Vroeë Kersfees vir motoriste voorspel ná skok oor petrolprys

Argieffoto

Die meeste Suid-Afrikaners is waarskynlik onkant betrap deur die balansheffing op die prys van petrol wat vandeesmaand in werking tree, maar ekonome verwag minstens goeie nuus oor die brandstofprys voor Kersfees.

“Ek dink die prys gaan definitief daal; daar is by my geen twyfel nie,” het ekonoom Mike Schüssler oor sy verwagting vir aanstaande maand se prys gesê.

Schüssler sê die olieprys daal stadigaan, terwyl die rand verstewig het – alles belowende faktore vir ʼn moontlike daling.

Daar was dié maand egter geen verligting vir motoriste nie.

Die Sentrale Energiefonds het gister bekend gemaak die groothandelprys van diesel styg om middernag met 48c/ℓ en 51c/ℓ vir diesel met ʼn swaelinhoud van onderskeidelik 0,05% en 0,005%.

Die prys van paraffien styg met 37c/ℓ en gas word 61c per kilogram goedkoper.

Die prys van petrol bly onveranderd ten spyte van ʼn oorverhaling van 23c per liter vir November. Dít weens ʼn balansheffing van 21,92 sent per liter wat vandeesmaand in werking gestel is.

Danksy die oorverhaling het alles daarop gedui dat die prys met tussen 10c en 20c sou daal. Talle ekonome het óók ʼn daling verwag.

Die Departement van Energie sê egter weens die skerp stygings in brandstofpryse die afgelope paar maande, moes die balansheffing in November ingestel word om die balansrekening – wat R2,2 miljard in die rooi is – te laat klop.

Gerrit van Rooyen, ʼn ekonoom by NKC African Economics in Kaapstad, sê die regering het in September vanjaar die ongewone stap gedoen om ʼn laer petrolprysverhoging aan te kondig as wat eintlik nodig was – die petrolprys is verhoog met net 5c/ℓ, in plaas van 26c/ℓ.

Van Rooyen sê dit het verbruikers tydelike verligting gegee ná verskeie skerp prysverhogings in die maande voor September.

“Dit het egter beteken dat die staat olieraffinaderye effektief geld geskuld het omdat die petrolprys te laag was. Dié skuld moes een of ander tyd gedelg word.

“Die verligting was van korte duur, want ’n skerp styging in die olieprys en randverswakking in September het die regering gedwing om die petrolprys in Oktober met byna ’n R1/ℓ te verhoog,” het Van Rooyen gesê.

Hy sê omdat motoriste reeds aan die hoër prys gewoond was, het die regering besluit om vandeesmaand nié die petrolprys te verlaag nie. Dít sodat olieraffinaderye vergoed kon word vir die te lae petrolprys in September.

Van Rooyen stem saam dat brandstofpryse moontlik verlaag kan word as die neiging van laer oliepryse volgehou word.

“Oliepryse het sedert die begin van Oktober skerp gedaal omdat dit blyk dat die VSA se sanksies teen Iran nie so ’n groot impak op Iran se olieproduksie gaan hê as wat voorheen gevrees is nie. Daar is ook kommer oor stadiger ekonomiese groei in die wêreld wat die vraag na olie kan verminder. Olieproduksie in Amerika, Rusland en Saoedi-Arabië hou ook aan styg,” het hy gesê.

Hoekom was die balansheffing nodig?

Van Rooyen sê ’n gedeelte van die petrolprys gaan aan plaaslike olieraffinaderye om hulle te vergoed vir die invoer en verwerking van brandstof.

Dit word rofweg bereken volgens die rand-dollar-wisselkoers en ’n mandjie van internasionale brandstofpryse, geprys in dollar.

Hy sê die verskil tussen die vergoeding wat raffinaderye in ’n maand gekry het en wat hulle móés kry, bepaal gewoonlik die verandering in die petrolprys vir die volgende maand.

