Vrees dat drankkraantjie weer toegedraai word

Drankhandelaars vra vir ‘n vergadering met pres. Cyril Ramaphosa oor maatreëls om Covid-19-infeksies te stuit. (Argieffoto: pixabay)

Met al hoe meer aanduidings dat die derde vlaag Covid-19-infeksies op hande is, het die Drankhandelaarsvereniging (NLTC) opnuut by pres. Cyril Ramaphosa gepleit om ʼn balans tussen die beskerming van lewens en die beskerming van werksgeleenthede te vind.

Die gesondheidsdepartement het net minder as twee weke gelede gewaarsku die derde vlaag het Suid-Afrika tegnies nog nie getref nie, maar het mense gewaarsku om hul te staal daarvoor. Sedertdien styg die getal infeksies deurlopend.

Luidens berigte is een van die beperkings wat oënskynlik oorweeg word om die derde vlaag in bedwang te help bring, ʼn hernieude verbod op die verkoop van drank.

Lucky Ntimane, sameroeper van die NLTC, sê die organisasie verteenwoordig ʼn gesamentlike 39 000 drankhandelaars wat tavernes en drankwinkels insluit – en verskaf werk aan meer as 282 000 mense.

Die NLTC vra vir ʼn ontmoeting met Ramaphosa om volhoubare maniere te bespreek om die pandemie te stuit. Die vereniging pleit ook by Ramaphosa om met hulle te vergader, veral oor besluite wat ʼn uitwerking op hul ondernemings kan hê.

Ntimane sê hulle wil op dié manier ook verseker dat enige besluite wat geneem word, op wetenskaplike beginsels berus.

Ntimane sê die bedryf het met kommer kennis geneem van die styging in Covid-19-verwante hospitaalopnames en positiewe toetse wat daarop dui dat ʼn derde vlaag van die pandemie om die draai is en dat dringende ingryping nodig is.

“Dit is ongetwyfeld so dat een van die belangrikste lesse wat ons uit eie ervaring van die hantering van die pandemie opgedoen is, is dat ons Covid-19 kan beveg met ʼn minder negatiewe uitwerking op die ekonomie. In ons geval kan drankhandelaars steeds sake doen, maar onderworpe aan voldoening aan veiligheidsbedryfstandaarde op ʼn manier wat nie vroeër moontlik was nie,” sê hy.

Ntimane sê indien beperking op ekonomiese bedrywigheid onvermydelik is, moet daar duidelik begin- en einddatums wees sodat ondernemings behoorlik kan beplan – eerder as om te sit met ʼn onbepaalde ontwrigting wat beduidend moeiliker is om te bestuur en lei tot groot spanning en werkverliese.

“Die stel van duidelike einddatums, of minstens kriteria waarop die opheffing van beperkings sal berus – soos die infeksiekoers – is uiters belangrik.”

Ntimane sê handelaars beroep hulle op Ramaphosa omdat die besluite wat die regering in die verlede oor drank geneem het, en soos dit verband hou met die bekamping van nog infeksies, “niks anders as ʼn doodsklok vir die drankbedryf en in die besonder tavernes” was nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

koos10 ·

COVID is ‘n werklikheid en ek ontken dit nie. Ek bevraagteken egter die benadering.
Ek persoonlik ken ‘n gesin waar die vrou positief getoets het en in isolasie gegaan het, saam met haar gesin. Hulle deel nogsteeds ‘n huis en haar man slaap elke aand langs haar, want hy het geen ander plek om te slaap nie. Nie hy of haar kinders het positief getoets nie. Hulle het 3 keer getoets.

Ons laagste COVID getalle is opgeteken terwyl normale drank en sigaret verkope toegelaat is en ons hoogste moord getalle terwyl daar gedeeltelike verbod op drank was.
Verhoog die COVID toetse en siedaar, skielik meer positiewe gevalle. Persentasie berekeninge werk glad nie hier nie. Seker die 30% wiskunde slaagpunt wat tersprake is.

Hoed en Kopdoek verafsku drank, en sal alles in hulle vermoë doen om dit te stop.

Anel ·

Nee, hulle verafsku dit nie. Hulle eie sakke word leër sonder die gesmokkel.

SjN ·

Stem saam, ek het verkoue simptome gekry en positief getoets Covid en ek drink nie, almal met wie ek aanraking was het negatief getoets, dit laat by my baie vrae ontstaan.

Ansie ·

Dit maak my woedend dat besighede en hul werknemers die spit moet afbyt omdat ongedissiplineerdes hulle nie kan gedra en eenvoudige reëls kan nakom nie. Om drankverkope op te skort is nie die antwoord nie, dit bevorder die swartmark en ontneem boonop die staat van broodnodige belastinginkomste. Plaas liewer ‘n moratorium op ingevoerde ingenieurs en maak gebruik van die plaaslike bestes.

Jakes ·

Gaan koop die drankwinkels leeg voordat kopdoek weer alles op dinges.

Petrus Johannes ·

Dit dien geen doel om drank kraan toe te maak al die drankplekke in swartwoongebied bly oop SAP ONTVANG GELD EN AS HIER OFFISIERE KOM GAAN WAARSKU HUL DIE EIENAARS

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.