Vreemdeling red vrou van kaping

Melissa McGinn (Foto: Verskaf)

’n Johannesburgse vrou is steeds in skok nadat sy vandeesweek die slagoffer van ʼn kapingspoging was en ʼn vreemdeling tot haar redding gekom het.

Melissa McGinn het Woensdagoggend soos alle Johannesburgers op pad werk toe in spitsverkeer gesit toe sy ’n groep mans by die Kroon-wisselaar in die rigting van Melrose gewaar het.

“Dit was presies daar waar mens op die snelweg sal klim op pad na Melrose Arch. Ek was in die regterlaan en kon dadelik sien wat gaan gebeur. Dit sou óf ek óf die motor agter my gewees het,” vertel McGinn aan Maroela Media.

Sy moes weens die verkeer tot stilstand kom en soos sy gevrees het, het ’n man na haar motor gestap en met ’n vuurwapen aan haar motor se venster geklop.

“Hy het deur die venster gesê as ek nie oopmaak nie, sal hy ʼn koeël deur my kop sit. Al waaraan ek in daardie stadium gedink het, was my kind. Hoewel ek alleen in die motor was, het ek gedink wat gaan van my kind word as ek nie meer daar is nie.”

McGinn vertel dat sy aanvanklik gedink het dat die gewapende man haar motor wou hê en sy het net haarself daarop voorberei om haar deur oop te maak, toe die man beduie dat sy haar venster moet oopmaak.

“Hy het my vorentoe getrek. Ek kan nie onthou of hy my aan my klere getrek het nie, maar toe slaan hy my met die geweer agter my kop. Hy het toe gesê hy soek my foon.”

McGinn het haar foon vir hom gegee en hoewel sy nie kan onthou of hy die foon vir een van sy makkers gegee het of dit in sy sak gesteek het nie, onthou sy wel dat hy toe die gelaaide geweer teen haar slaap gehou het.

’n Rooi motor het op dié oomblik “uit nêrens” te voorskyn gekom en in die man vasgery.

Die man is met só ’n slag getref dat sy lyf McGinn se motor op ’n plek ingeduik het. “Daar was egter geen merk van die rooi motor op my motor nie. Die motor het gekom toe ek dit die meeste nodig gehad het,” vertel ’n dankbare McGinn.

Die vermeende kaper het weggehardloop. Die bestuurder van die rooi motor het geduldig in sy motor bly wag tot McGinn tot verhaal kon kom en sy weer gery het. “Hy het nie uitgeklim nie. Hy het nie beweeg nie. Hy het net gewag dat ek weer ry.”

‘n Skermskoot van Melissa McGinn se plasing op Facebook.

Volgens McGinn het sy haar hande in ’n bid-gebaar vir hom gewys om haar dankbaarheid te betoon. “Ek het toe weer agter toe gekyk en hy was weg. Dit was asof niks gebeur het nie.”

Hoewel sy sekere van die bestuurder in die rooi motor se gelaatstrekke kan onthou, kan sy egter glad nie sy gesig onthou nie. Sy het dus besluit om haar na sosiale media te wend om hom in ʼn plasing te bedank vir sy heldedaad.

“Jy, meneer, was ‘n held vanoggend. Jy het my lewe gered en ek kon as gevolg van jou huis toe gaan na my seuntjie toe! Dankie! Dankie uit die diepte van my hart! Ek het vandag ‘n ontmoeting met ‘n engel gehad en ek is so dankbaar dat jy daar was,” lui haar plasing.

Sy het egter nie beplan dat die plasing aandag van die media sou kry nie. “Ek wou net gehad het dat hy dit moet sien. Ek verwag glad nie dat hy na vore moet kom nie. Ek wil hom net bedank.”

En as hy na vore sou kom, wat sal sy aan haar barmhartige samaritaan sê?

