Vroeggebore tweeling vier eerste verjaarsdag in hospitaal

Samuel en Benjamin Malan (Foto: Verskaf)

’n Identiese tweeling het die naweek hul eerste verjaarsdag in die neonatale intensiewesorgeenheid van ’n Kaapstadse hospitaal gevier nadat hulle ’n jaar gelede in dié hospitaal op 26 weke gebore is.

Samuel en Benjamin Malan ly aan ’n seldsame longsiekte wat asemhalingsprobleme onder babas veroorsaak en word sedert hul geboorte in die Mediclinic Panorama hiervoor behandel. Dit is hier waar hospitaalpersoneel Saterdag saam partytjie gehou het.

Hul ouers is wel opgewonde én angstig om moontlik binne die volgende paar maande uiteindelik hul babaseuntjies vir die eerste keer huis toe te neem, vertel Samuel en Benjamin se ma, Siske, aan Maroela Media.

Siske se dokter het op 12 weke van haar swangerskap agtergekom dat Samuel aan posterior uretraklep- (PUV-)versteuring ly. Dit is ’n obstruksie in die uretra en geslagstelsel van pasgebore seuntjies. Benjamin was in dié stadium blakend gesond.

“Toe ons die heel eerste diagnose van Samuel kry, het ek die grootste kalmte ervaar. Ek het in daardie stadium reeds geweet alles gaan oukei wees. Dit is nie ek nie. Dit is die Here wat vir my kalmte gee.”

Samuel met geboorte.(Foto: Verskaf)

Die PUV is deur middel van ’n prosedure reggestel, maar Siske het op 24 weke vloeistof gelek, waarna sy inderhaas opgeneem is vir bedrus, verduidelik sy nou.

Volgens Siske het sy later boonop infeksie opgedoen en moes noodgedwonge ’n keisersnee ondergaan toe sy 26 weke swanger was. Samuel het met geboorte maar 790 g geweeg en sy boetie Benjamin 840 g.

“Een van die susters het aan ons verduidelik dat vroeggebore babas se longe of spysverteringstelsel gewoonlik probleme gee. Met Samuel en Benjamin was dit hul longe,” verduidelik Siske.

’n Longbiopsie is by Samuel geneem wat bevestig het dat hy aan pulmonale interstisiële glukogenose (PIG) ly. Aangesien hy en Benjamin ’n identiese tweeling is, was dit ’n gegewe dat sy boetie ook aan PIG ly.

Benjamin met geboorte. (Foto: Verskaf)

Volgens Siske word haar babaseuntjies sedertdien met steroïede behandel en is albei tot onlangs geventileer. Hoewel daar nog toetse op hulle wag, word die nodige voorbereidings nou gedoen om die kleingoed oor die volgende maand of twee huis toe te neem. ’n Suurstofmasjien en moontlik ’n verpleegster sal egter saam huis toe moet gaan.

Daar heers tans baie onsekerheid oor Samuel en Benjamin se ontwikkeling vorentoe aangesien die eerste geval van PIG eers in 2002 aangemeld is. Navorsing toon wel dat kinders met die siekte mettertyd sterker word, verduidelik Siske.

“Ons sal hulle vir die eerste vyf jaar tuis moet onderrig omdat hul imuunstelsel, wat hul longe betref, swakker gaan wees. ’n Gewone verkoue gaan vir hulle longontsteking beteken. Ons weet glad nie hoe die pad vorentoe lyk nie, maar ons is aanpasbaar.

“Dit is ons norm. Dit is ons eerste kinders, so ek is in ’n mate dankbaar dat ek nie van beter weet nie en dat ons bloot kan aanpas,” vertel sy.

Lees meer hier oor die tweeling se vordering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chanel ·

Ag moedertjie! Pragtige seuntjies! Veilig wees en sterkte. YOU CAN DO IT!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.