“Op grond van die prysbewegings van die rand en die olieprys in Augustus, was die petrolprys te laag vir raffinaderye in September. Hierdie geld wat die regering aan die raffinaderye geskuld het, het ’n negatiewe balans in die balansrekening (slate levy account)  veroorsaak.

Die balansheffing in Oktober was omtrent 21c/ℓ.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Diefie ·

Ja en as snert praat ‘n sandkorreltjie was, was die mense die Nabib woestyn.

Wurmpie ·

En waar is al daai olie wat opgehoop het en net so weggegee is deur ń vorige minister

Lou ·

Ek sou baie graag ‘n grafiek wil sien wat die olieprys, rand dollar wisselkoers en die brandstofprys oor ‘n tydperk van ‘n paar jaar vergelyk. Ek het ‘n sterk vermoede die publiek word ‘n pampoen gerol oor die berekening van die brandstofpryse. Dit gaan meer oor hoe lyk die staatskas se tekort as oor wat is die olieprys en wisselkoers

Ilse ·

Ag asseblief. Soos gewoonlik sal die petrolprys opgaan net voor Desember of anders net na Desember.

Spark Plug ·

Kan die prys van n koue drink dingetjie nie ook daal nie…dis amper kersfees

B-man ·

As ek die regering was sou ek ook November die prys laat styg en dan ‘n Krismisgeskenk gee in Desember, sodat almal kan reis met vakansie…wanneer Januworry kom laat ek die mense hik met nog ‘n styging, want dan moet hulle terug huis toe. Geldmaak besigheid.

Drikus Kotze ·

Ek dink die prys van brandstof is glad nie meer gekoppel aan die wisselkoers of olie lewering nie, maar aan vraag en aanbod: ( daar is meer diesel voertuie en werktuie, padvervoer en spoorvervoer as petrol verbruikers, daarom ‘n hoër diesel prys as petrol.

Chris Ws ·

Die anc regering WEET hoe om geld te in hoor!Gelukkig is die meeste motoriste op ons paaie vandag HUL EIE KIESERS so laat hulle maar hoes.Hulle wil mos anc stem.
Intussen ry ek minder as ooit tevore rond en sorg so dat die minimum van my pensioengeldjies in die regering se sak beland.
Al wat ek weet DIE PRESIDENT is direk verantwoordelik vir die hemelhoe brandstofprys agv sy onderdagte beleidsrigting betreffende grondonteining.Almal blameer “die buitelandse” ekonomiee maar HY is die rede.Die was sterk toe hy aan bewind gekom het.Kyk waar is die waarde van die rand nou.

Johannes Nell ·

Dit maak my boos dat diesel opgaan en petrol nie – HOEKOM MOET SA SE DIESELVERBRUIKERS MEER BETAAL OMDAT DIE NOORDELIKE HALFROND NOU IN DIE WINTER SIKLUS INGAAN EN SODOENDE STYG DIE PRYSE DAAR, EN VOLGENS DIT MOET ONS OOK MEER BETAAL. DIT IS NIKS MINDER AS DIEFSTAL AAN DIE ANC REGERING SE KANT NIE. WAAR IS Afroforum en die DA om die diefstal stop te sit. Nou word die “SLATE” FONDS BLAMEER. DIT KLINK MY MEER NA “ROB PETER TO PAY PAUL” SO ONS BETAAL ALMAL IN IEDER GEVAL VIR DIE VERNIETIGENDE VERKEERDE VERWERKINGS. ONS HOOR ALTYD DIE BRANDSTOF PRYS WORD BEPAAL DEUR DIE R/$ WISSELKOERS EN DIE INTERNASIONALE RU OLIE PRYS???

chrisjan ·

Wag maar ,Januarie gaan die brandstof prys maar weer op VOOR die vakansiegangers huiswaarts keer!En die anc regime “smile “BREED!

Posduif ·

Diesel is bitter duur. Dit is vir ons plaasboere, groot trokke en trokke wat ons voedsel vervoer. Al kom die petrol af die kospryse bly dieselfde. Kan nie glo parafien is op nie….. laat mens dink.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.