Vriende se Werkersdagbraai eindig tragies

Argieffoto: Phillip Bruwer

ʼn Werkersdagbraai vir drie vriende het Dinsdagaand tragies op ʼn plaas buite Lephalale (Ellisras) in Limpopo geëindig.

Marius Müller, nasionale operasionele koördineerder van AfriForum, het Woensdag aan Maroela Media gesê die vriende het hul vakansiedag saam geniet en die middag op ʼn koppie op een van die drie mans se werkgewer se plaas gaan braai.

“Op die koppie is daar ʼn krans wat regaf loop. Een van die mans, vermoedelik in sy 30’s, het naby die krans gestaan toe hy vermoedelik oor los klippe geval het of daar moontlik klippe onder hom meegegee het. Hy het sowat 10 m tot 15 m na sy dood geval,” het Müller gesê.

Müller het gesê Ellisras se AfriForum-buurtwagtak is omstreeks 19:00 na die plaas ontbied om bystand te verleen.

“Die man is by paramedici se aankoms op die toneel dood verklaar, waarna daar ʼn reusepoging aangewend is om sy liggaam na die naaste pad te bring. Reddingswerkers het die man se liggaam met ʼn toustelsel terug tot op die koppie gehys, waarvandaan sy liggaam omstreeks middernag met ʼn bakkie na ʼn nabygeleë pad geneem is.”

Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek. Die lykskouing sal in Polokwane gedoen word.

Die man se naam is aan Maroela Media bekend, maar word weerhou aangesien al sy naasbestaandes nog nie van sy dood in kennis gestel is nie.

Hy is ongetroud, maar is verloof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Bekommerd ·

Dis ‘n frats ongeluk en baie tragies. Innige meegevoel aan die familie, vriende en verloofde.

Anon ·

Toe ek die opskrif lees, toe het ek n aanval verwag. Sterkte aan sy familie en verloofde.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.