Vrou (27) gly van krans, val na haar dood

‘n Foto van die toneel in Rustenburg (Foto: Verskaf)

LET WEL: Volgens nuwe inligting is die vrou se liggaam glo reeds Vrydagaand in die ruie gebied gevind. Sy het glo verskeie beserings opgedoen en was reeds dood. As gevolg van gevaarlike toestande en swak sigbaarheid is daar egter glo besluit om haar liggaam eers Saterdagoggend na bo tot op die berg te hys.

ʼn 27-jarige vrou van Rustenburg in Noordwes is dood toe sy na bewering vanaf ʼn bergkrans gegly en toe etlike meters na haar dood geval het.

Werner Vermaak, ER24-woordvoerder, sê die voorval het glo Vrydag plaasgevind, maar nooddienswerkers kon die vrou se liggaam glo eers Saterdagoggend uit die bebosde gebied haal omdat die omgewing te ruig was om in die donker te werk.

Volgens Vermaak is nooddienste na die toneel ontbied waar vriende van die vrou, saam met wie sy glo op ʼn uitstappie was, aan nooddienspersoneel verduidelik het dat sy volgens hulle gegly en geval het.

“Weens die gevaarlike toestande en swak sigbaarheid is die soektog na haar liggaam tot Saterdagoggend uitgestel. ER24 nooddiensredders moes ʼn infrarooi-kamera gebruik om die vrou in die ruie gebied te soek. Die vrou is met die nooddienste se toerusting na die bokant van die berg gehys. Die vrou het geen tekens van lewe getoon nie en is op die toneel dood verklaar,” sê hy.

Vermaak sê verskeie nooddienste waaronder Rustenburg se berg-en-reddingsklub, die brandweer en die polisie se soek-en-reddingspanne het met die soektog gehelp.

Die voorval word deur plaaslike polisieowerhede ondersoek. Meer inligting oor die voorval is nie in dié stadium bekend nie.

‘n Foto van die toneel in Rustenburg (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Muffin ·

Baie slegte nuus, maar wil weet wat soek die mense in die aand op daai berg.

Nelmarie ·

Ek sal self wil weet want daai is n baie onveillige gebied

"Ek sê maar net" ·

Die berig is glad nie korrek nie.

Ek wil net n regstelling maak.

ER24 en n groot groep gemeenskapsmense (CPF en ander buurtwagte) het reeds kort na die oorspronklike noodroep van onder d berg opgekruip deur baie moeilike terein.
Die liggam is reeds net voor 10 gisteraand deur lede van die gemeenskap gevind. ER24 paramedics het haar ondersoek en bevind sy het veelvoudige noodlottige beserings opgedoen.
Agv die gevaarlike terrein is besluit om die liggaam eers vanoggend uit te hys na bo.

Die liggaam was deur die nag onder polisiebewaking. Die saak word ondersoek.

Die berig is nie heeltemal korrek

Piet ·

Ek vermoed hulle wou die sonsondergang aanskou. Sigbaarheid neem ongelukkig baie vinnig af op daardie stadium.

Mark ·

Infra rooi kamera, mm maar sy is al oorlede vroeer! Nogal n kop krapper as n ligaam nie meer hitte afgee nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.