Vrede-suiwelprojek: Klagte teen 8 eers laat vaar

Advokaat Glynnis Breytenbach. Foto: Werner Beukes/Sapa

Die DA het gesê dit sal ʼn misdaad teen die begunstigdes wees om diegene wat by korrupsie rakende die Estina-suiwelplaasprojek geïmpliseer is, te laat wegkom.

Glynnis Breytenbach, die DA se skaduminister van justisie, het gesê die party het kennis geneem van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se besluit om die saak teen die beskuldigdes voorlopig terug te trek maar gesê die redes daarvoor is swak en onoortuigend.

Die NVG het vroeër bevestig dat klagtes teen die agt beskuldigdes in die saak volgende week voorlopig teruggetrek gaan word aangesien die ondersoek nog nie gefinaliseer kon word nie. Volgens die NVG het dit nog nie inligting ontvang oor die wedersydse regshulpversoeke wat aan Indië en die Verenigde Arabiese Emirate gemaak is nie.

Die Bloemfonteinse landdroshof het die staat tydens die beskuldigdes se vorige hofverskyning versoek om die verdediging teen 30 November van die finale dossier te voorsien maar volgens die NVG sal dit nie gedoen kan word nie en moet die aanklagte dus voorlopig teruggetrek word.

Volgens Breytenbach sal die DA die saak met die nasionale direkteur van openbare vervolging opneem. “Die NVG het geen forensiese rekeningkundige hoedanigheid nie en het dit nog nooit gehad nie. Hierdie funksie is nog altyd aan private maatskappye, deur die SAPD, uitgekontrakteer.

“Dit is ’n funksie van die SAPD. Staatskaping is ’n misdaad wat gepleeg word teen die mense van Suid-Afrika. Die Estina-saak is ’n besonder goeie voorbeeld van die impak wat hierdie verskynsel op die mees kwesbare lede van ons samelewing het.”

Sewe van die agt beskuldigdes in die hof. Foto: Matthews Baloyi/ANA

Die agt beskuldigdes wat in hegtenis geneem is in verband met die saak, is deur die staat daarvan beskuldig dat hulle saamgesweer het om R220 miljoen vanaf die Vrystaatse departement van landbou na die Gupta-familie te herlei in ʼn beweerde bedrogskema wat die staat meen ontwerp is om geld by die regering te steel. Dit word ook beweer 100 opkomende boere wat veronderstel was om voordeel uit die projek te trek, is hulpeloos gelaat.

“Die Gupta-familie en hul vennote sit steeds in die ANC se parlementêre banke en het in dié geval letterlik van die armes gesteel om dit aan die rykes te gee en die sakke van diegene wat politiese bande met die ANC het te vul,” het Breytenbach gesê.

“Om diegene wat geïmpliseer word daarmee te laat wegkom sal nog ʼn groter misdaad wees. Dit sal die boodskap uitstuur dat Suid-Afrika die land is waar daar geen verantwoordbaarheid is vir die politieke elite en die met mag nie.”

Die beskuldigdes, wat almal op borgtog van tussen R100 000 en R200 000 uit is, sluit in Mbana Peter Thabethe, hoof van die Vrystaatse departement van landbou; Sylvia Seipate Dlamini, die finansiële hoof van die departement; dr. Takisi Janki Masiteng, voormalige algemene bestuurder van distriksdienste in die departement; Ashu Chawla, voormalige uitvoerende hoof van Oakbay; Nazeem Howa, voormalige direkteur van Oakbay; Varun Gupta, nog ʼn voormalige direkteur van Oakbay; Ronica Ragavan, direkteur van Tegeta Resources; en Kamal Vasram.

Hulle het op 21 Augustus die laaste keer in die hof verskyn en moet weer op 4 Desember in die hof wees wanneer die saak voorlopig teruggetrek sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

B-man ·

Doen net iets, NVG! Vervolg die wat in die land is solank, die wiel kan dan later draai vir die res. Vervolg solank nasionaal en met gesag! Dis tog in julle naam!

Johan ·

Lyk my ons gaan moet VREDE maak met die feit dat die NVG nie regtig die ruggraat en wil het om hierdie Vrede saak te hanteer nie. Te veel groot name wat ter sake is.

Dries du Toit ·

Ons besef nie die omvang van hierdie verskriklike aanslag op SA en sy mense nie. Die hele regering en NGO sit vrot van die staatskapers. Hulle werk nog onverpoost voort. Hulle grootste sukses sover is om hierdie vervolging so te sloer dat dit uiteindelik net vergete gelaat gaan word

Andre ·

Die SAP het n Handelsmisdaad eenheid gehad met bevoegde lede en die howe n hof waar Handelsmisdaad oortreders aangekla was deur n bevoegde aanklaer en verhoor was.

Karolis ·

Al hierdie sake wat skakelings het met die gupta/zuma faksie gaan in stilte verdwyn.

Hanna Hoekom ·

Sad but true. Hier gaan dadels van kom. Guptas en Zumas is verhewe bo die wet!

Elize C ·

Iewers mis ek al weer iets….. ander sake kan keer op keer op keer uitgestel word omdat die verdediging of staat nog nie reg is met hul dossier nie, of die prokureur onttrek het op die nippertjie, of waste twak verskonings ookal…… hoekom word hierdie saak nie ook net weer uitgestel nie, al is dit nou met 6 maande? So bly dit minstens op die rol. Nou word die klagtes eenvoudig net teruggetrek en die saak vir alle praktiese doeleindes laat vaar?? Iewers is iemand al weer te bang om daadwerklik op te tree ….

JB ·

Niks gaan ooit met hierdie mense gebeur nie. Hulle is almal kop in een met mekaar. Korrupsie korrupsie op alle vlakke.

Philip ·

Ek is nie verbaas nie want ons regstelsel sit met onbevoegde regters, aanklaers ens. Siek en welkom in Afrika. Almal het ‘n vinger in die pie en is opgeeet deur die regerende party

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.