‘Vreesbevange’ ANC wil appelleer teen hofbeslissing oor minagting

Fikile Mbalula, minister van vervoer. (Foto: GCIS)

Die ANC het ʼn aansoek om verlof tot appèl ingedien teen ʼn uitspraak in die Johannesburgse hooggeregshof wat sy sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, en partybeampte, Thapelo Masilela, skuldig bevind aan minagting van die hof vir die onregmatige weerhouding van rekords oor die regerende party se kaderontplooiingskomitee.

Die DA het vroeër ’n suksesvolle aansoek ingedien om die rekords van die ANC se kaderontplooiingsproses te bekom. Die rekords ter sprake hou verband met die ANC se nasionale kaderontplooiingskomitee en dateer terug tot Januarie 2013, toe pres. Cyril Ramaphosa die voorsitter van dié komitee geword het.

Sommige van die rekords is oorhandig, maar die DA het aangevoer die ANC het verskeie dokumente weerhou, veral dié tussen 2013 en 2018 toe Ramaphosa in beheer van kaderontplooiing was.

Die hof het Mbalula en Masilela daarna skuldig bevind aan minagting van die hof, met die ANC se aansoek om verlof tot appèl wat nou hierop gevolg het.

Leon Schreiber, DA-LP en die party se woordvoerder oor staatsdiens en administrasie, sê die DA neem kennis van die aansoek.

“Die ANC se jongste aansoek om verlof tot appèl bevestig die party is vreesbevange vir die gevolge wat gaan spruit uit die onthulling van Ramaphosa se persoonlike aandadigheid aan kaderontplooiingskorrupsie, ʼn stelsel wat die Zondo-kommissie bevind het ‘staatskaping moontlik gemaak het’,” sê Schreiber.

Schreiber sê die DA gaan op geen manier bes gee oor die kwessie nie, omdat dit ʼn fundamentele gedeelte vorm van die party se pogings om “Suid-Afrika te red”.

“Sou die ANC voortgaan om die hof steeds te minag wanneer sy jongste appèlaansoek misluk, sal die DA nie huiwer om ons oorlog teen kaderontplooiing verder te eskaleer deur aansoek te doen om Mbalula en ander ANC-amptenare tronk toe te stuur vir strafregtelike minagting van die hof nie,” sê Schreiber.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.