Vriendinne buite Pta-huis ontvoer

Melanie Booysen en Marelize Taljaard. Foto: Facebook

ʼn Nagmerrie-ervaring vir twee vroue van Pretoria wat Sondagaand buite ʼn huis in Montana oorval is, in die kattebak van ʼn voertuig geboender is en ure lank moes vrees vir hul lewe, het tot ʼn gelukkige einde gekom toe hulle teen middernag langs die pad op Solomon Mahlangu-rylaan gevind is.

Melanie Booysen en Marelize Taljaard, twee vriendinne, is omstreeks 20:00 buite Taljaard se huis in Tahitilaan deur vyf mans oorval. Die vroue is in Booysen se Toyota Corolla gedwing en die ontvoerders het met hulle weggejaag.

Volgens ao. Johan van Zyl, woordvoerder van die polisie, is die twee vroue naby die Sefako Makgatho-afrit in ʼn ander motor, ʼn rooi voertuig, se kattebak geboender. Die ontvoerders het daarna ure lank met hulle rondgery, sonder dat die twee vroue geweet het waar hulle is of wat met hulle sou gebeur.

Van Zyl sê in hierdie tyd het die ontvoerders een van die vroue se man gekontak en ʼn losprys van R2 000 geëis. Hulle het geëis dat dié geld deur middel van eWallet na hulle oorgeplaas word. “Die man het die geld oorgeplaas, maar daarna het die ontvoerders hom weer gekontak en gesê die PIN wat hy gestuur het werk nie. Hy het toe nóg R2 000 oorgeplaas,” het Van Zyl gesê.

Intussen het Booysen se skoonma, ʼn lid van die misdaadbekampingsorganisasie eBlockwatch, vir Andre Snyman, stigter van eBlockwatch, gekontak en ingelig dat haar skoondogter ontvoer is. Snyman verduidelik hoewel Booysen se skoonma ʼn lid van eBlockwatch is, is haar dogter nie ʼn lid nie. Dit was problematies omdat die organisasie toestemming het om ʼn soektog na enige van sy lede te gelas sonder om eers ʼn artikel 205-dagvaarding deur ʼn regter of landdros te laat teken.

Melanie Booysen. Foto: Facebook

ʼn Artikel 205-dagvaarding gee die aansoeker toestemming om enige informasie te bekom wat relevante of wesenlike inligting rakende ʼn beweerde oortreding kan gee.

Omdat Booysen nie ʼn lid van eBlockwatch is nie, moes ʼn SMS-kennisgewing aan al 6 000 van eBlockwatch se lede in Pretoria gestuur word om hulp te versoek. “Hierdie benadering is baie duur en indringend. Dit het wel die gewenste effek gehad en ons het die gesamentlike hulp van baie lede aangewend,” het Snyman gesê.

“Ons het al ons truuks wat ons oor die afgelope 18 jaar geleer het gebruik en met behulp van die polisiespanne kon ons die kapers onder genoeg druk plaas om die vroue af te laai.”

Van Zyl het gesê iemand het die vroue ná middernag in Solomon Mahlangu-rylaan sien loop, hulle opgelaai en na die polisie geneem. “Hulle was ongedeerd en is nie deur die ontvoerders aangerand nie,” het hy gesê.

Volgens Van Zyl word Booysen se Toyota Corolla steeds vermis en is niemand nog in hegtenis geneem in verband met die voorval nie. “Ons volg alle moontlike leidrade op om die verdagtes vas te trek.”

Sake van kaping en ontvoering word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

marous ·

Dak vader hulle veilig ! Mense is siek en sat vir grynlaggende , ontkennende , verantwoordelikheids ontduikende , stilswyende en openlike aanhitsende regering van die land. Daar is net een ding wat gaan oorbly en dit is vergelding . As die regering daaroor wil galbraak moet hulle besef dit is presies waarop hulle die land afgestuur het . Vou gaan almal vou maar nie sonder gevolge nie.

