Vriende red vlieërplankryer se lewe

Argieffoto: NSRI

Argieffoto: NSRI

ʼn Duitse vlieërplankryer is gered terwyl lede van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) besig was met die soektog na ʼn vermiste branderplankryer.

Volgens die NSRI is hul lede Vrydagmiddag ontbied ná berigte dat ʼn branderplankryer in die moeilikheid beland het naby die Milnerton-lighuis. Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, het gesê ʼn helikopter en lede van die Wes-Kaapse nooddienste het gehelp in die soektog maar daar was geen teken van die persoon nie.

Tydens die soektog is die NSRI egter bewus gemaak van ʼn vlieërplankryer wat in die moeilikheid beland het by Eerste Steen tussen Bloubergstrand en Melkbosstrand. “’n 52-jarige Duitse man het glo saam met twee vriende geoefen vir ʼn vlieërplankrygeleentheid toe hy bewusteloos geslaan is. Die man se twee vriende het hom gevind waar hy gesig na onder in die water gedryf het.”

Volgens Lambinon het die mans hul vriend omgedraai en met hom gedryf terwyl hulle sy kop bo water gehou het. “Hulle het gesien hy haal nie asem nie waarna hulle vermoedelik mond-tot-mond-asemhaling toegepas het en daarin kon slaag om hom weer te laat asemhaal.”

Lambinon het gesê daar was stormsterkwinde en die mans het aanhou dryf saam met hul vriend wat kort-kort sy bewussyn herwin en weer verloor het. Die drie is sowat 700 m van die strand af gevind en is deur personeel van NSRI na die strand geneem vir behandeling.

Die man se toestand was kritiek dog stabiel. Hy is per helikopter in na ʼn nabygeleë hospitaal geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

DPJ ·

Dit was braaf van sy vriende wat so saam met hom gedaf het. Mag hy gou herstel.

Christo Pienaar ·

Hulle verdien die vervloë dae se ‘Wolraad Woltemade’ toekenning. Dankie NSRI vir julle onbaatsugtige diens – en dit sonder vergoeding!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.