Vriend slaan man glo by partytjie dood

Nardus Blokland (55). (Foto: Verskaf)

Wat ʼn gesellige verjaardagnaweek moes wees, het in tragedie ontaard toe Sean Swart, wat sy 40ste verjaarsdag op ʼn plaas buite Dullstroom sou vier, glo sy vriend in ʼn woedebui doodgeslaan het.

Nardus Blokland (55), ʼn sakeman van Benoni aan die Oos-Rand, is volgens ʼn nadoodse verslag aan kop- en borsbeserings dood. Swart het Nardus volgens ooggetuies met die vuis bygedam, waarna hy hom sonder waarskuwing met ʼn houtkroegstoel en sy vuiste geslaan en geskop het.

“Nardus was my sielsgenoot. Ons was elke dag van die week bymekaar,” het Nardus se weduwee, Alison, Donderdag hartseer aan Maroela Media gesê. Die egpaar was 31 jaar getroud en het twee volwasse kinders en een kleinkind.

“Hy [Swart] het ons familie vernietig en van ons gesteel. Geregtigheid moet geskied – vir Nardus en vir ons familie.”

Swart, eienaar van die Highside Tavern in Tonteldoos en bedryfshoof by die maatskappy DriveRisk, het Woensdag vir ʼn tweede keer ná sy inhegtenisneming in die Groblersdal-landdroshof verskyn waar hy op borgtog van R15 000 vrygelaat is.

Na verneem word, is Swart ook van Benoni, maar sou hy sy 40ste verjaarsdag verlede naweek op sy plaas in Tonteldoos (sowat 20 km buite Dullstroom), waar sy kroeg ook geleë is, vier.

Alison en Nardus Blokland. (Foto: Verskaf)

Die Blokland-egpaar, wat Swart deur Nardus se beste vriend leer ken het, was onder die gaste wat na Swart se verjaardagvieringe genooi was.

Die egpaar het die Vrydag deurgery en sou by die plaas oorslaap. Die amptelike partytjie sou die Saterdag plaasvind.

‘Ek het nog nooit so iets gesien nie’

Alison sê die Vrydagmiddag en -aand was aangenaam en dat almal voor die aanranding lekker saam gekuier het.

Nardus en Swart se swaer het glo gevegkunsbewegings aan mekaar gedemonstreer toe die swaer, wat onlangs ʼn heupvervanging gehad het, geval het. Alison sê hy het egter opgestaan en die twee het hande geskud en saam gelag.

“Sean het dit van ’n afstand  af gesien en opgemerk dat niemand met sy familie mors nie. Hy het na my man gestap en hom met een hou platgeslaan. Nardus het dit glad nie sien kom nie. Dis dan sy vriend.”

Alison sê verskeie mense het ingetree en dat hulle ná dié voorval na buite beweeg het om “af te koel”.

Sy beweer dat Swart buite op sy meisie, suster en nog ʼn vrou geskree en hulle gevloek het.

Volgens Alison het Swart na sy kroeg teruggestap en die deur agter hom toegeklap. Nardus het na bewering in dié stadium buite naby ’n groot voertuig gestaan en Alison het saam met ’n vriendin op ’n bankie gesit.

Kort daarna het Swart glo met die houtkroegstoel na buite gestorm en Nardus daarmee aangerand. Alison sê haar man het dadelik op die grond geval, met Swart wat hom met sy vuiste slaan en hom skop.

Sy het gegil en Nardus se beste vriend, deur wie hulle Swart leer ken het, het Swart van Nardus afgetrek.

“Daar het bloed by sy neus, mond en ore uitgestroom en hy was bewusteloos. Ons kon nie ʼn hartklop voel nie en sy polsslag was baie swak.

Die Blokland-gesin in gelukkiger tye. Van links na reg is die egpaar se dogter Bernice, Alison, hul seun Brendun, skoondogter Andrea, Nardus en Bernice se kêrel, Antony Pratsch . (Foto: Verskaf)

“Ek het nog nooit gesien dat iemand ʼn ander persoon so aanval nie. Dit was verskriklik traumaties.”

Volgens Alison was Swart ná die aanranding skoonveld. Hy het glo ook nie teruggekeer om te kyk of Nardus oukei is nie.

Ander mense op die toneel het noodhulp op Nardus toegepas en ʼn ambulans het glo eers drie ure later opgedaag.

“Nardus is op die toneel dood verklaar en die polisie is ontbied. Ek het by hom bly sit totdat sy liggaam die volgende oggend weggevat is. Die dag toe ons getrou het, het ek hom belowe dat ek by hom sal wees tot die dood ons skei.”

Alison sê sy, hul kinders en Nardus se broer, Marcel, kry baie swaar.

“Hy was so geliefd en werklik ʼn goeie mens met ʼn goeie hart. Hy het so maklik vriende gemaak. Ons het net verlede week oor ons toekomsplanne gepraat.”

Marcel sê sy broer was “ʼn legende”.

“Almal het hom geken, want hy het vriende gemaak oral waar hy gaan. Hy was so liefdevol en sou nie ʼn vlieg skade aandoen nie. Sy familie was alles vir hom.”

Maroela Media het ʼn navraag aan die polisie en Nasionale Vervolgingsgesag gestuur. Hul terugvoer sy bygewerk word sodra Maroela Media dit ontvang. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Mathys ·

Ek sal nie verbaas wees as die aanvaller op voorskrif anti depressante of selfs metielfenidaatchloried (Ritalin) was nie. Alternatiewelik glo ek, sal rekreasie dwelms ook kan veroorsaak dat ‘n persoon homself so te buite gaan. Verskriklik tragies, innige meegevoel aan die slagoffers

Jerry ·

Net die mense wat daar was sal werklik weet wat gebeur het. Ek kan nie oordeel nie maar dit is nou maar net so dat waar daar oortollige drank verbruik is, kan jy moeilikheid verwag. Nietemin sterkte en onthou n Storie het twee kante.

Niklaas ·

Baie onnodig en baie tragies. Mens het jouself in toom hou te alle tye . Drank is geen verskoning vir aanrandings nie (bygesê , as daai optrede aangehelp of veroorsaak was deur drank).

gpsa ·

3 ure gewag vir ambulaans, seker die polisie is selfs vinniger as dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.