Vrese oor reeksmoordenaar in KZN ná sesde liggaam gevind word

(Foto ter illustrasie: pixabay)

Daar is toenemende vrese dat ʼn reeksmoordenaar die Umzumbe-gebied aan die KwaZulu-Natalse suidkus teiken nadat die liggame van nóg twee vermoorde vroue vandeesweek in die gebied gekry is.

Die liggame is Dinsdag en Woensdag ontdek.

Leonard Ngcobo, die DA se koukusleier in die Ugu-distrik, het vandeesweek gesê hy is diep bekommerd oor die minister van polisie, Bheki Cele, se stilswye oor die moorde. Volgens die DA is die liggame van ses vroue die afgelope paar weke in die gebied gevind. Die polisie het besonderhede oor net vyf voorvalle aan Maroela Media bevestig.

“Daar is al hoe meer bewerings in die gemeenskap dat ʼn reeksmoordenaar vir die grumoorde verantwoordelik is. Ons het min. Cele ʼn maand gelede gevra om die bewerings te ondersoek nadat vier vroue in dieselfde gebied verkrag en wreed vermoor is,” het Ngcobo gesê.

“Ons het nog geen reaksie ontvang nie en geen inhegtenisnemings is gedoen nie.”

Die liggame van nog twee vroue is ná hierdie pleidooi gevind.

Kol. Thembeka Mbele, polisiewoordvoerder in KwaZulu-Natal, het Donderdag gesê ʼn geregtelike doodsondersoek word gedoen nadat twee susters, onderskeidelik 16 en 25 jaar oud, op 28 Maart spoorloos verdwyn het. Twee ontbinde liggame is op 25 April in ʼn suikerrietveld naby Mnamfu gevind. Familielede van die vermiste susters het hulle aan hul klere wat op die toneel gevind is, uitgeken.

Op 28 Junie het ʼn 23-jarige vrou van die gebied ook spoorloos verdwyn. Jagters het haar ontbindende liggaam in ʼn suikerrietveld naby Nomakhanzana gevind, het Mbele gesê. Sy het ʼn steekwond in die bors gehad. ʼn Saak van moord word ondersoek.

Mbele het ook bevestig dat ʼn geregtelike doodsondersoek gedoen word nadat die ontbinde liggaam van ʼn vrou, vermoedelik in haar laat dertigerjare, Dinsdag – ook in Mnamfu – gevind is. ʼn Nadoodse ondersoek moet die oorsaak van haar dood bepaal.

ʼn Saak van moord word ook ondersoek nadat die liggaam van ʼn onbekende vrou, vermoedelik ook in haar laat dertigerjare, Woensdag in ʼn bos in dieselfde omgewing gevind is, het Mbele gesê.

Mbele het nie gereageer op vrae of die polisie die moontlikheid ondersoek dat ʼn reeksmoordenaar verantwoordelik is nie, asook of die voorvalle gesamentlik of as afsonderlike sake ondersoek word nie.

Al die sake is wél by die Hibberdene-polisiestasie aangemeld.

Volgens die DA gaan vroue aanhou sterf tot die polisie geslagsgebaseerde geweld ernstig opneem.

“Die meeste misdade teen vroue word in KwaZulu-Natal gepleeg en dit is ook die sogenaamde verkragtingshoofstad van die land. Tog is Cele tjoepstil en hanteer hy nie die saak met die dringendheid wat dit verdien nie,” het Ngcobo gesê.

Volgens die polisie se jongste misdaadstatistieke is altesaam 8 107 voorvalle van verkragting – ʼn styging van 4,6% sedert die vorige jaar se syfers – in KwaZulu-Natal aangemeld. Meer as 1 300 voorvalle van seksuele aanranding is in die 2019-’20-boekjaar in die provinsie aangemeld en die toptwee stasies wat verkragtingsyfers betref (Inanda en Umlazi) is ook in KwaZulu-Natal.

Altesaam 4 859 moorde is in die afgelope boekjaar in die provinsie aangemeld, ʼn styging van 10,6%.

“Vroue sterf en hy [Cele] sal eerder konsentreer op die afdwing van onsinnige wetgewing tydens die afsonderingstydperk. Hy laat vroue in die steek deur hul lot te ignoreer en nie hul veiligheid te prioritiseer nie,” het Ngcobo gesê.

“Die huidige regering moet sy kop in skaamte laat sak. Vroue en kinders kan nie in die strate van hierdie land rondstap nie, want hul veiligheid is nie gewaarborg nie. Hulle word steeds daagliks geviktimiseer, verkrag en vermoor en die skuld daarvoor lê by die regering.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Elize ·

Jy is waar Heinrich want die rokers is sagte teikens en die ander is net een te veel vir hom

ES ·

Nee wat, meneer Cele is te besig om wettige vuurwapeneienaars, rokers en geleentheids-drinkers te teiken…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.