Die burgerregteorganisasie AfriForum sê die eerste vragmotors met vragte bokse vol benodighede vir boere is vandag onderweg na die Vrystaat waar minstens 100 000 hektaar se weiding onlangs in die omgewing van Dealesville, Hoopstad, Bultfontein, Warrenton en Boshof afgebrand het.
Dié bokse sal met hul aankoms deur plaaslike landbouorganisasies versprei word aan boere wat deur die verwoestende veldbrande getref is.
Henk Maree, koördineerder van AfriForum se Boks vir ʼn Boer-projek, sê lede van die publiek het die afgelope week duisende bokse met blikkieskos, langlewemelk, toiletware, suiker, meel, koffie, tee, beskuit en medisyne by AfriForum se hoofkantoor in Centurion afgelaai.
Vrydag was die laaste dag waarop bokse afgelaai kon word. Volgens Maree is meer as genoeg kosskenkings ontvang om in die boere se huidige behoeftes te voorsien.
“Die reaksie op AfriForum se versoek vir hulp aan die boere is oorweldigend. Baie dankie aan elke persoon, maatskappy en instansie wat hul harte en beursies oopgemaak het om boere te ondersteun wat byna alles in die brande verloor het. Dit is skenkings deur die publiek wat ons in staat stel het om boere te kan help.”
AfriForum het reeds meer as R4,5 miljoen in samewerking met ander organisasies soos Agri NW, Vrystaat Landbou, Caring Daisies, Gift of the Givers, Saai, die Solidariteit Helpende Hand, TLU Noordwes, Vuilskapie, Boeredroogtehulp SA, Save the Sheep, Droogte Hulp en Boere in Nood ingesamel.
Maroela Media het vroeër berig dié fondse sal aangewend word om boere in nood te ondersteun. Honderde ton voer is ook reeds gestuur of word tans afgelewer.
“Ná die verwoesting wat die brande daar veroorsaak het, kan ’n mens nie anders nie as om alles in jou vermoë te doen om hulle te help. Die skade is onbeskryflik groot,” sê Maree.
- (Foto: Verskaf)
- (Foto: Reint Dykema)
- (Foto: Reint Dykema)
- (Foto: Reint Dykema)
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
11 Kommentare
Dis mos nou waarop Afriforum hulle geld moet uitgee, op hulle eintlike belangegroep.
Vergeet nou eers die prestige en die “limelight” van die moord op ‘n sokkerspeler en van ‘n beweerde staatsgreeppoging in Botswana. Konsentreer NET op dit wat ons eie mense regtig raak. Betrokkenheid by sake wat NIKS met Afriforum se eintlike belangegroep te doen het nie, help ons eie mense wat reeds so swaarkry absoluut niks
Wonderlik, Afriforum, Agri NW, Vrystaat Landbou, Caring Daisies, Gift of the Givers, Saai, die Solidariteit Helpende Hand, TLU Noordwes, Vuilskapie, Boeredroogtehulp SA, Save the Sheep, Droogte Hulp en Boere in Nood….. en alle ander skengkings….. God seën….
Dankie
Dankie aan elke person en instansies wat bygedra het tot hierdie suksesverhaal.Hierdie boere is in die situasie a g v lafaards wat hulle plase aan die brand gesteek het.Mag God hierdie boere laat opstaan en onderskraag sodat hulle weer op hulle voete kan staan en sé ons is daar deur.Mag Hy die hemelsluise oopmaak en hierdie boere seën met goeie reën.
Gelukkig weet mens hierdie hulp sal die regte mense bereik want daar is nie Staats Amptenare betrokke nie.