Vragmotors in Mpumalanga geteiken

(Foto: SA Polisie)

Die polisie in Mpumalanga is op soek na verdagtes wat ʼn vragmotor naby Bethal aan die brand gesteek, die bestuurder geskiet en die sleutels van twee ander vragmotors gesteel het. Dit het tydens drie afsonderlike voorvalle Maandag naby Bethal plaasgevind.

Brig. Leonard Hlathi, die waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het gesê in die eerste voorval het die bestuurder gesê hy was op die pad tussen Standerton en Morgenzon toe hy besluit het om langs die pad stil te hou om bietjie te rus. “ʼn Kort rukkie later het hy ʼn geluid buite gehoor. Hy het deur die venster gekyk en sien hoe ʼn man brandstof oor die vragmotor uitgooi. Die verdagte het daarna die vragmotor aan die brand gesteek en die bestuurder geskiet en gewond toe hy uit die vragmotor wou vlug. Die verdagte het met ʼn wit voertuig weggekom.”

Die saak is by die polisie aangemeld en ʼn saak van opsetlike saakbeskadiging en poging tot moord is aanhangig gemaak. Die bestuurder van die vragmotor is na ʼn hospitaal geneem waar hy behandeling ontvang.

In ʼn afsonderlike voorval is ʼn 35-jarige vragmotorbestuurder deur drie onbekende mans voorgekeer. Hulle het met ʼn wit Toyota Hilux gery. “Die slagoffer voer aan hy was Maandag aan diens en het van die depot af weggery toe die mans hom voorgekeer het. Een van hulle het hom genader en die sleutels van die vragmotor geëis. Hy het die sleutels oorhandig en hulle het met die sleutels weggery. Hulle het die vragmotor agtergelaat sonder enige skade,” het Hlathi bygevoeg.

In ʼn soortgelyke voorval is ʼn afleweringsvragmotor na bewering op die N17 naby Bethal gekaap. “Volgens inligting was die vragmotor van Piet Retief op pad en twee verdagtes, wat in ʼn silwerkleurige Volvo gery het, het die bestuurder voorgekeer. Volgens die bestuurder het die verdagtes die sleutels van die vragmotor geëis. Hulle het daarna met die sleutels weggery en hom by die vragmotor agtergelaat.”

Enigiemand met inligting wat die polisie kan help om die verdagtes aan te keer, word gemaan om met kapt. Jungle Mokoena kontak te maak by 082 579 0177.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Tiptol ·

Sit dash cams in die trokke. Die trok kan mos die motor wat hom wil stop uit die pad stoot.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.