Vrede-man sterf ná aanval; huis in brand verwoes

Burgers is Sondag omstreeks 09:00 in die hospitaal aan sy kopwonde oorlede (Foto: Henk Burgers, Facebook)

’n Man van Vrede in die Vrystaat is in die hospitaal dood nadat aanvallers hom Sondag in sy huis oorval en sy huis aan die brand gesteek het. Henk Burgers (62) is Sondag net ná 02:00 deur ’n onbekende aantal aanvallers in sy huis oorval en met ’n mes aangerand.

Die aanvallers het sy huis aan die brand gesteek voordat hulle gevlug het.

Die huis het tot op die grond afgebrand, maar Burgers se buurman kon hom net betyds uit die brandende huis red.

Dana Kruger, ondervoorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in Vrede, sê hulle het omstreeks 02:30 ’n boodskap op die veiligheidsgroep ontvang dat Burgers se huis brand. Lede van die GPF is na die huis om te help om die brand te blus.

“Ons wou waterspuite by die munisipaliteit se waterwerke volmaak, maar dié se hek was gesluit. Ons kon ook nie die persoon wat die hek moes oopsluit in die hande kry nie,” vertel Kruger aan Maroela Media.

Burgers se buurman het hom toe reeds uit die huis gered.

Burgers se huis het tot die grond afgebrand (Foto: Verskaf)

“Volgens berigte het Burgers se buurman wakker geword van sy eie hond se geblaf,” sê Kruger. “Hy het by die venster uitgekyk en gesien Burgers se huis brand. Hy het oor die muur gespring en Burgers uit die brandende huis gered.”

Kruger sê ’n ambulans het Burgers omstreeks 03:00 hospitaal toe geneem. Hy het verskeie steek- en kopwonde opgedoen en was glo in ’n bedenklike toestand.

“Burgers is Sondag omstreeks 09:00 in die hospitaal aan sy kopwonde oorlede.”

Doreen Wessels, DA-raadslid van die Phumelela-munisipaliteit in die Vrystaat, sê Burgers se huis het afgebrand omdat die brandweer nie betyds opgedaag het nie en omdat die waterwerke se hek gesluit was.

“Ek het omstreeks 03:06 ’n oproep oor die brandende huis ontvang en ons munisipale bestuurder gebel om die brandweer te ontbied. Die brandweer is meer as een keer gebel, maar hulle het nooit opgedaag nie,” vertel Wessels.

Maroela Media het ’n navraag oor die voorval aan die polisie gerig, maar wag nog vir terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

E ·

Nou is alle bewyese van wie die aanvallers was ook weg. So hartseer.

Rudolf ·

Hulle wil. Maar hulle gaan dit nie regkry nie. Almal moet saamstaan en beswaar aanteken. Moenie wag dat iemand anders dit vir jou doen nie.

Toy ·

Die brandweer se mense het seker dalk gesit en slaap. Dit is hartseer, een man en hulle kom in ‘n groep om een man aan te val.

Misky ·

Gaan iemand verantwoordelik gehou word vir die nalatigheid? Ons betaal belasting vir basiese dienste en kry absoluut niks nie. En dis alle dienste waarna ek verwys. Van die brandweer, polisie, staatsklinieke tot by die ongeskikte vrou agter die toonbank by munisipaliteit of selfs binnelandse sake. Absoluut niks werk meer nie!!!!

Nie Verbaas ·

Die president is in geheel verantwoordelik vir die welstand van ons land en burgers. Kla hom aan. Dit is as gevolg van sy party dat die land tot so n mate verval het.

Annamarie ·

Die “curfew” is van 21h00 tot 04h00. Nou is dit nog langer, vir meer roof en moord!!

Wikkelwillie ·

Die moordenaars het seker nie TV of radio nie. Wat maak hulle 02:00 op straat!?

Marius Gerhardus ·

Daai persoon is dood reg. Ons betaal vir diens te….. En brandweer daag nie op nie. Wie weet dalk gesit en slaap? Het my geld viri kussing of die kombers betaal? En ja die gebeur gaan weereens onner die mat in gevee word sal niks van kom nie.

Suzette ·

Hierdie land is ‘n oorlogsone – kan nie sien hoe dit gaan verander nie – alles gaan ten gronde en die sprinkane los niks agter nie……

Ian ·

En so het alles tot n verval geraak waar geen raadslid of munisipale bestuurder n flenter omgee nie solank hulle net daai onverdiende groot salaris kry. Daar is nie meer so iets soos trots in n munisipaliteit brandweer of ambulaans dienste nie. Ons is nou uitgelewer aan onsself.

Thelsa ·

Wanneer maak ons ons stem dik en skree : ‘Genoeg is genoeg!! Ons het nou die wêreld se aandag nodig op hierdie sinnelose vergrype en wetteloosheid.

Die Boerepompie ·

Hulle n man van 62 jaar gedood deer mese te gebruik gaan hulle die ook weg vat .Hou lank nog sal die soord ding aan hou vaar dat mense gaan op staan en se genog is genog

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.