Vragmotors glo met petrolbomme bestook

‘n Skermskoot van ‘n video waarin een van die vragmotors in vlamme gehul is. (Foto: ANA)

Die polisie in Paterson in die Oos-Kaap ondersoek ’n saak van kwaadwillige saakbeskadiging nadat twee vragmotors Dinsdag in die vroeë oggendure buite dié dorp aan die brand gesteek is.

Volgens kapt. André Beetge, woordvoerder van die polisie, is die vragmotors omstreeks 02:00 op die N10 sowat 11 km buite Paterson vermoedelik met petrolbomme bestook.

Die vragmotors behoort aan ʼn Vrystaatse maatskappy en was onderweg na dié provinsie toe die voorval plaasgevind het.

Die bestuurders van die vragmotors, onderskeidelik 29 en 44 jaar oud, het van die pad afgetrek om te slaap en het wakker geskrik toe die kajuite se vensters stukkend gegooi is.

Die bestuurders is ongedeerd na die voorval, het Beetge gesê. Hoewel nie een van die vragmotors ʼn vrag ten tyde van die aanval gehad het nie, beloop die skade sowat R3 miljoen.

Volgens Beetge is drie tot vyf gemaskerde verdagtes op die toneel gewaar toe hulle in ʼn wegkommotor op die vlug geslaan het.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die motief vir die aanval is in die stadium onduidelik, het Beetge gesê.

Maroela Media het vroeër berig ʼn vragmotorbestuurder het vroeër vandeesmaand gesterf nadat hy in ʼn soortgelyke aanval op die N1 buite Touwsrivier in die Wes-Kaap beseer is.

Bernard Groenewald (50) het brandwonde oor 60% tot 70% van sy liggaam opgedoen toe boosdoeners in die vroeë oggendure ʼn petrolbom deur die venster van die vragmotor langs die pad waarin hy gerus het, gegooi het. Hy het later in die hospitaal aan sy beserings beswyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Johan ·

Die wette sal DRASTIES verskerp moet word. Hierdie aanvallers (petrol bom en klip- gooiers) is potensiële moordenaars. Uiters swaar strawwe sal die aanvalle verminder.

marco polo ·

Kwaadwillige saakbeskadiging se jy weet wat. Wat van poging tot moord?

Risa ·

‘n Lewe is absoluut nix werd in Sui-Afrika nie, en dit is net ‘n sekere groep mense wat so afbreek en uitwis!!! Wat wil hulle he of bereik ??

Skoolgeld ·

3 mil Rand ? Probeer weer die voorste waens is ook vrot gebrand. En dit word nie deur jou versekering gedek nie maar SASRIA wat onder terrorisme val en teen die tyd dat hulle jou saak afgehandel het is jy so vêr agter met paaiemente jy kan liefs bankrot speel! Hierdie het nou nuutste sport in SA geword.

Santjie ·

Ek kan maar nog steeds net my kop skud. Ek het altyd soveel hoop en geloof in die mense hier in SA, net om telkens weer met stomheid geslaan te word. Ek sou maar liewer die trok bestuurders aanbeveel om by die oornag stoppe te stop of selfs maar indien moontlik by polisiestasies. Hierdie “kwajongens” dink dis nou vreeslik oulik en braaf en het te min verstand om anders te dink

Piet ·

Ai Ben, jy ken duidelik nie die vervoerbedryf nie.
As al die vragmotorbestuurders elke nag by sy huis geslaap het, was al die winkelrakke leeg!

piet skiet ·

die tyd het gekom om te begin terugbaklei . hulle kom vir ons, wat gaan jy doen om jouself en jou familie te beskerm???!
haal jou kop uit die grond wit man.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.