“Ek sal seker huil, hom druk en net dankie sê. Ek weet nie wat die [kaper] aan my sou gedoen het as dit nie vir hom was nie. Hy het klaar my selfoon gehad en hy het steeds die geweer teen my kop gehou…”

McGinn sidder om daaraan te dink. Dit is die eerste keer dat sy ʼn slagoffer van misdaad in Suid-Afrika is, vertel sy. Sy het egter nie die voorval by die polisie aangemeld nie. “Jy hoor altyd van hierdie dinge maar jy dink nie dit sal met jou gebeur nie. Ek het dit egter nie aangemeld nie want wat sal die polisie daaraan doen? Dit gebeur so gereeld.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

35 Kommentare

Liezl ·

Dit was voorwaar n Engel, ons Vader leef en sal aan ons verskyn as ons Sy naam aanroep. Amen

Zettie ·

Engele kom in vreemde vorms. Ek dink ook die redder was nou maar net eenmaal gatvol vir wat in SA aangaan dat hy die geleentheid aangegryp het om te doen wat hy gedoen het. Ek is baie dankbaar dat jy ongedeerd is. Baie sterkte vir jou vorentoe.

Calvinia Skaap ·

Meskien is dit n goeie idee om jou vensters diep te laat tint. Hulle kan dan nie sien wie sit binne die kar…..

Stelling ·

Melissa, im glad your okay. I can only imagine the post trauma you must be going through. Time will heal some wounds. South Africa, what a joke! Everything is in ruins. Everyone living for today, living in fear with no light at the end of the tunnel. Then “they” say we need to look at the positives…take your blindfolds off! God help us all!

What Next! ·

Melissa, im glad your okay. I can only imagine the post trauma you must be going through. Time will heal some wounds. South Africa, what a joke! Everything is in ruins. Everyone living for today, living in fear with no light at the end of the tunnel. Then “they” say we need to look at the positives…take your blindfolds off! God help us all!

Blondie ·

Ek hoop hy het iets gebreuk. Of so beseer is dat hy vir lank moet bly lê.

ne ·

Ons Vader beskerm ons op vreemde maniere. Dankie vir die hulp wat die rooi motor verleen het. Mag die rower/skelm nooit gelukkig wees nie.

Jannie van Niekerk ·

Ek is innig dankbaar dat die held in die rooi motor die dame gehelp het.
Die regering behoort ‘n wet te maak dat GEEN persoon wie hy ookal is en of hy pamflette utdeel of wat ookal by robotte buite voertuie mag staan nie. Beboet hulle met R1 miljard of gee hulle lewenslank tronkstraf. Dis jammer die krimineel is nie vrek gery deur die man in die rooi motor nie.

PieterJohannes ·

Ons is baie dankbaar saam met jou. Hierdie bewys weereens dat ons mekaar KAN help as ons net wil. Kom ons los hierdie afsydige onbetrokkenheid. As almal saam staan teen die misdadigers sal hulle geen kans hê nie. As ek iemand help en kom iets oor dan is dit maar so. Dan het ek ten minste probeer. Dankie aan die engel in die rooi motor. Jy het die regte ding gedoen. As dit nie vir jou was nie was die uitkoms dalk baie anders. Daardie misdadiger sal twee keer dink voor hy dit weer doen.

toy ·

Die Here het verseker daai oggend ‘n Engel op jou pad gesit. Dankie vir jou wat haar gehelp het.

Maria ·

Min sal so waag om ander te red veral jou eie kar . Dankie rooi kar jy is engel

Els ·

Shoe so bly die persoon het jou gehelp. Ek was al n slagoffer van smash an grab en die man voor my het in sy tru spieeltjie dit gesien gebeur. Gelag sy kop geskud en weggery.

