Vrede-suiwelprojek: ‘Politiek rede vir DA se aansoek’

Een van die DA en die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet se regsverteenwoordigers in die hof. Foto: Brenda Masilela/ANA

Die openbare beskermer (OB) se regsverteenwoordiger het Woensdag in die hooggeregshof in Pretoria gesê die DA se aansoek om adv. Busisiwe Mkhwebane se verslag oor die Vrede-suiwelplaasprojek ter syde te laat stel, is polities gemotiveerd.

Adv. Vuyani Ngalwana het Woensdag sy vertoë gelewer nadat die DA en die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet Dinsdag aan die hof gesê het hoekom hulle meen die verslag moet ongrondwetlik verklaar en ter syde gestel word.

Ngalwana het gesê die aansoek gaan nie oor Mkhwebane se bevoegdheid om haar amp te beklee nie.

“Die DA wil hierdie hofaansoek as ʼn afleiding gebruik. Hulle wil hê die hof moet die plek van die OB inneem, hom in die OB se skoene sit en dan die funksies van die OB uitvoer,” het hy gesê.

Op ʼn vraag van regter Ronel Tolmay of hy wil hê dat die aansoek van die hand gewys word indien dit polities gemotiveerd is, het Ngalwana geantwoord: “Ja.”

Hy het gesê politieke partye moet hul mekaar in die nasionale vergadering die stryd aansê. “Jy gebruik nie die openbare beskermer om kwessies te hanteer wat in die wetgewer bepaal moet word nie,” het Ngalwana gesê.

Hy het gesê as die DA in die Vrystaat wil regeer, moet hulle polities in die provinsie meeding.

Die DA het Dinsdag gesê Mkhwebane se optrede rakende die Vrede-suiwelplaasprojek was ongrondwetlik. Die party vra die hof om haar verslag ter syde te stel omdat sy versuim het om enige politici verantwoordbaar te hou.

Die DA sê Mkhwebane het versuim om politici soos Ace Magashule, voormalige premier van die Vrystaat, en Mosebenzi Zwane, destyds die LUR vir landbou, in haar verslag te noem.

Die projek is deur die Vrystaatse regering op die been gebring om arm, voormalig benadeelde boere te help, maar miljoene rande wat vir dié doel opsy gesit is, het hul pad na die bankrekeninge van Gupta-vennote gevind.

Die saak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Lynette ·

Die ANC is n treurige spul. Hulle hou niemand verantwoordellik vir enige iets nie dus sal korrupsie voortgaan. Dis waarom die land in so n to stand is en sal bly.

Manie ·

Ek wonder of die vrou ooit die kwalifikasie het wat sy sê sy het

Alida ·

Die Regter sal mooi beslis ons weet dit almal. Sy sal nie arm mense verder laat ly nie.

PJC ·

Hierdie OB gee nie om om vreemde besluite te neem wat polities gemotiveerd is nie want sy het nog elke keer weg gekom daarmee omdat die ANC haar beskerm met die meerderheid wat hulle in die parlement het. Hopelik gaan die hof haar hierdie keer vasvat.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.