Vrou 37 dae lank by Kaapstad-lughawe gehou

Die Kaapstad-lughawe. Foto: www.bestcities.net

Die Kaapstad-lughawe. Foto: www.bestcities.net

ʼn Chinese vrou is vir 37 dae lank in ʼn klein kamer by die Kaapstad-lughawe aangehou nadat sy toegang na Suid-Afrika geweier is, het die Cape Argus Woensdag berig.

Volgens hofdokumente het Meizhu Chen (36), ʼn winkelbestuurder in die Oos-Kaap, en haar man op 5 Oktober teruggekeer na Suid-Afrika nadat hulle ʼn begrafnis in China bygewoon het. Slegs haar man is in die land toegelaat.

Die immigrasiebeampte se dagboekinskrywing wys dat daar ʼn vermoede bestaan dat daar met haar werkspermit gepeuter is, en dit dus ongeldig is.

Sy is in ʼn klein kamer aangehou en haar man is verbied om haar te besoek.

Haar prokureurs het op 7 Oktober ʼn aansoek gebring om te keer dat sy na China teruggestuur word, en om haar toelating tot Suid-Afrika te hersien.

Die hof het die departement van binnelandse sake op 4 November beveel om haar op voorwaardes in die land toe te laat, hangende die uitkoms van die hersieningsaansoek.

Die departement het hierop aansoek gedoen tot verlof om appèl.

Craig Smith, haar prokureur, het ʼn week later gesê die voorwaardes is nog steeds nie gestipuleer nie en Chen is steeds nie in die land toegelaat nie.

Die hof het die departement egter Maandag beveel om die hofbevel na te kom en om die koste van die aansoek te betaal. Chen is dieselfde aand in die land toegelaat, op voorwaarde dat sy daagliks by die departement moet aanmeld.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

ivorine ·

Oppas home affairs julle moenie met die Chinese sukkel nie. Zuma sal nie daarvan hou nie. Ek is net verbaas dat sy nie sommer al ‘n burger is nie, want onse JZ sal enige iets vir die Chinese doen.

Jean ·

Dis nie so seer die sjinese nie maar eintlik die sjinese regering wat in die middel van die een sit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.