Vrede-suiwelprojek: Beskuldigdes terug in hof

Sewe van die agt beskuldigdes in die hof. Foto: Matthews Baloyi/ANA

Die Bloemfontein-landdroshof het Dinsdag besluit dat die bedrogsaak wat verband hou met die Estina-suiwelplaasprojek in Vrede nié van die hofrol geskrap sal word nie, maar eerder uitgestel sal word vir verdere ondersoek.

Landdros Collin Nenkosi het beveel dat die staat sy ondersoek na die saak moet afhandel en die beskuldigdes teen einde November van die finale dossier moet voorsien.

Die staat beweer agt verdagtes het saamgesweer om R220 miljoen vanaf die Vrystaatse departement van landbou na die Gupta-familie te herlei in ʼn beweerde bedrogskema wat die staat meen ontwerp is om geld by die regering te steel.

Daar word ook beweer 100 opkomende boere wat veronderstel was om voordeel uit die projek te trek is hulpeloos gelaat.

Nazeem Howa in die hof. Foto: Matthews Baloyi/ANA

Die beskuldigdes, wat almal op borgtog van tussen R100 000 en R200 000 uit is, sluit in Mbana Peter Thabethe, hoof van die Vrystaatse departement van landbou; Sylvia Seipate Dlamini, die finansiële hoof van die departement; dr. Takisi Janki Masiteng, voormalige algemene bestuurder van distriksdienste in die departement; Ashu Chawla, voormalige uitvoerende hoof van Oakbay; Nazeem Howa, voormalige direkteur van Oakbay; Varun Gupta, nog ʼn voormalige direkteur van Oakbay; Ronica Ragavan, direkteur van Tegeta Resources; en Kamal Vasram.

Die beskuldigdes staan tereg op ʼn reeks aanklagte, waaronder korrupsie, diefstal, bedrog, sameswering om bedrog te pleeg en oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur.

Al agt beskuldigdes se borgtog is verleng en hul borgtogvoorwaardes is verslap. Hulle hoef nou slegs een keer ʼn maand by die polisie aan te meld tot hul volgende hofverskyning op 4 Desember. Hulle hoef ook net die ondersoekbeampte in kennis te stel van hul oorsese reisplanne.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Irma ·

Was Duduzani Zuma nie ook veronderstel om saam met die ander in die beskuldigde bank te sit nie? Hy het mos toestemming gekry om na sy swanger vrou in Dubai te gaan, en sou terugkom vir hofsake. Nog een van die glibberiges wat almal velieg en bedrieg.

Lerato ·

Hoekom is hulle paspoorte nie geneem nie?

Sal hulle teen Desember in die land wees of in Dubai?

Alida ·

Wie se hul paspoorte is nie ingeneem nie? Mense moet ophou om hul eie gevolgtrekkings te maak.

marous ·

gaan die land ooit tee kan bied aan die komissie ampenarre ….sekerlik nie van SAPEKOE in Tzaneen wat eens die grootste enkel teeplantasie in die wereld was , en nou oortrek is met indringerplante nie!

Sarel ·

” in kennis stel van oorsese reisplanne” ? Ghoebaai Meraai!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.