ʼn Jong vragskipmatroos wat ’n hartaanval gehad en deur die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) na Oos-Londen gebring is vir mediese hulp, is in ’n stabiele toestand in die St. Dominic Hospitaal in dié stad, het die NSRI vandag gesê.
Die 24-jarige matroos het aan boord van die Yasa Emirhan, ’n vragskip wat van Gabon oppad was na Singapoer, onverwags ’n hartaanval gehad. Die skip het vanmiddag omstreeks 12:40 ’n noodsein oor die mediese krisis aan boord na die Suid-Afrikaanse maritieme reddingskoördineringsentrum gestuur.
Die vragskip het dadelik koers gekies in die rigting van Oos-Londen en die NSRI het die skip nagenoeg agt seemyl van Oos-Londen af ontmoet om die matroos te help stabiliseer.