Vreedsame protes vir Afrikaans by Maties beplan

afrikaans-sal-bly

Foto: Stellenbosch Lente/Facebook.

Die stryd om die behoud van Afrikaans as onderrigtaal by die Universiteit Stellenbosch (US) word in die volgende dae opnuut voortgesit.

Die groep Stellenbosch Lente het Vrydagoggend ʼn verklaring uitgereik waarin hulle ʼn protesaksie teen die nuwe taalbeleid van die universiteit aangekondig het. Die saamtrek word vir Saterdagoggend by die universiteit beplan. Sprekers soos die voormalige Wes-Kaapse premier Peter Marais, die historikus en taalstryder prof. Hermann Giliomee, die Nederlandse sanger Stef Bos en ander toonaangewende kultuurleiers, Afrikaanse belanghebbendes en kultuurorganisasies sal die geleentheid bywoon.

“Ons beplan ʼn vreedsame, niepolitiese geleentheid. Ons dring net aan op ons demokratiese reg, wat in die Grondwet verskans is, om ʼn Afrikaanse universiteit te hê,” het Cobus Pienaar, ʼn woordvoerder vir die groep, gesê.

Pienaar meen die universiteit se besluit om die taalbeleid te verander druis direk teen die bepalings van die testament van Jan Marais in, wat destyds duisende ponde geskenk het vir die stigting van ʼn Afrikaanse universiteit op Stellenbosch.

“Die voertaal van die omgewing en dorp is Afrikaans en studente kom so ver as Namibië en die Vrystaat om in Afrikaans aan hierdie universiteit te studeer. Daar is reeds drie ander universiteite in die omgewing wat voorsiening maak vir onderrig in Engels.

“Die verandering van die taalbeleid is niks anders as ʼn berekende politieke skuif nie. Dit is blatante miskenning en afbreking van Afrikaans. Ons wil net opkom vir ons reg om in Afrikaans te studeer,” het hy gesê.

Giliomee het Donderdag ʼn brief aan die US se konvokasielede gestuur waarin hy in sy persoonlike hoedanigheid ʼn beroep op die lede gedoen het om die konvokasie se jaarlikse vergadering in Stellenbosch op 26 Januarie by te woon.

“In 2016 het die feitlik ondenkbare met Afrikaans gebeur. Afrikaans as doseertaal is in al die universiteite waar dit eens die enigste of vernaamste doseertaal was, drasties afgeskaal of uitgefaseer. Dit het ingrypende implikasies vir Afrikaans as taal van onderrig op skole. Afgesien van die Potchefstroom-kampus is daar geen plek waar mense wat hulle vir die onderwys met Afrikaans as voertaal wil bekwaam hul graad of onderwysdiploma kan behaal nie,” het Giliomee geskryf.

Hy erken dat die konvokasie nie ʼn taalbeleid op die universiteit afdwing nie, maar sê hulle het die reg om die universiteit te vra om oop kaarte met sy alumni te speel.

“Daar is ʼn sterk gevoel op die grondvlak dat die US ernstig moet herbesin oor sy besluit om ʼn taalbeleid te aanvaar wat gewis tot die stelselmatige en snelle verengelsing van die US sal lei.”

Volgens Giliomee dring die konvokasie sedert 2002 aan dat die US, benewens enige klasse wat in Engels aangebied word, ook steeds ʼn volwaardige voorgraadse aanbod in Afrikaans aan studente sal verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

AL ·

Mooi so! Beskerm ons taal en inderwaarheid is Afrikaans oor kleurgrense en landsgrense aktief. As my geld goed genoeg is, moet my taal ook goed genoeg wees.

Rebel ·

Nee, wat, die skrif was al 10 jaar gelede aan die muur. Dit is oor en verby wat die US betref. Stellenbosse “Afrikaners” het heel gemaklik toegelaat dat Engelstaliges/Engelsgesinde (globaliste) die oorhand kry. Alle pogings vanuit die pro-Afrikaanse groep het gefaal. Fokus op Akademia, ons nuwe Afrikaanse privaatuniversiteit. As daar kan privaat skole, radiostasies, hospitale ens wees, waarom nie ‘n privaat Afrikaanse universiteit nie!?

