Vriende van vermoorde Heilbron-boer maak harte oop  

Petrus Steyn by sy vrou, Annette, en hul kinders Tiané (links), Claudine en Paul. (Foto: Facebook)

Boesemvriende van die vermoorde Petrus Steyn (51), ʼn boer in die Heilbron-distrik, sal hom altyd as ’n nederige mens onthou, een wat enigiets vir sy gesin of medemens sou doen.

Steyn se liggaam is Donderdagoggend deur ʼn werker op sy plaas tussen Heilbron en Frankfort ontdek. Hy het op dié plaas onder meer met skape en beeste geboer.

Steyn, sy vrou, Annette, en hul drie kinders het die afgelope 17 jaar in Heidelberg gewoon en sou oor minder as vier weke permanent plaas toe trek.

Die egpaar se jongste dogter, Tiané, gaan reeds op Frankfort skool, waar sy ’n gr. 9-leerder is. Hul seun, Paul (19), studeer aan Sol-Tech in Pretoria en hul oudste dogter, Claudine (21), is ’n student aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom.

Bok van Aswegen, Hendrik de Wet, Theo Muller, Barend Schoeman en Derick Eriksen het Vrydag aan Maroela Media gesê hul vriend se plek is leeg.

Die vriendekring tydens ’n vorige jaggeleentheid. Voor sit Petrus Steyn met sy wisseltrofee vir “stoutgat van die jaar”. (Foto: Verskaf)

Dié vriendekring het elke jaar ʼn jagtog saam met hul seuns onderneem – ʼn geleentheid wat die groep as die “hoogtepunt van hul jaar” beskryf.

“Dit sal nooit weer dieselfde wees sonder hom nie. Sy plek sal altyd leeg wees,” sê Van Aswegen.

Hulle sal Steyn ook onthou as iemand wat ʼn bok vir sports was en almal om hom kon laat lag.

Hy het hoeka tydens die groep se laaste jaggeleentheid in Junie vanjaar vir die tweede agtereenvolgende jaar die wisseltrofee vir die “stoutgat van die jaar” ingepalm.

“Hy was ʼn grapperige mens.”

Verder stem Steyn se vriende saam dat hy iemand was wat “opreg omgegee het”.

“Wanneer hy jou gevra het hoe dit gaan, het hy werklik belanggestel om na die antwoord te luister. Dit was nie sommer iets om uit gewoonte te vra soos dikwels maar die geval is nie,” sê Eriksen.

Eriksen het weens Covid-19-verwante redes die groep se onlangse jagtog misgeloop, maar vertel dat Steyn hom kort daarna met droëwors en biltong verras het om hom te herinner dat hulle [die vriendekring] nie van hom “vergeet het nie”.

“Dis die soort mens wat hy was.”

Schoeman sê Petrus het hom geleer om tyd te maak vir vriende.

Petrus Steyn en sy boesemvriend van die afgelope 10 jaar, Bok van Aswegen. (Foto: Facebook)

“Goeie vriende kom nie altyd oor jou pad nie – jy moet hulle reg kies.”

Muller sê Steyn was ook iemand na wie mense opgekyk en geluister het.

“Petrus het as ʼn stil ou oorgekom, maar hy was nie bang om standpunt in te neem nie. En wanneer ʼn stil ou praat, is mense dikwels geneig om te luister.

“Hy het werklik op ʼn mooi manier ʼn impak gemaak,” sê Muller.

Volgens De Wet sal Steyn ook altyd onthou word as iemand wat uiters hardwerkend, deeglik en presies was.

“Alles moes altyd netjies en reg gedoen word.”

Steyn was vroeër jare ʼn finansiële direkteur by Pick n Pay, maar het hom die afgelope paar jaar heeltyds op sy boerdery toegespits – ʼn beroep waarvoor hy ʼn groot voorliefde gehad het.

Sy grootste liefde was egter sy familie.

“Petrus se gesin was vir hom belangrik. Hy en sy pa was ook baie na aan mekaar.

“Vir hom het alles maar oor sy familie gegaan,” vertel De Wet.

Hy sê hoewel Steyn se dood baie swaar is om te verwerk, gaan dit onder omstandighede goed met sy vrou en kinders.

“Ek glo die realiteit sal nog mettertyd insink.

“Ons sal hulle deurentyd ondersteun waar ons kan,” sê De Wet.

Die gesin is tans besig om begrafnisreëlings te tref.

Volgens Van Aswegen is niemand nog in verband met die moord op Steyn in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Di ·

Dis so onregverdig dat onskuldige mense se lewens geneem word deur gewetenlose kriminele. Die Regering moet spoedig met ‘n oplossing vorendag kom met al die plaasmoorde wat plaasvind. Op die einde gaan daar ‘n groot voedseltekort wees in die land, die meerderheid gaan die meeste daaronder ly. Baie sterkte aan die familie en vriende, mag die Hemelse Vader julle troos in hierdie moeilike tyd.

Blomme ·

Dit klink of hy goeie mens was. So ontydige en onnodige dood. Ai as die regering net vervang kan word met mense sodat die imbisiele wat hulself ministers noem terug kan keer na die skoolbanke om te gaan leer wat dit is om kennis te hê van die wêreld en alles van waarde daarin. Hulle moes maar net in overalls in die agterplase gebly het.. Kan eenvoudig nie hul eie mense beheer nie.

Magda ·

Waar was Afriforum en TLU met Di man se moord, waar is di landelike veiligheid wat so baie deur hulle genoem maar ni regtig gesien kan word ni.

Werner ·

As die boere nie hulle eie paraatheid opskerp nie kan die TLU of Afriforum niks daaromtrent doen nie.Tensy jy bereid is om R5000 per dag te betaal dan kan ons n lyfwag vir n boer voorsien.

Gary ·

Ek het nie meer woorde vir hierdie dinge wat met ons mense gebeur…………dit raak nou net vir my te veel en te hartseer.

Oosterman ·

Ons familie staan mekaar altyd by. Ons sal alles wat ons kan vir Oom Petrus se gesin doen. Ek is self nie meer in SA nie, maar ons elkeen doen wat ons kan. Ons het dit gedoen toe my ander oom ook so vermoor is, en ons sal dit weer die keer doen. Mag daar net nooit nog ‘n keer wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.