Vrede-suiwelprojek: OB bevind ‘nalatigheid, wanadministrasie’

Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer. Foto: ANA

Adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer, het haar langverwagte verslag oor die Vrede-suiwelprojek bekend gemaak.

Die verslag kom nadat die Valke verlede maand op die Bloemfontein-kantoor van Ace Magashule, premier van die Vrystaat, toegeslaan het in verband met die omstrede Vrede-suiwelplaas. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het ook ʼn bewaringsbevel bekom teen die Estina-suiwelprojekplaas wat Gupta-bande het. Volgens berigte is slegs 1% van die R220 miljoen wat die Vrystaat-landboudepartement vir die projek oorgedra het, daarvoor gebruik.

Daar is verlede jaar onthul dat die Guptas glo miljoene rande gekry het van die Vrystaatse regering se suiwelprojek in Vrede. E-posse wys glo hoe miljoene rande na Gupta-maatskappye oorbetaal en gebruik is om onder meer vir die Gupta-troue te betaal. Die joernalistieke ondersoekeenhede amaBhungane en Scorpio beweer R84 miljoen wat deur die Vrystaatse regering aan die suiwelprojek gegee is, het in die Guptas se hande beland.

Mkhwebane het in haar verslag bevind dat die Vrystaatse departement van landbou versuim het om die bepalings van die ooreenkoms met Estina te bestuur en te monitor ten opsigte van begrotingsevaluering, uitgawebeheer en Estina se prestasie.

Mkhwebane het versoek dat Ace Magashule, premier van die Vrystaat, dissiplinêre stappe begin teen al die geïmpliseerde beamptes wat betrokke was by die projek. Mkhwebane het Magashule ook gevra om ʼn verslag by haar in te dien oor die aksie wat hy in dié verband sal neem sodra die dissiplinêre prosesse afgehandel is.

Roy Jankielsohn. Foto: Facebook

Die ondersoek het gevolg ná talle klagtes deur dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, by die OB ingedien is. Jankielsohn het die OB versoek om ondersoek in te stel na bewerings dat die departement met die implementering van die projek versuim het om te voldoen aan tesourievoorskrifte en om finansiële beheer uit te oefen.

Mkhwebane het bevind die departement kon nie dokumente, beleide of maatreëls verskaf om te wys dat behoorlike finansiële kontrole en risikobestuur rakende die projek in plek was nie. Sy het gesê ʼn gebrek aan doeltreffende en deursigtige stelsels van finansiële en risikobestuur en interne beheermaatreëls kom op growwe nalatigheid en wanadministrasie neer.

Adv. Mkhwebane het gesê die bewyse kom neer op growwe onreëlmatighede om die effektiewe en doeltreffende uitvoering van die ooreenkoms te verseker en dat dit tot wanadministrasie gelei het. Sy het bygevoeg dat dit ʼn growwe nalatigheid was en onbehoorlike gedrag uitmaak.

Mkhwebane kon nie tydens haar ondersoek vasstel of die pryse vir goedere en dienste aangekoop – spesifiek uitgawes ten opsigte van konstruksie, verwerkingstoerusting, verkryging van beeste en administrasiekoste – opgeblaas is nie.

“Die redes hiervoor is dat Estina nie openbare verkrygingsprosesse gevolg het toe diensverskaffers in die projek verkry is nie.” Volgens Mkhwebane het hulpbronbeperkings pogings deur haar kantoor beperk om ʼn omvattende ondersoek te doen om die billike markwaarde vir goedere en dienste te bepaal. Sy het gesê sy is ook nie van al die fakture en bewysstukke vir betalings van goedere en dienste wat Estina namens die departement verkry het, voorsien nie.

Mkhwebane het verder bevind dat die departement nie soos beweer is ʼn openbare-private-vennootskap aangegaan het vir die implementering van die projek in die konteks van tesouriereguleringsvereistes nie.

Ace Magashule. Foto: GCIS/Flickr

Mkhwebane het gesê sy het, soos die rekenmeester-generaal, waargeneem dat die departementshoof nie normale verkrygingsprosesse gevolg het nie; dat die betalings aan Estina nie in lyn was met Tesourievoorskrifte nie; dat die ooreenkoms tussen die departement en Estina ongeldig was; en dat die departement versuim het om aan die bepalings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur te voldoen wat die proses voorskryf wat gevolg moet word in gevalle van beweerde finansiële wangedrag.

Benewens dissiplinêre optrede teen die betrokke amptenare, het Mkhwebane die premier ook opdrag gegee om ʼn rekonsiliasie te doen van die aantal beeste wat aanvanklik verkry is en dié wat teen April 2017 oor was.

Die premier moet verder binne 30 dae ná die uitreiking van die verslag ʼn implementeringsplan van remediërende aksie aan die OB voorlê. Die departementshoof is versoek om te verseker dat beamptes in die afdeling vir verkrygings- en departementele bestuur opgelei word rakende die voorskrifte van die Nasionale en Provinsiale Tesourieë ten opsigte van verkryging en spesifiek ten opsigte van afwykings.

