Vreugde, kommer oor studiegeld-aankondiging

Betogende studente aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) het Dinsdag weer met polisiebeamptes gebots tydens die #FeesMustFall-veldtog (11 Oktober 2016) Foto: ANA

Lungelwa Zwane, voorsitter van die parlementêre gekose komitee oor onderwys en ontspanning, het die presidensie se aankondiging dat die regering volledig gesubsidieerde hoër onderwys vir arm en werkersklas- voorgraadse studente sal implementeer, verwelkom.

“Hierdie verreikende reaksie van die regering is ʼn stap in die regte rigting om te reageer op die pleidooie van studente in die hoëronderwyssektor,” het sy gesê.

“Die komitee was nog altyd van mening dat die akademiese uitsluiting van armes bloot op grond van bekostigbaarheid Suid-Afrika se demokratiese bedeling ondermyn. Hierdie reaksie is ʼn stap in die regte rigting om die hoë vlakke van ongelykheid in die land reg te stel,” het Zwane gesê.

Die komitee het ook die hernieude fokus op tegniese en beroepsgerigte opleidingskolleges (TVET)-kolleges verwelkom gegewe die vaardigheidstekort in sektors wat noodsaaklik is vir ekonomiese groei. Die toewyding daaraan om dosente in hierdie sektor ook op te lei word ook verwelkom, aangesien dit een van die kwessies is wat deur studente geopper is tydens interaksies met die komitee, het Zwane gesê.

Die aankondiging is egter nie op alle terreine verwelkom nie. Die DA het in reaksie op die presidensie se aankondiging gesê hoewel gratis onderrig vir arm studente verwelkom word, moet die aankondiging gesien word vir wat dit is – “ʼn politieke spel met die hoop en drome van miljoene jong mense”.

Belinda Bozzoli, woordvoerder van die DA, het gesê die presidensie se verklaring is ʼn kombinasie van “populistiese politiekery, bedrieglike taalgebruik en voorstelle sonder kosteberaming”.

Bozzoli meen pres. Jacob Zuma het tot nou gewag met hierdie aankondiging sodat hy opslae by die ANC se verkiesingskonferensie kan maak, terwyl studente, hul families en hoëronderriginstansies al lank angstig wag op nuus oor studiefooie.

“Sulke goedkoop politiekery is verstommend. Dit is ook nie verbasend nie dat sy verklaring vol beloftes is, maar geen werklike implementeringsbesonderhede bevat nie,” het sy gesê.

Studente betoog op die kampus van Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU) oor studiefooie. Foto: Twitter via @Sparkey13

Zuma het gesê gratis hoër onderrig sal aan arm en werkersklasstudente verskaf word wat uit Suid-Afrikaanse huishoudings met ʼn gesamentlike jaarlikse inkomste van minder as R350 000 per jaar kom. Bozzoli meen dit is niks nuuts nie en bloot ʼn voortsetting van wat die ANC nog altyd sê.

“Hierdie beperkte aanbod van ‘gratis onderwys vir armes’ is nie finansieel haalbaar nie. Dit sal ongetwyfeld lei tot ʼn verhoging in die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS)-begroting van minstens 100% – van die huidige R11 miljard na R22 miljard. Inteendeel, die getal studente in hierdie kategorie is heeltemal onbekend en hierdie voorstel behels waarskynlik nog ʼn hoër getal. Dit kan die koste van NSFAS tot R30 miljard opstoot.”

Bozzoli het uitgewys hoe die verskillende beloftes in die presidensie se verklaring sonder enige werklike kostes en bedrae weergegee is. “Die DA staan by die drie-vlak-model vir befondsing wat ons aan die Heher-kommissie voorgestel het. Die model is ontwerp om die stelsel stabiel te hou en terselfdertyd te verseker dat die sogenaamde ‘missing middle’-studente nie agterweë gelaat word nie, terwyl arm studente finansieel gedek word,” het sy gesê.

“Onder ons model sal die armste studente lenings ontvang wat omgeskakel word na toelae wanneer daar sukses behaal word, wat alle hulle koste sal dek. Studente op middelvlak-inkomste sal kwalifiseer vir ʼn kleiner gedeelte van die ondersteuning, wat gegradeer word volgens hul gesin se inkomste. Daar sal van studente wat in staat is om hul eie fondse te betaal, verwag word om dit te doen – en hulle sal beslis nie gepenaliseer word omdat hulle dit doen nie.”

