Vroeë pensioen glo vir Dramat

Lt.Genl. Anwa Drama Foto: Diana Neille, ENCA

Lt.Genl. Anwa Drama Foto: Diana Neille, ENCA

Anwa Dramat, geskorste hoof van die Valke, het glo in ʼn brief aan polisieminister Nathi Nhleko onderneem om op vroeë pensioen te gaan op voorwaarde dat sy skorsing teruggetrek sal word. Die brief is glo aan die Sunday Times uitgelek.

ʼn Anonieme bron het aan die koerant gesê Dramat het geweier om lêers van die Valke te oorhandig rakende kwessies soos Nkandla, ʼn R60 miljoen-bedrogsaak in KwaZulu-Natal en ʼn ondersoek oor John Block, Noord-Kaapse voorsitter van die ANC en nasionale polisiekommissaris Riah Phiyega.

Phiyega het Dramat glo vroeër vandeesmaand versoek om die lêers te oorhandig, aldus die koerant.

Dramat het glo in die brief geskryf hy het magtige vyande gemaak deur invloedryke persone te ondersoek. “Ek is ook bewus daarvan dat daar ʼn veldtog sal wees oor die volgende twee maande om seker ondersoeke wat onder my beheer was, te wysig of aan iemand anders te oorhandig,” het hy glo in die brief geskryf. “Ek is ook bewus daarvan dat sekere sensitiewe ondersoeke moontlik opgeskort sal word.”

Hy het bygevoeg hy is verwyt oor sy versoek dat sekere dossiere “wat met baie invloedryke persone verband hou”, onder een ondersoekende arm gesentraliseer sal word.

Dramat het Nhleko na bewering tot 5 Januarie kans gegee om te reageer.

Hy is geskors hangende ʼn ondersoek oor sy beweerde betrokkenheid by die onwettige uitlewering van Zimbabwiërs in November 2010.

Nhleko het Dinsdag besluit om Dramat te skors, het die minister se woordvoerder Musa Zondi gesê. Hy het bygevoeg dit is ʼn voorkomende skorsing van 60 dae, waarna die ministerie sal besluit of hy aangekla gaan word. Klik hier om meer te lees.

Dramat is verlede jaar deur die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) in kennis gestel dat kriminele klagte teen hom ondersoek word in verband met die bewerings. Verskeie van die uitgelewerde oorlewendes het hom glo daarvan beskuldig dat hy betrokke was by die uitlewering van Zimbabwe se mees gesoekte misdadigers.

Moses Dlamini, woordvoerder van Opod, het gesê die bewerings is ondersoek en die verslag is vroeër vanjaar aan die Nasionale Vervolgingsgesag oorhandig. Hy wag nog vir die NVG se bevindings.

Lt.genl. Solomon Makgale, woordvoerder vir Phiyega, was nie dadelik beskikbaar vir kommentaar nie.

Lees alle vorige berigte oor Anwa Dramat op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Benito Odendal ·

Baie hase wat weer hier slaap….Coke doppie minister,Kader aanstellings,VET pensioene vir oortreders en belasting betalers wat vir die gelag moet betaal kom seker soos in gewoonlik weer in die arme vuisvoos belasting betaler se gedagtes….The predictability of stupidity will never seize to amaze our normal citizens who work for a living….and we don’t even call ourselves….honorable !!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.