Vrou 7 maande in hospitaal weens Covid-19

Elma Jordaan (Foto: Verskaf)

Die 63-jarige Elma Jordaan, wat verlede jaar Covid-19 opgedoen het, is ná 222 dae uit die hospitaal ontslaan. Haar man het nou haar uithouvermoë as “ʼn wonderwerk” bestempel. Jordaan is boonop ʼn diabeet. Sy is die afgelope sewe maande in drie verskillende hospitale opgeneem en het verskeie terugslae beleef. Sy is nou in ʼn versorgingsentrum waar sy intensiewe versorging kry omdat sy nog niks vir haarself kan doen nie.

“Sy is ʼn ystervrou wat deurgedruk het,” het haar man op voorwaarde van anonimiteit aan Maroela Media gesê.

Jordaan, ʼn tuisteskepper en die naweekkoster by die NG kerk Vanderbijlpark-Suid, is op 24 Julie in die hospitaal vir Covid-19 opgeneem. Haar man vertel hy het ʼn week tevore siek geword en het haar moontlik aangesteek. Hy vermoed hy het die virus by die werk opgedoen.

“Ek het die Donderdag (23 Julie) afgevat by die werk, want ek het baie siek gevoel en was kortasem. Elma het toe nog geen simptome gehad nie.”

Sy het egter die volgende dag begin siek voel.

“Een van my seuns het teen laatoggend opgemerk dat Elma grysblou in haar gesig is en sukkel om asem te haal. Ek het dit nie regtig opgemerk nie omdat ek, weens te min suurstof, nie by my volle bewussyn was nie.”

Die seun het ʼn ambulans ontbied en Elma en haar man na MediClinic Emfuleni in Vanderbijlpark geneem. Daar is Elma positief vir die virus getoets. Haar toestand het versleg en sy moes dringend in ʼn intensiewesorgeenheid opgeneem word. Dié hospitaal het egter nie vir haar plek gehad nie en sy is na Mediclinic Morningside in Sandton, Johannesburg, oorgeplaas. Haar man het in die hospitaal in Vanderbijlpark agtergebly.

“Ek kon haar nie eens groet nie. Ek het nie geweet of dit dalk die laaste keer was dat ek haar sou sien nie.”

Die man vertel hy was die hele naweek nie by sy volle bewussyn nie. Sy toestand het wel later verbeter en hy is ná ʼn week (1 Augustus) uit die hospitaal ontslaan.

“Dit was ʼn moeilike tyd. Ek het by die huis gekom en my vrou was nie daar nie. In die tyd dat ek in die hospitaal was, het ek geen kommunikasie met iemand gehad nie. Ek hoor eers agterna die hospitaal in Sandton het vir die seuns gesê dat hulle hul ma moet gaan groet, want sy is in ʼn kritieke toestand en hulle weet nie hoe lank sy nog sal leef nie.”

Die man vertel Elma was vir ʼn maand en ʼn half in die intensiewesorgeenheid. Sy is daarna na die hoësorgeenheid oorgeplaas.

Intussen het Elma se een seun (44) ook Covid-19 opgedoen en is op 25 Augustus oorlede. Hy was ook ʼn diabeet.

Op 25 September is Elma na ʼn rehabilitasiesentrum in Kensington, Johannesburg, oorgeplaas. Daar kon haar man haar vir die eerste keer weer besoek het. “Ek kon op Vrydae vir 15 minute vir haar gaan kuier. Ek het haar probeer vertel dat haar seun oorlede is, maar ek dink nie dit het regtig by haar ingesink nie.”

Elma is op 10 November weer terug na die intensiewesorgeenheid in Mediclinic Morningside, nadat sy ʼn terugslag beleef het. Sy het vir 35 dae in die hospitaal gelê en is op 15 Desember weer na die rehabilitasiesentrum teruggeplaas.

Tydens die tweede hospitalisasie by Morningside het die dokters haar regterhand se wysvinger en duim geamputeer. Dit volg nadat ʼn bloedklont sowat drie maande tevore in hierdie vingers vasgeslaan het.

Net toe sy goeie vordering begin toon het, het sy op 4 Januarie weer ʼn terugslag gehad. Sy is in die Netcare Rosebank-hospitaal se intensiewesorgeenheid opgeneem. Sy het daar longontsteking opgedoen en moes vir sowat 39 dae in die hospitaal versorg word.

