige beserings opgedoen en paramedici het tevergeefs probeer om hom by te bring. Hy is op die toneel dood verklaar.”

Terwyl die paramedici die insleepvoertuigbestuurder se lewe probeer red het, het die vragmotorbestuurder glo in die ambulans gespring en weggejaag. “Omstanders het die ambulans agternagesit tot die ambulans op die hoek van Umbiloweg en Deodarlaan in ʼn hoëspoedongeluk betrokke was,” het Jamieson bygevoeg. Die polisie het die vragmotorbestuurder in hegtenis geneem. Die persoon in die ander motor is vir beserings behandel.

“Ons almal by Rescue Care betuig ons meegevoel aan die familie, vriende en kollegas van die man wat gesterf het terwyl hy ander probeer help het,” het Jamieson gesê. “In verband met die diefstal van die ambulans laat ons die ondersoek in die hande van die polisie en sal hulle bystaan op enige moontlik manier.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.