Vrou (61) oorleef ontvoeringsdrama

Argieffoto: SAPD / Facebook

Argieffoto: SAPD / Facebook

ʼn 61-jarige vrou van die Oos-Kaap is Sondagaand in haar plaashuis oorval, aangerand en ontvoer kort nadat sy buite met haar honde gespeel het.

Volgens kapt. Gerda Swart, polisiewoordvoerder, het drie mans die vrou omstreeks 18:30 in haar huis in Kirkwood, noord van Port Elizabeth, oorval.

“Sy is pas in die huis in toe die mans haar oorweldig en aangedring het op geld,” het Swart aan Maroela Media gesê.

“Die verdagtes het die geld wat sy in haar besit gehad het, gevat, asook selfone en elektroniese ware. Hulle het hul buit in die vrou se voertuig, ʼn wit Volkswagen Golf, gelaai en haar in die motor ingedwing.”

Die verdagtes is met die vrou in haar motor na Addo waar hulle haar gedwing het om geld by ʼn kitsbank te onttrek en is van daar na ʼn winkelsentrum in Port Elizabeth.

“Beamptes van die Kwadwesi-polisie het die motor by die winkelsentrum opgemerk en gesien die insittendes tree verdag op. Die beamptes het gaan ondersoek instel, waarna die verdagtes weggejaag het.”

Die polisie het die verdagtes agternagesit en ʼn hoëspoedjaagtog in die rigting van Uitenhage het gevolg.

“Die polisie kon daarin slaag om die motor op die Ou Cuyler Manor-pad tot stilstand te dwing en ʼn skietery het ontstaan.”

Twee van die verdagtes is deur beamptes van die Uitenhage- en Port Elizabeth-polisie se honde-eenheid aangekeer en in hegtenis geneem. Die derde verdagte kon daarin slaag om te ontsnap. Niemand is in die skietery beseer nie.

“Die beamptes het die slagoffer bevry en sy is na ʼn hospitaal in Uitenhage geneem vir mediese behandeling. Haar toestand is bevredigend.” Die vrou se motor, geld en gesteelde ware is teruggevind.

Die twee verdagtes, onderskeidelik 24 en 33 jaar oud, moet Woensdag in die Kirkwood-landdroshof verskyn op aanklagte van huisroof, ontvoering, poging tot moord, die besit van ʼn gesteelde voertuig, besit van gesteelde eiendom en die onwettige besit van ammunisie.

Die soektog na die derde verdagte duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Irene ·

Hierdie soort mense is gevaar vir samelewing hulle moet sit vir lank

pop ·

Wat van Poging tot moord, roof met verswarende omstandighede, ontvoering, aanranding…..

E ·

Bring terug die doodstraf, dis al uitweg. Gewapende roof, kapings en verkragtings behoort met die dood gestraf te word
Die aarde is klaar te vol en dan moet hulle nog gaan lekker leef op belastingbetalers se koste

Alida ·

E, ai ons sal so bly wees as jy probeer om die doodstraf terug te bring. Ons wil dit almal he!

muisvoël ·

As jy n slagoffer van n kaping ,verkragting, roof of smash & grab is. Is dit nie die staat se verantwoordlikheid om ons as landsburgers veilig te hou nie. Nou word slagoffers na staatshospitale geneem waar jou kans vir oorlewing minder is as persone met mediese skemas.
Ek vra maar net…….

Thea Gerber ·

O jy is so reg. As een van die booswigte seergekry het, was hy in ‘n privaatkliniek op die belastingbetaler se onkoste. Ek voel ALLE slagoffers van misdaad moet privaatsorg op die ministerie van polisie se onkoste kry. As hulle biljoene vir onregmatige arrestasies kan betaal kan hulle ook slagoffers se medies betaal.

Liesbet de Wet ·

Hierdie oortreders het te min drukkies en liefde gekry.

Johan Burger ·

Dis die oplettenheid van daardie polisielede wat tot die arrestasie van die kriminele en die voorkoming van nog erger misdade teen die vrou gelei het. Hierdie polisielede verdien spesiale vermelding.

Alida ·

Wat help dit di Polisie doen hul werk en die gemors kom los is hof of hul vonnis is lagwekkend.

Alet ·

Dit is nou ‘n simpel en negatiewe stukkie kommentaar. Natuurlike help dit, as elke negatiewe persoon in die land net sy deeltjie doen maar is mos makliker om niks te doen en die wat wel goed doen af te kraak. Hats off vir daai polisielede.

Takkie Takuuza ·

Komplimente aan daardie lede. Welgedaan, goeie werk!!!

Hennelie Rust ·

Oplettendheid ! Dit is vreeslik belangrik. Kyk net! vir die gewone ,onskuldige burgers,sê ek ook,baie dankie reageer altyd op julle instink. Baie dankie nogmaals S.A.P

amanda ·

Dank die Hemelse Vader dat haar lewe gespaar is. Bid vir haar welstand, wysheid en krag vir die moeilike tydjie wat nou voorle met die hofsake.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.