Vrou (21) in koma, vier vriende beseer ná motor rol

Die ongelukstoneel. Foto: TAC-Pulse ERS/Facebook

Die ongelukstoneel. Foto: TAC-Pulse ERS/Facebook

Huibré van Zyl, ʼn 21-jarige vrou van Schweizer-Reneke in Noordwes, is in ʼn koma nadat die motor waarin sy en vier vriende was Saterdagoggend ongeveer 10 km buite Wolmaransstad gerol het.

Huibré van Zyl, Petroné Gnade (18), Henk Terblanche (18), Wian Gagiano (18) en Barnardus Steyn (21) was van Potchefstroom op pad terug na Schweizer-Reneke toe die ongeluk plaasgevind het.

Corle Gnade, Petroné se ma, het Maandag aan Maroela Media gesê Huibré is in die waakeenheid van ʼn hospitaal opgeneem. Sy is in ʼn koma en het glo breinbeserings opgedoen. Petroné is ook steeds in die hospitaal en het ʼn rugwerwel gebreek en erge kneusings opgedoen. Wian het sy oogbank, ʼn beentjie agter sy oog en ʼn ribbebeen gebreek. Sy skouerligamente is ook geskeur.

Barnardus en Henk is net lig in die ongeluk beseer. Henk is nie in die hospitaal opgeneem nie, terwyl Barnardus reeds ontslaan is.

Huibré van Zyl. Foto: Facebook

Huibré van Zyl. Foto: Facebook

Volgens Corle het die vyf vriende die aand in Potchefstroom gaan kuier. “Ons vermoed al die kinders het [in die motor] aan die slaap geraak en dit is hoe die ongeluk gebeur het,” het sy gesê. “Petroné het geslaap. Sy sê toe sy weer wakker word, het die ongeluk klaar gebeur. Wian het bestuur en ons vermoed almal het geslaap en niemand het met hom gepraat om hom wakker te hou nie.”

Corle het gesê dit is die tweede tragedie wat die jong Huibré die afgelope paar jaar getref het. Huibré was ongeveer vyf jaar terug in ʼn veldbrand vasgekeer en het ernstige brandwonde opgedoen.

“Sy was baie lank in die hospitaal en in daardie tyd het haar hart twee keer gaan staan en ons laat dink sy gaan dit nie oorleef nie,” het Corle gesê. “Ons is goeie huisvriende met die [Van Zyl-] gesin en dit is so sleg dat haar familie nou weer deur so ’n moeilike tyd moet gaan.”

Petroné, Henk en Wian is al drie matriekleerders aan die Hoërskool Schweizer-Reneke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Leoni Nagel ·

Huibs jy is n vergter byt vas. Ons almal weet jy kan. Jy gaan deur alles kom
met die genade van Bo Af.

Peet Schabort ·

Dit bly steeds uiters gevaarlik indien jy die heelnag wakker was en nog probeer om huis toe te ry. Ek het baie nagte regdeur bestuur sonder ‘n aflos. Daardie gebroke wit lyn in die pad is ook ‘n goeie resep om soos ‘n hipnose met jou oë en brein te werk. Natuurlik is daar ook die snoesigheid van die motor se verwarmer hierdie koue tyd van die jaar wat ook meehelp. Al wat werk (en julle kan maar lag) is om BETYDS stil te hou en ‘n paar keer heen en weer op die pad te hardloop. Nou se dae kan dit egter gevaarlik wees maar dit werk soos ‘n bom. ‘n Alternatief (lag maar weer) is om kliphard lawaai te maak terwyl jy bestuur en draai dan ook die ruite af sodat VARS lug kan inkom.
Dit is uiters tragies om kort-kort te lees van jongmense wat in motorongelukke betrokke is.
Sterkte ook aan hierdie jonges wat eintlik nog staan aan die vooraand van hulle lewens.

Eliza-beth ·

Peet, NIKS om oor te lag nie, maar baie goeie raad. Die beste sou wees om oor te slaap, maar ja, as mens dalk MOET terugry dan is jou raad baie gepas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.