Emma ·

Ek dink ons is almal so gatvol vir die diewe. Baie dankie vir dit wat jy gedoen het. Ja stem ook moeg vir mense wat rondstaan by robotte

Bekommerd ·

Toevallig….op die regte tyd en plek?? Niks gebeur toevallig wanneer God in beheer is nie. Toe- val- die-lig. Prys die Here

Schalla ·

Ek het ook al baiekeer gewonder wat ek sal doen as ek sien hoe iemand voor my in ‘n motor beroof word en het ook al gedink dit sal heel effektief wees om oor die skurk te ry. Wat sê die wet egter as jy die skurk dalk doodry? In hierdie land van ons met sy screwed up toepassing van wette is ek oortuig ek sal myself in die tjoekie bevind vir moord. Want dan het mens kwansuis ‘n onskuldige slagoffer doodgery. Sal die ware omstandighede dan in berekening gebring word dat mens gesien het hoe die skurk ‘n onskuldige slagoffer se lewe bedreig en dat jy ter selfverdediging opgetree het (nie vir jouself nie maar vir die slagoffer met die geweer teen hul kop – en enig toekomstige slagoffers). Nietemin, die ou in die rooi kar is ‘n held. Jammer die dief het weggekom en nie slegter daarvan afgekom of dat hy gevang is nie.

Andre Stander ·

Welgedaan Meneer Rooi Motor!!

Respek vir jou… ek hoop jy lees hier. “All that is required for evil to triumph, is for good Men to stand by and do nothing”. Jy het verhoed dat ‘evil’ hier oorwin.

Respek!

Thomas ·

Dankie dat jy dit deel. Uiteraard moes jy dit nooit hoef te gedeel het nie, maar tog laat dit my met die hoop dar daar nog mense is wat vir mekaar uitkyk. Met alle respek – die Here weet, ons het sulke stories nodig.

humor ·

Schalla moet net weier om met enige een te praat. n Goeie prokureer sal jou help. Bv jy was blind van woede, jy was so geskok, hy het voor jou in beweeg, ens. Ja ek stem saam n gestuurde Engel het jou gehelp. Dit gebeur meer dikwels as wat ons besef.

Stella ·

Dit het dieselfde gebeur met n vrou wie se man n hartaanval gekry het en die ander motoriste wou nie padgee toe sy hospitaal toe jaag nie,n man in n wit bakkie het ook die karre verhoed om voor haar inte ry,toe sy hom wou bedank was hy skoonveld. Ook n engel.

GP ·

Fout om dit nie aan te meld nie. Polisie word na probleem areas ontbied vir patrollies en sugbaarheid. Hoe sal hul van die gebiede weet as dit nie aangemeld word nie.

LHS ·

Wat aan te meld, om nog tyd te gaan mors om aan n persoon wat jou nie wil help of wil verstaan nie te probeer verduidelik wat gebeur het ontstel jou net nog meer.

Lizzy ·

LHS, soos ons na n ‘smash-and-grab’ in Pretoria dit gaan aanmeld het, en gevra is ‘Wat wil jy he moet ek aan die saak doen?’. Jy kry net n skouer ophaal houding, verder word niks gedoen nie, want dit is die nuwe stand van sake.

Lana ·

Man met die rooi motor, baie dankie dat jy vir Melissa gehelp het!!

Martien ·

,n ontmoeting met engel gestuur deur God. Vir altyd sal dit by jou bly. Nie die trauma van die aanval nie, maar die ontmoeting met die gestuurde uit die Hemel…

Jr ·

“Survivor ” op DSTV is kinderspeelitjies teen ons lokal program ” Survive ń week ” in cANCer land.

Leef-gereed! ·

Aan die Here alleen al die eer!! Of die man fisies bestaan en of dit ñ engel was wat die Here op ñ sending gestuur het om haar te beskerm, dit klink steeds soos ñ Goddelike ingryping – prys die Here! Ons kan mense bedank, maar al die eer moet steeds na God toe gaan. Ons moet onthou dat ons nie tot engele mag bid of hulle eer nie (byvoorbeeld Ps.91:11) alleen deur Jesus tot God bid – God gee die bevel. Wanneer ons elke dag begin streef na ñ rein, heilige lewe en om waaksaam en gereed te wees kan ons bewus bly van ons geestelike wapens. Ons moet elke dag toegerus wees met die wapenrusting, want ons stryd is nie teen vlees en bloed nie (Efes.6:10-18).

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.