Vreugde vir SA dokters: Tweeling op pad huis toe

Uwenzile en Uyihlelile Silongoyane wat tydens 'n ses uur lange operasie by die Netcare Unitas-hospitaal suksesvol van mekaar geskei is Foto: ANA

Uwenzile en Uyihlelile Silongoyane wat tydens ‘n ses uur lange operasie by die Netcare Unitas-hospitaal suksesvol van mekaar geskei is Foto: ANA

ʼn Siamese tweeling van Swaziland wat tydens ʼn delikate prosedure by Netcare Unitas-hospitaal geskei is, is op pad huis toe.

“Die babas is ontslaan, maar ons sal hulle nog twee dae in die hospitaal hou as gevolg van die logistiek om hulle na hul huis in Swaziland te vervoer,” het Robert Jordaan, die hospitaal se algemene bestuurder, Dinsdag gesê. “Uwenzile en Uyihlelile Silongoyane sal Donderdagoggend vroeg die hospitaal verlaat, so ons doen net alles in ons vermoë om seker te maak alles gaan vlot verloop wanneer hulle huis toe gaan.”

Hy het gesê die hospitaal het ʼn oornagfasiliteit waar die ouers verniet in die hospitaal kan oornag. “Ons het gevoel dit is noodsaaklik dat hulle naby die babas bly terwyl hulle hier is. Die ouers het die hele tyd hier gebly. Dis fantasties om te weet dat die babas huis toe gaan, en nie na ʼn primêresorg-hospitaal nie.”

Jordaan het bygevoeg die “baie spesiale tweelingmeisies” het beduidende vordering gemaak en is die afgelope naweek uit die pediatriese hoësorgeenheid na die pediatriese saal oorgeplaas.

Hulle is deur middel van ʼn keisersnee by die Good Shepherd-hospitaal in Siteki, Swaziland, op 2 Januarie vroeggebore op 36 weke, as ʼn Siamese tweeling. Hulle het tydens hul geboorte saam 4,21 kg geweeg.

Hulle onderlywe was aan mekaar geheg, maar hulle het nie enige noodsaaklike organe gedeel nie. Hulle is deur die Swazilandse regering se Phalala-fonds op 15 Januarie na Unitas-hospitaal oorgeplaas, ʼn paar dae voor die prosedure om hulle te skei.

Jordaan het gesê Uwenzile en Uyihlelile het ʼn spesiale plek in die harte van die personeel ingeneem, veral die dokters wat vir hul sorg verantwoordelik was.

“Netcare Unitas-hospitaal was bevoorreg om ʼn deel te speel om dié mooi jong meisies ʼn kans te bied op ʼn gesonde, gelukkige toekoms. Dit is ʼn noemenswaardige mylpaal in die hospitaal se geskiedenis, en dit is die eerste keer wat ʼn Siamese tweeling by die hospitaal geskei is,” het hy gesê.

Die tweeling se ouers is die 20-jarige Bongekile Simelane en haar man, Mbongeni Sihlongonyane. Hulle was Dinsdag oorstelp van vreugde tydens die fotosessie by die hospitaal.

Dr. Mariza de Villiers, die pediatriese sjirurg wat die prosedure gelei het, het gesê die prosedure was redelik eenvoudig, omdat hulle nie enige noodsaaklike organe gedeel het nie. “Dit was die fyner besonderhede wat die probleem was. Ons het ʼn groot span gehad, en almal het voor die tyd saam vergader om alles te beplan. Daar was 11 verpleegpersoneel wat in twee spanne verdeel is,” het sy gesê. “Die sjirurgiese personeel was vier persone, insluitend dr. Paul Stevens en ek. Ons het ook twee assistente gehad wat ons kom help het. Die narkosespan was dr. Henrika Rossouw, dr. Sandra Spijkerman, dr. Marleen Odendaal en dr. Jeanri Smith.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

m ·

Die dokters het n puik werk gedoen maar wat kos dit die belastingbetalers. Ons raak ook nou moeg om vir alles te betaal in hierdie land.

Wilma ·

“m” – volgens die berig is dit deur die Swazilandse regering se Phalal-fonds betaal. Niks met jou belasting nie.
Raak so moeg vir almal se negatiewe kommetare!
Sê eerder well done en sterkte vir die twee bloedjies!

Alida ·

m. As jy die berig gelees het sou jy gesien het dit kos ons belastingbetalers nie een enkele sent nie.

ina ·

Baie vroue dokters betrokke…..baie trots op julle. En net geluk en liefde vir die ouers met hulle baba dogtertjies. God het ons almal geskape na sy beeld.

tokkie ·

Baie geluk. Dit is so dat die Zwazi land regering vir dit betaal. Maar onthou waar kry hulle geld. Natuurlik by Zuma en dan het die koning nog die vermetelheid”gehad om kommissie te vra op geld wat hy by ons “leen”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.