Vragmotor, voertuie in Noordwes uitgebrand

‘n Vragmotor en verskeie voertuie is by die ingang na die Nkaneng-informele nedersetting naby Rustenburg uitgebrand in’n diensleweringsprotes. (Foto: ANA)

Die polisie in Noordwes het Vrydag die D108 by die ingang tot ʼn informele nedersetting gesluit nadat klippe oor die pad geplaas en verskeie voertuie en ʼn vragmotor daar aan die brand gesteek is. Die pad verbind Rustenburg met Marikana.

Sers. Ofentse Mokgadi, polisiewoordvoerder, het gesê nog niemand is in hegtenis geneem sedert die protes oor die verskaffing van elektrisiteit aan die Nkaneng- informele nedersetting in Photsaneng naby Rustenburg ʼn paar weke gelede al begin het nie.

“Die betoging vlam sporadies op,” het Mokgadi gesê.

“Dit vind nie op ʼn spesifieke dag of tyd plaas nie. Hulle versper die pad en vlug dan in die bosse of hutte in.”

Inwoners van die Nkaneng-informele nedersetting naby Rustenburg eis toegang tot elektrisiteit. (Foto: ANA)

Verlede maand het inwoners onderneem dat die betogings gaan voortduur tot hulle elektrisiteit het.

Betogings het in Augustus begin nadat inwoners geld ingesamel het sodat die gebied geëlektrifiseer kan word.

Hulle het pale en kabels gekoop en elektrisiteit van die nabygeleë Sibanye-myn daarheen herlei, maar veiligheidsbeamptes van die myn het die kabels ontkoppel en betrokkenes aan die Rustenburg-polisie oorhandig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Kootjie ·

As almal in die omgewing krag en ligte het? Hoekom dan nie daardie ouens nie!! Dis onregverdig en hulle sal daarteen skop!

Werner ·

Nou Kootjie betaal solank vir die eerste 1000 huise se krag dan hou jy hulle gelukkig

Mariana ·

Dit is nie genoeg rede om alles tot stilstand te bring nie. Hierdie mense tree op soos kriminele en verwag dan dat hulle als kry wat hulle wil hê…….soos stout kinders wat vloermoere gooi oor hulle nie hulle sin kan kry nie.

Stel ·

Kyk wat staan op die plakkaat. Hoe slim kan mens nou wees? Jy het gestem, nou wil jy kla en afbrand!!! Net jul eie skuld

Belegger ·

Goeie advertensie om oorsese beleggings te lok, almal gaan oor hul voete val om geld hier te kom bele!

KO ·

Hoe kan n mens ouers kwaalik neem wat immigreer vir n beter toekoms vir hulle kinders.

Petrus Heigers ·

Mokgadi wat het die polisie gedoen om die protes aksie te beheer en te stop. Waarom het ons ‘n polisie as hulle onbevoeg is sulke tipe optrede te stop

Christine ·

ek wil ook graag verniet elektrisiteit he maar ongelukkig moet ek daarvoor betaal.

Klakous ·

Daar is ligpunte! 1 . Die mense het pale en drade gekoop! 2. Die mense…. , ai daar loop ek uit ligpunte! Die land is nie in chaos nie, dis onder in ‘n afvalput! Dankie, ANC, julle doen uitstekende werk. Cyril, jy het so vinnig en so maklik multimiljoenêr geword, hoekom sukkel jy so met die land se ekonomie?

Susan ·

Om by die berig aan te sluit volgens inwoners van Zandspruit informal settlement betaal hulle huur en vir elektrisiteit wat onwettig aan kragpunte gekoppel is. My vraag is wie ontvang die huurgeld en vir elektrisiteit? En aan wie word dit betaal?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.