Vredefort-plaasaanval: Boer se selfoon naby toneel gevind

Dirk en Miekie Steenkamp (Foto: Facebook)

Die vermoorde Dirk Steenkamp (71) van Vredefort in die Vrystaat, die beesboer wat Sondagoggend buite sy huis oorval en doodgeskiet is, se selfoon is net anderkant sy huis gevind.

Maroela Media het vroeër berig Steenkamp, ʼn gesiene sakeman en boer van die omgewing, is Sondagoggend vroeg uit sy huis om ondersoek na ʼn waterpomp op die plaas in te stel. Hy was glo gewapen, maar ʼn groep verdagtes het hom oorval en daarin geslaag om sy vuurwapen by hom af te neem. Die verdagtes het hom geskiet, maar op die vlug geslaan nadat sy vrou, Miekie, die buurtwag en die polisie ontbied het.

AO Lorraine Earle, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat ondersoekspanne, waaronder die polisie se honde-eenheid en ʼn forensiese ondersoekspan, Steenkamp se selfoon sowat 1 km van die toneel waar hy geskiet is, gevind het.

Earle sê die polisie hoop nou dat daar vingerafdrukke op die selfoon gevind sal word om te help in die soektog na die verdagtes. Daar is ook ʼn enkele 9 mm-patroondoppie en kabelbinders op die toneel gevind. Steenkamp se 6.35 mm-pistool word steeds vermis.

“Die polisie en ondersoekspanne is onverpoos besig met hul ondersoek en steeds op soek na leidrade vir die verdagtes. In dié stadium is daar ongelukkig nog niks konkreets nie,” sê sy.

ʼn Nadoodse ondersoek sal Dinsdagmiddag gedoen word. Die uitslae van dié ondersoek sal Woensdag bekend gemaak word.

Earle sê die polisie maan sosialemediagebruikers om nié valse nuus in verband met aanvalle of moorde te versprei nie. Volgens haar is die gerugte onwaar dat Steenkamp se dood ʼn teregstelling was.

“Daar was ook baie gerugte dat dié aanval die sesde aanslag op Steenkamp se lewe was,” sê sy. “Hoewel hulle wel voorheen al slagoffers van misdaad was, was dit nie voorvalle waartydens misdadigers sy lewe probeer neem het nie.”

Earle kon nie meer inligting oor die ondersoek bekend maak nie. Sy sê die familie en gemeenskap is wel baie geskok.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Earle versoek mense met meer inligting oor die voorval om AO David Petzer, die ondersoekspeurder, by 082 301 3048 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Leeutjie ·

Haal die boere uit en die werkloos syfers styg. Hoeveel plaaswerkers word ook hierdeur geraak. Die kriminele voel vere vir hulle eie nasie!

Jammer ·

AG regtig,ek raak nou nie juis opgewonde daaroor nie. Weet nie wanneer laas hulle iemand in SA skuldig bevind het op ‘n vingerafdruk of opgespoor gekry het op ‘n vingerafdruk nie. AS hy van Zim of Mozambiek of enige ander land is gaan jy hom met selfs ‘n hand of hele vinger nie kan opspoor nie. Jammer vir die oom se familie.

Alida 2 ·

Petra as jy vra of ons boere nie lees nie wil ek jou se ons lees wel.
‘n Stukkende pomp MOET herstel word en dit kan jy nie agter geslote deure doen nie.
‘n Boer se werk is buite, nie in sy huis of binne die veiligheidsheining nie.
Weet jy hoe voel dit om heeldag ‘n wapen aan jou sy te hê?
Hou op kritiseer en wees elke dag dankbaar dat daar nog boere en arbeiders is om kos op jou bord te sit.

My gevolgtrekking ·

My gevolgtrekking is dat die pomp deur die aanvallers ‘gedokter’ is en hulle hom daar ingewag het en verras het. Daarom kon hy nie sy vuurwapen gebruik het.
Sterkte Miekie en familie.

LLM ·

Die polisie sal hierdie skurke vang , hulle werk 24uur , hou op kla en doen iets vir die samelewing,

baie praat maar doen niks ·

ai Willie wouter woes, hou op koes en polisie beskuldig. ek stem saam LLM

emg ·

My pa en ma was in ‘n plaasaanval in 2009. My ma is doodgeskiet in die aanval. Swak polisiewerk wat nie eers die misdaadtoneel afgekamp het nie…vingerafdrukke eers 3 dae na die aanval gedoen … speurder wat aangewys is om saak te ondersoek het eers ‘n week na die aanval verklarings kom afneem het. Gevolgtrekking… saak gesluit en misdadigers/ moordenaars steeds op vrye voet. Hier het die polisie beslis nie hulle werk gedoen nie.

Pop ·

Petra met bykans elke berig vra ek dieselfde vraag. Boer in SA het die gevaarlikste werk geword op die planeet.

Vermeende ·

Daai selfoon is al Sonfag gekry, hoe skiet jy n persoon onder sy arm as dit nie in die lig is nie.
In my boek is dit teregstelling as jy n man skiet wat se hand in die lig is, die SAPD moet beter ondersoek doen want dit lyk of hulle feite probeer verdoesel. Ek bly in die gebied.

Sussa ·

Mense is gou om die polisie by te kom. Daar is wonderlike speurders wat aan hierdie ondersoek werk. Gee hulle die geleentheid om hulle werk te doen.

Engela de Klerk ·

My man praat vanoggend met sy suster in Pretoria. Hulle is besigheidsmense en eienaars van ‘n wildsplaas sowel ‘n beesplaas en twee verskeie distrikte in SA. Toe my man vir sy suster sê hy is besorgd oor die plaasaanvalle en moorde, was haar antwoord “ons weet nie waarvan jy praat nie”. Nou weet ek werklik nie of Maroela Media net in die buiteland beskikbaar is en of ons dalk berigte lees en ander weet van niks. Of, is sommige mense maar net soos die volstruis met kop in die sand!

jAMMER ·

niks wat ons se gan dit verander nie, net wat ons doen sal

kas ·

Daar is verseker toegewyde polisiemanne en vroue daar buite besig om die mense te dien,maar julle sal met my saamstem dat plaasmoorde nogal lank vat voor verdagtes vasgetrek word indien ooit.As die politiek reg was sou hierdie moord nooit plaasgevind het nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.