Bozzoli het gesê die DA vrees dat die presidensie se verklaring meer kwaad as goed sal doen deur verwagtinge by studente te skep. “Ons is bekommerd dat die begin van die akademiese jaar in 2018 nog onrus en betogings sal behels en frustrasie by studente en die instansies waar hulle studeer sal veroorsaak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

zoom zoom ·

Nou gaan die land brand as die regering nie hou by wat zuma aan die studente belowe het. Waar die geld vandaan gaan kom vir alles wat hy hulle belowe het, weet nugter alleen

Jacques venter ·

Zuma sê; gratis onderwys vir gesinne wat onder R350,000 per jaar verdien, sowat R29,000 per maand. Sou n gesin R32,000 per maand verdien en hulle het twee kinders op unversiteit kan hulle met klasgeld en boeke en losies maaklik R80,000 ,swakker daaraan toe wees as die gesin wat R29,000 verdien.
Waarom nie n glyskaal nie?

Ouer ·

Ek het 2 kinders op Universiteit en dit is nag.Die rente vir n studielening by US werk uit op R330.00 per maand net aan rente alleen. En dit is net vir een kind na merite beurse.Dan is daar nog die banklenings vir verblyf waaraan ek vir rente per maand R1600.00 moet opdok.Kosgeld is nie ingesluit nie.En vele ander uitgawes.Registrasie geld vir albei kinders is R30 000.00 .Ek slaan my oe op na die berge!! Vir albei kinders is dit R250.00.00 per jaar.

Casper Labuschagne ·

“Ki votela ANC, the money is not finished yet…”

Maar nou is die geld op, en rommelstatus sal net nog werklose gegradueerdes beteken. Die uiteinde gaan wees dat basiese universiteitsgrade net so nikseggend en algemeen nutteloos geag sal word as die hedendaagse waardelose matrieksertifiaat wat vir werkgewers niksseggend is oor die werklike vermoë van werksoekers.

Johan van Coller ·

Die vraag wat gevra moet word is sal die kinders wat in arm blanke plakkerskampe en kinders van blanke “werkersklas” mense dieselfde kans tot onderwys ontvang ?? Ekwaliteit vir almal is tersprake hier

Wynand ·

Na die eerste jaar op univer.dop meeste
want hulle was deurgesit in die skool sonder om te slaag.

Kobus ·

Nog erger. Baie dop nie, dring aan op regstellende aksie poste en verdien reuse salarisse sonder dat hulle opgewasse is om enigiets van waarde te doen.

Hansie slim ·

As al wat ‘n swaap is nou gratis toegang kry, gaan hulle dosente NOG meer dwing om hul net eenvoudig deur te sit. Jy kry baie gegradueerdes wat daar sit met hul laptops en net Tetris speel, maak geen bydrae nie en verdien masiewe salarisse. Wanneer gaan hierdie soustrein ontspoor?

Lollie ·

Maak dit verpligtend dat elke persoon wat ń kind in die skool sit ń studiepolis miet uithaal. Laat elkeen vir homself sorg. As ek ń paar jaar terug geld gehad het kon my dogter ook verder gaan studeer het. Niemand het ons gehelp nie, dis maar elkeen vir homself.

Amelita ·

Ek het 2 kinders deur universiteit. Ek voel dat as daar nie betaal gaan word gaan daar ook nie geleer word. Gaan almal wil universiteit toe gaan vir status. Hoe lank gaan n student mag aanhou as hy 1ste jaar druip.
Ek glo as jy weet jy moet betaal of terug betaal aan geld jy sal wil leer want dit is nie ander mense se geld wat gemors word.

John ·

Die bestaande studenteskuld by banke van arm studente, gaan die staat dit betaal of gaan banke met die sak patats sit? Hierdie ondeurdenkte meevaller om anti-x te bevorder gaan krisis op krisis veroorsaak. Daar is reeds te min universiteitsgeboue vir die huidige studentetal. Lekkerlewe in duur meenthuise sal kom en ou ooms en anties met ou groot drome en slim planne vir ‘n goeie oudag op kampus… ja, die lekker ou Stellenbosch en sy flinke rektor kry baie meer vir Kersfees as waarop hy gehoop het…

Frans C ·

Suid Afrika gaan mi dieselfde pad as Zimbabwe loop
met talle gegradueerdes met nuttelose grade in ‘n steierende ekonomie.

Die uiteinde ‘geleerde’ werkloses.’n Gekke paradys.

Peter ·

We want and want and want, but someone else must pay, i want the big salary but won’t pay taxes because why should they get things for free. Al het jy verniet geswot.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.