Vrou 20 jaar ná ontvoering as baba opgespoor

(Argieffoto: pixabay)

ʼn Jong vrou wat as pasgebore baba in die Ermelo-omgewing in Mpumalanga ontvoer is, sal hopelik binnekort met haar biologiese ma herenig word.

Volgens die polisie het die baba se ma op 23 Maart 2001 as ʼn 16-jarige geboorte aan die babadogtertjie gegee. Sy is later die dag uit die Ermelo- provinsiale hospitaal ontslaan.

Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, sê ma en baba was saam met die babadogtertjie se tannie op pad na hul huis op Breyton, toe ʼn vrou aangebied het om die baba vas te hou terwyl die tannie na ʼn nabygeleë winkel is.

Die ma het in daardie stadium pyn en lighoofdigheid ondervind en die vreemdeling het die baba vasgehou. “Na ʼn kort rukkie het die vrou glo die baba gevat, beloof om terug te keer en in die rigting gestap waarheen die tannie op pad was.”

Die tannie het teruggekeer, maar van die vrou en die baba was daar geen teken nie. Nadat hulle onsuksesvol self na haar probeer soek het, is ʼn saak van kinderontvoering by die Ermelo-polisie aanhangig gemaak.

Mohlala sê die polisie het ʼn soektog van stapel gestuur, maar niemand het met enige inligting na vore gekom nie.

Op 29 November vanjaar het dié situasie verander en ondersoekers het nuwe leidrade oor die baba se verdwyning ontvang en opgevolg.

DNS-toetse is gedoen en die uitslae het tot ʼn deurbraak in die ontvoeringsaak gelei.

ʼn 50-jarige vrou wat glo vir die ontvoering verantwoordelik was, is kort daarna in hegtenis geneem.

Die vrou het verlede week reeds in die Ermelo-landdroshof verskyn waar borgtog van R1 000 aan haar toegestaan is.

“Die jong vrou bly intussen in ʼn plek van veiligheid waar sy sielkundige ondersteuning kry en hopelik binnekort met haar biologiese familie herenig sal word,” sê Mohlala.

Die naam van die verdagte word weerhou om die slagoffer se identiteit te beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

ᛄᚪᚾ ·

Hoeraa, een van duisende sulke sake opgelos. SAPD sal ons beskerm van wetteloosheid

Marius ·

Dit is baie hartseer dat dit gebeur het. Die dogter is beroof van haar tyd saam met haar biologiese ma. Dit laat ‘n groot leemte in beide die ma en dogter se lewens.

B-Man ·

Opskrif is verwarrend. Eerder: Vrou, ontvoer as baba, na 20 jaar opgespoor.

Perdeby ·

Stem saam, want soos die opskrif nou lees was as baba ontvoer en steeds as baba terug gevind, want dit is wat ek gedink het.

Bertie ·

Vrou 20 jaar ná ontvoering as baba opgespoor! Wonderwerke gebeur nog! Dis 20 jaar later en sy is nog steeds ‘n baba toe hulle haar opspoor? Skuus, moes net op die dubbelsinnigheid van die opskrif wys.

Cherokee ·

Wonderlik dat die saak so ver hangend gehou is.
Terloops MM, die vrou is nie as baba opgespoor, maar as volwassene.
‘n Komma na ‘baba’ in die titel van die berig, sal dit regstel.

Sandra ·

Wow dis wonderlike nuus. Geluk aan SAP dat hulle nie die saak onaangeraak gelaat het nie.

Maggies ·

Goeie nuus. Ek hoop die moeder en dogter vind mekaar ook geestelik.
Knap gedaan aan al die foutvinders wat so fluks ‘n tegniese foutjie in die berig uitgelig het.
Julle weet presies hoe om ‘n mooi berig af te breek.

Hennie Biebouw ·

Wow, die vrou is 20 jaar na sy ontvoer is, as ‘n baba opgespoor? Komma vat mens ver…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.