Vrou (23) kritiek ná fratsongeluk op dam

Heidi-Lene Jonck (23) in die hospitaal. Foto: Verskaf.

Heidi-Lene Jonck, ʼn 23-jarige vrou van Polokwane, is in ʼn kritieke toestand in die hospitaal nadat sy Sondag in ʼn fratsongeluk op ʼn dam in Limpopo betrokke was.

Elze-Marie du Preez, Jonck se suster, het aan Maroela Media gesê die ongeluk het op die Albasini-dam oos van Louis Trichardt plaasgevind. Jonck het saam met vriende by die dam baljaar waar hulle op ʼn opblaasspeelding gery het wat agter ʼn boot aangesleep is.

Volgens Du Preez het sommige van die vriende op ʼn stilstaande boot op die dam ontspan, terwyl ʼn ander boot die opblaasspeelding getrek het. “Soos wat ons verstaan was sy net op die tube toe die boot skerp wegdraai en sy die plat agterkant van die groot stilstaande boot hard getref het,” het Du Preez gesê.

Jonck het haar bewussyn verloor. “Niemand kan regtig vir ons sê hoe lank nie,” het Du Preez gesê.

Jonck is dadelik na die oewer geneem en op ʼn tafel plat neergelê. Sy is met ʼn bakkie na die Zoutpansberg- private hospitaal in Louis Trichardt gehaas. Dokters het haar daar gestabiliseer, haar been in traksie geplaas en X-strale geneem.

“Die femur van haar linkerbeen is skoon afgebreek en haar kop is vreeslik geswel, veral aan die linkerkant agter haar oor en die oor self. Sy het ook vreeslik gekla van pyn in haar rug, maar die X-strale het darem getoon dat sy nie daar skade het nie,” het Du Preez gesê.

Heidi-Lene Jonck (23). Foto: Verskaf.

Jonck is Sondag na die Mediclinic in Polokwane oorgeplaas, maar omdat sy nie ʼn mediese fonds het nie, het die hospitaal ʼn deposito van R150 000 vereis.

“Ons kan daardie geld leen en daar is maniere om dit in die hande te kry, maar ek wil ook nie geld by mense vat wat ek weet ek nie kan terugbetaal nie. Heidi-Lene is toe Sondagaand na die provinsiale hospitaal in Polokwane oorgeplaas.”

Die hospitaal se breinskanderingsmasjien het aanvanklik nie gewerk nie, maar is intussen herstel en Jonck het gister die skandering ondergaan.

“Hulle het bepaal dat sy ʼn skedelfraktuur opgedoen het, maar kan eers bepaal of sy breinskade het nadat die swelling gesak het. Daar is nie in dié stadium tekens van bloeding op die brein nie. Hoewel sy nou suurstof deur ʼn intubasiepyp in haar keel ontvang, sê die dokters sy toon simptome soortgelyk aan ʼn beroerte of verdrinking – suurstofnood as gevolg van die ruk wat sy bewusteloos was direk ná die ongeluk.”

Jonck is tans onder verdowing in die waakeenheid van dié hospitaal.

“Sy is aan ʼn asemhalingsmasjien gekoppel, maar is nie op lewensondersteuning nie. Sy word onder verdowing gehou sodat haar breinaktiwiteit so min as moontlik bly. Die dokter sê ook hy sal ʼn operasie op haar been kan uitvoer sodra sy nie meer onder verdowing is nie. Sy het ʼn pen in haar been nodig.”

Heidi-Lene. Foto: Facebook.

Du Preez sê sy het bydraes vir haar suster se mediese onkostes begin ontvang toe die skanderingsmasjien aanvanklik nie gewerk het nie en daar sowat R15 000 nodig was om dit privaat te laat doen.

“Ons is finansieel nou oukei. Ons het met die Round Table-organisasie in verbinding getree en hulle het ingestem om die geld vir ons te administreer. Ons sal daarvan gebruik as Heidi-Lene in die toekoms terapie of ander behandeling nodig het, maar indien nie sal hulle dit aanwend waar daar elders nood is. Mense kan dus nog bydra as hulle wil. Die woord ‘dankie’ voel piepklein. Ons waardeer die gemeenskap se ondersteuning so vreeslik baie. My foon hou nie op ‘ping’ nie. Al wat ons nou kan vra is gebede.”

Enigiemand wat ʼn bydrae wil maak kan die Round Table kontak en vir Riaan Smit, die takvoorsitter in Louis Trichardt, vra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Maggie ·

Baie sterkte aan almal.Hoop jy herstel vinnig.Dink aan jou!

adriana ·

Ai jinne, ‘n ding gebeur so gou!!
Sterkte vorentoe en hoop jy herstel vinnig!!

Pollie ·

Sy is aan n asemhalingsmasjien gekoppel maar is nie op lewensondersteuneng nie, wat is die verskil??

Gesiggie ·

Baie sterkte aan julle en aan jou Heidi- Lene, mag jy gou hestel…

Rikag ·

Sterkte aan almal wat betrokke is bid vir julle. Glo sy sal gesond word

Sterna ·

Waarom om word daar foto’s geplaas waar mens se waardigheid in gedrang is? Hoe gaan sy voel as sy weet dat die hele wêreld haar so gesien het? Het sy toestemming daartoe gegee? Ek dink ook aan soortgelyke foto’s wat in hospitaal geneem is van meisie met malaria en dat sy later oorlede is. Families moet regtig dink voor hul sulke foto’s van geliefdes neem en blootstel.

ChristaT ·

Ek verstaan jou punt en stem met jou saam maar ek dink regtig jy hoef jou nie daaroor te bekommer nie. Die familie het toestemming gegee of self die foto verskaf.

kas ·

Die boot wat die mense op die tube gesleep het moes dan baie naby aan die stilstaande boot verby gevaar het.Is sy afgeslinger en toe die boot getref of het die tube die boot getref.Sterkte jonge dame.Ek hoop jy word gou gesond.Lewensondersteuning word gebruik as jou hart en ander organe ook nie funksioneer nie.Jy word dus met masjiene aan die lewe gehou.

Susan ·

As far as I know (from an article I read), she was still ON the tube when the tube hit the other boat :-(((

Eva ·

Ek het self op omtrent daai ouderdom meer 15 jaar terug, bitterlik seer gekry op so ‘n “speelding” op ‘n dam. Die boot bestuurder was opsetlik om my van die band te slinger. Dit is ‘n baie gevaarlike spel en dikwels (indien nie meestal) is daar drank by betrokke. Ek het mooi gevra om my nie te slinger of te jaag nie, wel dit is baie snaaks vir die betrokke persone. Ek het sedertdien nog nooit eers weer op ‘n boot geklim nie. Ek hoop sy herstel volkome.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.