Vrede-suiwelprojek: NVG-baas ontken ondersoek sloer

Shaun Abrahams Woensdag voor die die parlementêre portefeuljekomitees. Foto: Chantall Presence / ANA

Adv. Shaun Abrahams, nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV), het Woensdag ontken dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) sy ondersoek na staatskaping en die plundering van staatshulpbronne vertraag het.

Twee parlementêre portefeuljekomitees hou vandeesweek ʼn spesiale sitting om ondersoek in te stel na bewerings dat die NVG die inhegtenisnemings van verdagtes in die omstrede Vrede-suiwelplaasprojek uitgestel het.

Abrahams het die parlementêre portefeuljekomitees oor justisie en korrektiewe dienste én polisie toegespreek oor aantygings wat lt.genl. Yolisa Mtakata, waarnemende hoof van die Valke, verlede week aan LP’s gemaak het.

Volgens Mtakata het die Valke na bewering al sy ondersoek aangaande die Vrede-suiwelprojek in November 2017 voltooi, maar die NVG het eers in Februarie die groen lig gegee om verdagtes wat in die saak betrek word in hegtenis te neem. Dit skep die indruk dat die vervolging met opset vertraag is om sommige verdagtes tyd te gun om landuit te vlug.

“Dit verseker ek julle is heeltemal onwaar,” het Abrahams reageer oor dié polities sensitiewe ondersoek.

“Ons betwis die uitlatings wat deur lt.genl. Mtakata gemaak is, spesifiek omdat dit op die NVG gerig is.”

Abrahams het die geskiedenis van die “agt bene” van die staatskapingsondersoek, insluitend die Estina-suiwelplaasprojek in Vrede in die Vrystaat, weergegee.

Hy het gesê die Estina-dossier is vir die eerste keer in Augustus verlede jaar aan die NVG verskaf, maar inligting was uitstaande, insluitend finansiële verslae wat nodig was om ʼn prima facie-saak teen die potensiële verdagtes voor te lê. In November is die dossier weereens met nuwe inligting voorgelê, maar dit was steeds nie genoeg nie.

“In Desember 2017 het die vervolgingspan ʼn konsep van ʼn finansiële verslag van die Valke ontvang. Die span het kommer uitgespreek dat die verslag nie met bankrekords geverifieer kan word om ʼn prima facie-saak te maak nie. Dit is deur alle partye aanvaar aangesien dit rasioneel en redelik was,” het Abrahams gesê.

Hy het gesê daar is saam met die Valke ʼn gesamentlike besluit gemaak om in Februarie die inhegtenisnemings te doen.

Matakata, wat langs Abrahams gesit het, het nadat hy gepraat het ontken dat sy gesê het die NVG het die Valke se ondersoek belemmer. Sy het aangevoer sy het net gesê daar is gesloer om die inhegtenisnemings te doen. Volgens Matakata is daar “verkeerdelik die indruk geskep” dat sy tot haar eie voordeel vir Abrahams skuldig wou laat lyk.

ʼn Neef van die Gupta-broers en sewe ander mense het verlede maand in die landdroshof in Bloemfontein verskyn nadat die Valke klopjagte op die Guptas se huis in Saxonwold en ander persele uitgevoer het.

Sewe van die agt verdagtes is intussen borgtog toegestaan. Peter Thabethe, Sylvia Dlamini en Takisi Masiteng, glo regeringsamptenare, is op borgtog van R10 000 vrygelaat. Varun Gupta, Ronica Ragavan, Nazeem Howa en Ashu Chawla, die verdagtes wat van bedrog beskuldig word, is op borgtog van R200 000 vrygelaat. Kamal Vasram bly nog in aanhouding hangende die ondersoek.

Hulle word daarvan beskuldig dat hulle belastingbetalers se geld wanbestee het wat bedoel was vir die Vrede-suiwelprojek met die doel om swart boere in die Vrystaat te bevoordeel. Die projek is deur Estina bestuur, ʼn maatskappy wat verbind word met die Gupta-broers wat te midde van die staatskapingsbeweringe staan. Die Gupta-familie is nabye vriende met voormalige pres. Jacob Zuma.

Een van die Gupta-broers, Ajay, is tans ʼn voortvlugtige nadat die Valke ʼn lasbrief vir inhegtenisneming teen hom uitgereik het. Volgens Mtakata hou sy inhegtenisneming nie verband met die Estina-suiwelplaasprojek nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Gestremde ·

Dit wil my voorkom of alle sake teen mense wat angekla word teen staatskaping en vergrype uit die staatskas se sake gesloer word totdat die stof gaan lê en dit dan onder die tafel gevee kan word. Intussen loop die wat hulself skuldig gemaak het aan die vergrype uit die staatskas vrylik rond of word heraangestel in ander posisies. iemand moet al die sake van 1994 weer oopvlek en dan kyk hoeveel suksesvolle vervolgings daar was, indien enige.

Alida ·

Wie glo nog enigiets wat hierdie spul skelms kwytraak. Skapie het 10/1 ook n happie van die koek gekry dit is hoekom hy dit vertraag. Stel OUTA aan om die ondersoeke te doen dan kyk ons.

Lerato ·

Hulle moenie sê die Shaunie kêrel is stadig nie. Kyk net hoe vinnig hy Gordan aangekla het.

Alida ·

Ja hy kla vinnig diegene aan wat sy planne omverwerp. Die skaapklaar wag vir hom.

LV ·

En toe het altwee eier op die gesig! Dis nou 2 leiers van 2 magtige departemente,foeitog. Beide departemente het met die ondersoek gesloer.

Alida ·

Genade raak net van die man ontslae. Hoe moeilik kan dit wees. Hy is kort kort in die spervuur. Skaapkraal wag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.