Nadat haar toestand begin verbeter het, is sy weer na die rehabilitasiesentrum oorgeplaas. Sy is eindelik op Dinsdag (3 Maart) ontslaan en is tans in ʼn versorgingseenheid in Vanderbijlpark.

Die man vertel hy is dankbaar en verlig dat Elma ontslaan is, hoewel sy steeds baie siek is.

“Sy kan nie haar hande gebruik of self loop nie. Sy het ook van haar sig verloor. Hulle moet vir haar sagte kos voer omdat sy nie self kan eet nie. Sy is maande lank deur middel van ʼn voedingsbuis gevoer.

“Sy is heeltemal gedisoriënteerd en weet nie lekker waar sy is of wat aangaan nie. Sy vra gedurig vir my waar haar oorlede seun is en hoekom hy nog nie vir haar kom kuier het nie. Elke keer moet ek vir haar verduidelik dat haar seun nou by die Here is. Ek dink sy moet nog sy dood verwerk.”

Die man vertel van die terugslae wat sy gehad het, was weens infeksies wat sy weens die kateter opgedoen het. By die rehabilitasiesentrum het sy ook nie haar pille –  wat haar onaktiewe skildklier reguleer – ingeneem nie, wat toe ook komplikasies veroorsaak het.

“Die pad vorentoe gaan nog lank wees, maar ek is positief en hoopvol dat Elma gesond sal word. Sy het baie agteruitgegaan.”

Die man sê hy is dankbaar vir geliefdes se gebede en ondersteuning, wat hulle as familie deur hierdie moeilike tyd gedra het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Francois Le Cochon ·

……en dan is daar nogsteeds baie MM lesers wat oortuig daarvan is dat covid net ‘n verkoue is. Sterkte mnr en mev.

Jedi Knight ·

Darem nou nie net n gewone verkoue nie. n Erge verkoue. Bly om te hoor die dame is oppad om te herstel. Vir n bietjie balans, kan ons dalk n storie of twee lees van sommige mense wat 7 maande laas n inkomste gehad het en hulle stryd om oorlewing?

Fritz ·

Sommiges sterf. Sommiges word ernstig siek en gaan hospitaal toe. En vir sommiges is dit soos n verkoue. Die lewe is inderdaad onvoorspelbaar. Elke nuwe dag is soos n “lucky packet” wat jy oopmaak.

Thom ·

Francois , soos jy vroeër vir my gesê het ; jy mors jou tyd . Die een wat versprei word dat Bill Gates ons DNS oes om dan ‘n meester-virus te ontwikkel en op die oorbevolkte aarde los te laat is egter skreeusnaaks en vat loshande die koek .
Een van die grootste gevare vir die mens is eerder die sosiale media in die hande van naïewe persone . Valshede versprei met die spoed van lig .

Francois Le Cochon ·

Ja Thom, vergeet van kommunisme, atoombomme en terroriste.
In vandag se lewe is die gevare sosiale media, soos jy se^, tesame met “influencers” en “conspiracy theorists”.

MakersMark ·

Daar is darem baie domastrantes, dink nie soveel naiewiteit nie, kwaadwillige verspreiding van nonsens en aanmoediging om die wette te oortree. En hulle glo sulke snert soos BC en die “meestervirus”, soos heksejag in die middeleeue. Hulle is die gevaarlikstes.

Deon ·

Eknis bly die dame is so sterk en lyk asof sy die virus gaan wen…… Ek glo, die virus word wel misbruik vir verskuilde agendas, soos bv die dat net bbee dit mag versprei… Dit word ook in my opinie gebruik as n stuk gereedskap om rassisme te probeer bevorder en dan natuurlik blaas dit ook al wat n ccc lid is se egos heeltemal uit proporsie op

Casper ·

NIE net MM lesers nie.Daar is oor die algemeen mense wat glo covid is ‘n foefie van die regering om geld te maak.Ek het met baie mense gepraat wat die virus opgedoen het en hulle sê dit is iets veel erger as griep.Die statistieke spreek vanself.My vriend het vir my probeer voertuig dat dit onsin is.Hy het die virus opgedoen antibiotika en griep medikasie geneem en drie dae later is hy dood.Ek is 62 en vermy risk gebied.Bly maar by die huis.

Misky ·

Dis vreeslik hartseer en ons kan net op ons knieë gaan en dankbaar wees ons is nog met ons geliefdes. Sterkte aan die tannie en oom vir die pad vorentoe

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.