Niekie ·

Vergelding is nooit n oplossing nie. Dit het teveel ander implikasies bv jou direkte naasbestaandes wat daardeur geraak gaan word. Mens maak nie een verkeerd reg met n ander verkeerd nie.

Feitlik ·

Die artikel is nie fetlik korrek nie, ek wens skrywers wil hulle feite in order kry voor hulle dit plaas.

Nettie ·

@Feitlik – nou waarom gee jy, wat skynbaar die ware feite ken – dit dan nie weer nie? Wys Maroela Media op die verkeerde inligting wat hulle rapporteur – ek is seker hulle sal dit waardeer en die berig daarvolgens wysig.

Die Waarheid ·

1. Voorval het 19:15 plaas gevind.
2. Daar was aanvanklik net 2 gewapende mans.
3. Eerste betaling is 23:00 geëis, 2de betaling net na 24:00 omdat ontrekkings slegs elke 24-uur gedoen kan word.
4. Hulle is 02:00 eers gevind
5. Een van die vroue is wel aangerand, beide is beseer gedurende ‘n jaagtog in die kattebak.

Die Waarheid ·

Die totaal was R4000.. maar ja, wat is ‘n mens se lewe werd?

Vraagteken ·

@Die waarheid, die bedrag is irrelevant. R2000 of R4000 – Dit is mos nie ‘n losprys werd nie?

Soos ek kan aflei klink dit vir my asof jy ‘n goeie verhouding met die slagoffers het. So hier is my raad, gaan hoor wie van die twee skuld iemand R2000 of R4000 (of ‘n baie klein bedrag). As jy die antwoord op daardie vraag het, dan weet jy wie hulle ontvoer het.

Die Waarheid ·

Jy maak ‘n fout, hulle is weg met die motor, persoonlike besittings en ek vermoed hulle het gedink die limiet vir die tipe oorplasing is R2000, in plaas van net ‘n motor het hulle meer probeer buit maar GELUKKIG wou hulle dit gou oor-en-verby kry.
Moenie probeer insinueer dat hulle iets verkeerd gedoen het die hulle verdiende loon is nie

Die Waarheid ·

… verder laat MM dit klink of hulle bietjie rond gery is en vrygelaat is nadat geld ontrek is… hulle is op meer as een geleetheid gesê dat hulle vermoor gaan word!

Dieper fase van verval ·

Hierdie is die begin van baie lelike dinge, dit is n nuwe, verdiepte fase van anargie waarin ons staat nou inbeweeg.

A ·

Ja jy lees reg. Mens kan nie meer as R3000 per dag ewallet nie.

Vraagteken ·

Punt bly staan; Hoekom vra hulle vir R2000.00 in plaas van R3000.00? ‘Common sence’ sê vir my dat ‘n ontvoerder vir die grootste moontlike bedrag gaan vra waarvoor hy kan. Dalk kan iemand my reg help?

Gesiggie ·

Regtig so siek… hul sal enige iets doen om geld te kry?? ek is so dankbaar vir almal se vinnige optrede en dat die 2 vrouens veilig is… goeie werk deur almal

M ·

Julle hierdie is vir my shocking! Nou word volwassenes al ontvoer vir losprys in ons land….nie eers meer veilig as mens op jou voorstoep staan en gesels nie… sjo….

Driekie ·

Klink my of die ontvoerders dringend die bedrag gekort het … Hulle moes so n bedrag vinnig bekom…..Moontlik vir drugs.

Daan ·

EWallet laat enige skelm toe om geld wat gedeponeer is,te trek sonder ‘n ID dokument.Kan die banke nie dit ‘n vereiste maak nie?Hulle moedig so misdaad aan en is eintlik dan medepligtig aan die misdaad.Duisende mense is al so bedrieg,ook met motors en artikels wat hulle aanlyn wil koop.Dit moedig ook geldwassery aan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.