Kosie ·

Rebel, jy is helaas reg. Ek is ‘n alumnus van die US Regsfakulteit. Ek kry nou die dag ‘n e-pos van dié Fakulteit waarin hulle vir finansiële bydraes ter ondersteuning van behoeftige Matie-regstudente vra. Dít van een van die US se fakulteite wat hul rug heel eerste op Afrikaans as onderrigtaal gekeer het. Nodeloos om te sê kry hulle nie ‘n bloue duit uit my nie. Ek dra wel maandeliks tot die Solidariteit Boufonds ten gunste van Akademia by.

Piet Snot ·

Kosie, ek het daai selfde epos gekry.
Dit nie eens gelees nie.

Faan ·

Ek ondersteun dit ten sterkste, maar ons Afrikaanse nice-geit bring ons nerens deur dit nice op ‘n Saterdag oggend te hou waar niemand ontrief word nie. Ongelukkig word daar net geluister wanneer stem dik gemaak word. Hierdie poging sal deur US Bestuur nie eers as ‘n lastigheid afgemaak word nie.

M ·

Julle maak ons almal trots! Ou gaarde het die land weggegee en julle moet sit met die gevolge.
Hoop julle oorwin die taak.

Jello ·

Ongelukkig het NIEMAND nog in SA erens gekom met ‘n vreedsame proses nie. Die enigste wat hulle sin tot nou toe gekry het is diegene wat die Universiteite met klippe bestook het, die skilderye uitgebrand het, die biblioteek en rekenaarsentrum aan die brand gesteek het en die Standbeelde vernietig het. Vreedsame protes in SA het ongelukkig nog NERENS in SA enige verskil gemaak nie.

vermeende ·

Blankes gaan vreedsaam protes aanteken nou wat kan ons verwag.

Alles wat die weermag en SAPD het wat oop en toe kan maak gaan daar wees om die nie agresiewe betogers in toom te hou.
Net een Lektor met gesag sal hulle sonder voorval kan beheer.

Chairefoon ·

Inklusiwiteit en gelykheid, wagwoorde vir eenvormigheid en totalitarisme. Transformasie, ‘n wagwoord vir ANC lojale verryking. Grondhervorming, ‘n wagwoord vir verstaatliking van privaatgrond. Mag hierdie semantiese kullery in 2017 tot ‘n val gebring word, en die universiteite nie meer onkritiese spreekbuise vir die dogmatisme van tirannie bly nie!

JC ·

“Wow”!! Dankie Chairefoon.
“Awesome” kommentaar op die punt af: perfek!!!!!

Johannes van Staden ·

Dankie Oom FW …ons is nou in die koue agv jou

Fanie Kemp ·

Baie geluk en baie sterkte “Stellenbosch Lente” met hierdie aksie.
Dit is uiters belangrik dat die besluitnemers moet kennis neem dat daar groot getalle, veral jong Afrikaanssprekendes is, wat nie soos baie ander ruggraatloses, sommer gaan boedel oorgee nie maar bereid en gerat is om stryd aan te knoop vir behoud van ons pragtige Afrikaans as Akademiese Taal.
Wens dit was vir my moontlik om julle te kom ondersteun.

popeye ·

Ek is stilweg gemotiveer om te sê…brand die plek vir jul regte man! Helaas sal dit sekerlik as laakbaar beskryf word. Beskawe mense is deesdae ” trash”

leon - Centurion ·

Ondersteun Stellenbosch Lente. Die teiken natuurlik Slim Wim! Goeie kommentaar van talle mense. Ondersteuning aan Akademia egter nie uitsluitend nie. Dankie aan mense soos Prof. Gilliomee wat opstaan vir Afrikaans. Ons moet sy voorbeeld volg.

Arie ·

Dis hoogtyd! Moenie oorgee nie want as ek so lees het die meeste Afrikaners dit lankal gedoen

Dan ·

Alida, nou wie anders as FW en sy trawante is hiervoor verantwoordelik? Wie het die grondslag geskep hiervoor en die totale fiasko wat oral aan die gang is? Was dit nie hy wat eie taal/skole/woongebiede propageer het wat die stem-skapies agter wolf laat aanloop het nie? Laat weet ons dankie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.