Vrou (21) verdrink toe sy kind probeer red

Argieffoto

ʼn Jong vrou het Donderdag by ʼn strand naby die mond van die Kowierivier by Port Alfred in die Oos-Kaap verdrink toe sy probeer het om ʼn kind te red wat in die water in die moeilikheid geraak het.

Kapt. Mali Govender, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het teen 12:05 gebeur toe ses kinders in die water gespeel het. Volgens Govender was die kinders tussen tien en 15 jaar oud.

Die 21-jarige vrou het gesien hoe een van die kinders in die water in die moeilikheid beland en het ingespring om die kind te help. Die kinders het almal paniekerig aan haar vasgeklou wat veroorsaak het dat sy ook in die moeilikheid beland het. Ses omstanders het gesien wat gebeur en het ook ingespring om te help.

“Almal behalwe die 21-jarige vrou kon na veiligheid gebring word. Die nooddienste was binne minute op die toneel en die kinders is na ʼn plaaslike hospitaal gehaas. Een van die slagoffers is in ʼn kritieke toestand na ʼn hospitaal in Port Elizabeth geneem,” het Govender gesê.

Die jong vrou is op die toneel dood verklaar. ʼn Geregtelike doodsondersoek word gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Wendy ·

Alle sterkte aan vrou se naasbestaandes weet net syt n heldin gesterf mag God jul vertroos en lei deur die moeilike tyd

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.