Vrede-suiwelplaas: Departement wil begunstigde-aansoek teenstaan

‘n Argieffoto van die omstrede Vrede-suiwelplaas (Foto verskaf deur die DA)

William Bulwane, die Vrystaatse LUR vir landbou en landelike ontwikkeling, en sy departement, het ʼn beëdigde verklaring by die Bloemfonteinse hooggeregshof ingedien dat hulle die DA se aansoek, om geregtigheid vir 80 begunstigdes van die Vrede-suiwelplaasprojek te bekom, gaan teenstaan.

Die Demokratiese Alliansie het op 10 Oktober 2020 ʼn aansoek by die hooggeregshof ingedien om die LUR en sy departement te dwing om die begunstigdes van die projek te verifieer en in te sluit.

Roy Jankielsohn, leier van die DA in die Vrystaat, het gesê ná daar aanvanklik R380 miljoen aan die Gupta-gekoppelde Estina-maatskappy oorbetaal is om die projek van stapel te stuur, belê die departement jaarliks steeds R20 miljoen in die projek.

“Ná agt jaar en ʼn kontrak wat ʼn 51%-aandeel aan hulle toeken, word die begunstigdes egter steeds uitgesluit. Geen projek met só groot finansiële belegging kan sonder begunstigdes bestaan nie. Die begunstigdes is, en word steeds, mishandel as ʼn voorwendsel om ʼn projek te finansier wat reusagtige verliese ly en geen voordeel inhou vir die plaaslike gemeenskap of die provinsie nie,” het Jankielsohn bygevoeg.

“Alhoewel sommige beamptes en ander individue reeds van korrupsie aangekla is oor die plundering, sal die DA volhou om seker te maak die politieke argitekte van die projek word aanspreeklik gehou. Dit is ʼn ernstige aanklag op die LUR en die departement dat hulle die DA se hofaansoek wil teenstaan om die begunstigdes by te staan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Coolbanana

Ek dink Carte Blanche moet maar weer gaan kyk wat daar aangaan..

Pieter

Ja D.A gaan kyk vir wie stem daai mense van wie julle praat. Hulle sal nooit verander nie gaan in zimbabwe ook so. Hulle sal sterf van die honger maar hulle stem weer vir ZANU PF.

Tanniepetoors

Daar is net niks omtrent die Vrede Suiwelprojek wat sin maak nie. Dit word teen n verlies bedryf, die regering pomp R20m/j daarin, maar die 80 veronderstelde begunstigdes is nog nie in die prentjie nie. Hoe op aarde regverdig enigiemand dit?

Androclus

Vrede-suiwelplaas:Ace Magashule se pa se plaas.

Regverdigheid

Ja nee Cart Blanch slaan daar uit aseblief?