Mkhwebane het gesê daar was talle kwessies wat sy nie kon ondersoek nie weens kapasiteit en finansiële beperkings. Dit sluit in die rede vir die sterftes van die vee, die Gupta-familie se betrokkenheid, hoe die geld wat aan Estina oorbetaal is spandeer is [die Valke ondersoek dit tans] en inligting oor die begunstigdes van die projek.

Die volledige verslag kan hier besigtig word.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Nettie ·

Ace Magashule moet met dissiplinere stappe begin ?????? Moet hy teen homself begin?????
Wat n grap !!!

Boerseun ·

Die wat glo iets gaan hiervan kom glo seker ook aan die tokkelosh

Eish ·

Halwe werk aangesien die OB volgens haar verslag mank gaan aan kapasiteit, hulpbronne en finansiële beperkings.
Halwe werk gaan tot gevolg hê dat skuldiges nie na behore aangespreek word nie asook verliese vir die staat vanweë onvermoë om bates te kan konfiskeer vir die staatskas.

Alida 2 ·

“Dissiplinêre prosesse moet afgahandel word”
“Bestuur moet opgelei word rakende voorskrifte van die Nasionale en Provinsiale tesourieë”
Dit kom neer op onbevoegde persone wat nie ‘n idee het hoeveel R220 miljoen is nie.
Hulle weet nie hoeveel mense moes hard werk en hulle bekasting betaal voor die bedrag in die staatskas kon beland nie.
Daar is mos altyd net nog——- weet nie waar kom dit vandaan nie.
Wanneer lees ons van klag van diefstal en bedrog wat gelê is en iemand wat vervolg en persoonlik aanspreeklik gehou gaan word?
Nou is dit weer ‘n klomp geld vir kommissies van ondersoeke en dan kom daar niks van nie.
Die redes vir die vee sterftes kon ook nie ondersoek word nie. Kom ek raai dit was aan bloednek at hulle gesterf het.
Hoe meer ek hieroor dink hoe meer ontstel dit my.

pieterdp ·

Swak vir slag. Uiters on bekwaam.
Sy doen nie haar werk soos dit bepaal nie.
Afrieforem moet liewers oor neem en n ordentlike saak saam stel.

Koos1 ·

OB, al van GOOGLE gehoor om prysvergelykings te doen?
Eposse om kwotasies te kry?
En dan dat die premier stappe tee die beskuldiges te neem is soos ‘n hond te vra om ‘n bak vleis op te pas! Dit kan net nie lekker werk nie.

De Villiers Hauptfleisch ·

Die OB is opsigtelik weer besig om iemand te beskerm……….raai wie!

Johanna Botha ·

Die OB weet van Ace …maar wat se sy …ASB die vrou was n GROOOT fout as jy my vra ! Thuli was net 100 x beter !

wraggies ·

Van wat ek hier lees is hierdie verslag minder as toiletpapier werd, ten minste kan ‘n mens toiletpapier gebruik.

leon ·

Snaakste van alles die beskermer gaan die laaste rot wees wat die Zupta skip verlaat. Of miskien tweede laaste na die rot Van Rooyen.

Alida ·

Die OB moet iets se om ons monde toe te hou. Hierdie JZ aanstelling was n groot fout een van 99% van sy aanstellings.

Alida ·

Geen ondervinding! Raai wie het haar aangestel bo die bekwame kandidate.

Koos 3 ·

Ag nee, ‘n mens hoef nie baie slim te wees om sulke snert voor te stel nie. Moenie vir my se Ace het nie geweet nie. Teen wie moet hy optree, homself?
Ag nee OB doen jou werk, ek betwyfel jou kwalifikasies.

Ore ·

Hoekom skud ek net my kop?Altyd gedink advokate is slim mense

Retoriese vraag ·

Watter onbevoegde persoon in die regering is bevoeg om onbevoegdhede in die land aan te spreek?

Deon Meyer ·

Wolf skaapwagter maak!Wat meer kon mens eintlik verwag?

FM ·

Die soort van public protector is daar om vir ace, n zuma volgeling te beskerm, want ace sal nie teen homself optree nie. Sy is so onbekwaam en sy skep die indruk dat sy dink sy is VREESLIK oulik. Bedank eerder. Jy is nie Thuli se ou skoene werd nie.

Jacques Venter ·

Laat mens dink aan Esegiel.
Die dooie bene begin roer nou dat Cyril daar id

Pietsepan ·

Hierdie OB moet saam met JZ die trekpas kry. Hulle is kop in een mus.

PJC ·

Hierdie verslag is net om ons ń rat voor die oĕ te probeer draai. Die OB het nou agter gekom haar baas en beskermheer JZ gaan dalk nie meer lank in die saal wees nie.

SjN ·

Zuma was deur Guptas beveel om haar aan te stel, Ace se seun werk vir die klomp, Wat het van sy mini Nkandla opgraderings geword by sy huis in Bloemfontein

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.