Vrede-plaasaanval: ‘ʼn Wonderwerk dat egpaar oorleef’

Die Kritzinger-egpaar (middel) saam met hul twee kinders, dié se gades en hul vier kleinkinders. Foto: Verskaf

Die Kritzinger-egpaar (middel) saam met hul twee kinders, dié se gades en hul vier kleinkinders. Foto: Verskaf

Johannes (70) en Rita (68) Kritzinger van Vrede in die Vrystaat, wat 16 dae gelede ná kerk in hul plaashuis aangeval, beroof en geskiet is, toon goeie tekens van beterskap.

Ds. Ruan Combrink, wat namens die Kritzinger-familie kommentaar lewer, het Dinsdag gesê Johannes se voedingsbuis is al verwyder en hy het al begin praat en vaste kos eet.

“Hy herstel goed en sy infeksietelling wat in ʼn stadium hoog was, is ook weer onder beheer,” het Combrink gesê.

Hy het gesê Rita vorder ook goed en lees al tydskrifte en gesels lekker met haar besoekers.

“Daar is sprake daarvan dat hulle binnekort met rehabilitasie kan begin, maar dit is tans nie bekend wat presies dit sal behels nie. Albei is steeds in die waakeenheid. Hulle ontvang steeds pynmedikasie en hoewel hul frustrasie ervaar met hul omstandighede, toon hulle wel verbetering en is daar die vooruitsig dat hulle binnekort na ‘n gewone saal kan skuif.”

Volgens Combrink neem die familie sake tans dag vir dag aangesien die egpaar soms beter, maar by tye ook weer swakker, voorkom.

“Dit bly ‘n saak van gebed vir herstel en dank vir die wonderbaarlike genade wat reeds ervaar is. Menslik gesproke is dit ondenkbaar dat vandag van herstel gepraat kan word as mens na die erns en omvang van die beserings kyk. Om die Here se hand nie hierin te sien nie is om daarvoor blind te wees,” het hy beklemtoon.

Maroela Media het vroeër berig twee verdagtes het die egpaar op 12 Julie in hul huis op hul plaas, Brakdam, ingewag. Die verdagtes het op hulle losgebrand toe hulle in die huis ingestap het. Albei is gewond. Rita is ook geslaan en vasgebind.

Die verdagtes het aangedring op die sleutels van die kluis, maar op die vlug geslaan toe Johannes dit kon regkry om by die noodknoppie uit te kom, wat ook die alarm in die huis laat afgaan wanneer dit geaktiveer word. Rita kon die eerste mense op die toneel inlig dat sy wel een aanvaller as ʼn voormalige werknemer herken het.

Die verdagtes het van die toneel gevlug met ʼn vuurwapen, ʼn selfoon en ʼn onbekende hoeveelheid kontant.

Die polisie het saam met boere van die omgewing gewerk en die twee verdagtes, Paul May Zulu (39) en ʼn 30-jarige man, is kort daarna in hegtenis geneem.

Die egpaar is in ʼn kritieke toestand na die Unie-hospitaal in Alberton geneem.

Johannes is vier keer met ʼn .38 Special-rewolwer geskiet. Twee koeëls het sy kop getref. Een koeël het sy kopbeen getref en weggeskram. Die ander het tussen sy breinvlies en skedel vasgesit. Dié koeël asook ʼn koeël in sy bors en een in sy buik, is verwyder.

Rita is glo drie keer met dieselfde rewolwer geskiet. Die koeël in haar voorkop is verwyder en tydens dié operasie het dokters gesien daar is ook ʼn koeël wat agter haar oor vassit. Dokters het egter besluit om nog nie dié koeël te verwyder nie aangesien hulle meen dit kan gevaarlik wees om dit te verwyder. Sy is ook in die bors geskiet, maar die koeël het nie vasgesit nie.

Die twee verdagtes het intussen in die Vrede-landdroshof verskyn. Een beskuldigde het borgtog van die hand gewys en die ander sal na verwagting op 3 Augustus ʼn aansoek bring.

“Baie lede van die gemeenskap het die verdagtes se hofverskyning bygewoon en hul ondersteuning aan die familie getoon,” het Combrink bygevoeg.

“Die familie is verlig dat albei beskuldigdes ten minste tot dan in aanhouding sal bly. Hulle sal die gereg sy verloop laat neem, maar is ook ernstig daaroor dat daar nie verder stilgebly kan word oor toenemende verskynsel van blatante en wreedaardige aanvalle op blankes en veral boere nie. Die familie voel sterk dat om polities korrek te probeer wees en te ontken dat die aanvalle rasgemotiveerd is, nie die probleem gaan oplos nie.”

Combrink het gesê die familie is die afgelope twee weke oorweldig met boodskappe en oproepe en is diep geraak en opreg dankbaar vir elkeen se ondersteuning en gebede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

CHRISTA ·

Ek hoop en bid dat hulle net sal verbeter en uiteindelik volkome herstel!!!

HendrikJ ·

“Om die Here se hand nie hierin te sien nie is om daarvoor blind ye wees” Sonder twyfel baie waar woorde!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.