Vrede-suiwelprojek: NVG sloer glo met inhegtenisnemings

Adv. Shaun Abrahams, die hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG). Foto: Flickr/GovernmentZA

Twee parlementêre portefeuljekomitees gaan volgende week ʼn spesiale sitting hou om ondersoek in te stel na bewerings dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) die inhegtenisnemings van verdagtes in die Vrede-suiwelprojek uitgestel het.

Die nasionale wetgewer het dié nuus Vrydag bevestig. Luidens ʼn verklaring sal die parlementêre portefeuljekomitees oor justisie en korrektiewe dienste én polisie die ondersoek behartig.

Shaun Abrahams, hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag, en lt.genl. Yolisa Mtakata, waarnemende hoof van die Valke, sal ook by die sitting wees.

Volgens die verklaring het die Valke na bewering al ʼn ondersoek na die omstrede Vrede-suiweljeprojek in 2017 voltooi, maar die verdagtes wat in die saak betrek is, is eers in Februarie vanjaar deur die NVG vasgetrek.

Matakata het vandeesweek aan die parlementêre portefeuljekomitees oor polisie gesê die Valke se dossier oor die Vrede-suiwelprojek is in November verlede jaar aan die NVG gestuur, maar die liggaam het eers in Februarie die groen lig vir inhegtenisnemings gegee.

Mathole Motshekga, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitees oor justisie en korrektiewe dienste, het gesê LP’s soek antwoorde. “Dis onaanvaarbaar dat die publiek ons instelling betwyfel – ons moet dus antwoorde hierop kry. Die NVG sal moet verduidelik hoekom hulle so lank geneem het om die verdagtes in hegtenis te neem,” het hy gesê.

ʼn Neef van die Gupta-broers en sewe ander mense het reeds vroeër verlede maand in die landdroshof in Bloemfontein verskyn nadat die Valke klopjagte op die Guptas se huis in Saxonwold en ander persele uitgevoer het.

Sewe van die agt verdagtes is intussen borgtog toegestaan. Peter Thabethe, Sylvia Dlamini en Takisi Masiteng, glo regeringsamptenare, is op borgtog van R10 000 vrygelaat. Varun Gupta, Ronica Ragavan, Nazeem Howa en Ashu Chawla, die verdagtes wat van bedrog beskuldig word, is op borgtog van R200 000 vrygelaat.

Die Valke het bevestig dat Kamal Vasram nog in aanhouding bly hangende die ondersoek.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het verlede maand R10 miljoen in Atul Gupta se persoonlike bankrekening bevries wat glo verband hou met die omstrede Vrede-suiwelprojek. Die NVG het Donderdag Gupta se aansoek in die hooggeregshof in Bloemfontein teengestaan om ʼn bevel te betwis om R10 miljoen van sy persoonlike bankrekening te laat bevries.

Die voortvlugtige Ajay Gupta word ook gesoek vir ʼn korrupsiesaak wat volgens Mtakata nie verband hou met die omstrede Estina-suiwelplaasprojek in Vrede in die Vrystaat nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Cor ·

Hierdie ou hey net opdragte van sy hanteerders uitgevoer en toe die assistent poppe meester die trekpas kry en die hanteerders landuit is , wend hy toe n poging aan om magtiging te gee. Hy moes eers seker maak die hanteerders is veilig in die buiteland.

Lerato ·

Nou dat Zuma weg is, kry die Valke skielik lewe. Hou selfs n klopjag op Jacques Pauw se huis. Nou wonder mense of die Asset forferture Unit ook uit die as gaan opstaan. Dalk net dalk doen hulle iets. Hierdie parlementêre ondersoeke is n grap en n vermorsing van geld en tyd

Johan. H. ·

Sien nog nie een van die lot in n Oranje oorpakkie nie, Hou egter nie my asem op nie! Hulle almal kyk uit vir mekaar.

Eddie ·

Onthou , toe die leer na die NVG gestuur is in 2017 was Zumpie nog in beheer en hy moes sy gabas beskerm !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.