Vrou aangesê om ‘self verkragter aan te keer’

Argieffoto (Foto: SAPS/Facebook)

Die Wes-Kaapse polisie-ombudsman word versoek om dringend ondersoek in te stel nadat ’n vrou glo deur polisiebeamptes aangesê is om sélf haar vermeende verkragter aan te keer.

Albert Fritz, provinsiale minister van gemeenskapsveiligheid, sê die vrou wou ’n klag van verkragting by ’n polisiestasie in Khayelitsha aanhangig maak toe polisiebeamptes haar aangesê het om self die klag te ondersoek.

Die vrou is na bewering die dag vantevore aangerand en verkrag. Sy en haar vriendin is toe na die Khayelitsha B- polisiestasie sodat sy ’n klag aanhangig kon maak. Die polisiebeamptes aan diens het glo haar verklaring begin neem en toe vir haar gesê dat sy “nie soos iemand lyk wat ʼn traumatiese ervaring beleef het nie” en dat sy “te ontspanne” voorkom.

’n Polisiebeampte het glo ook die slagoffer en haar vriendin aangesê om die vermeende verkragter in ’n lokval te lei en sy bewegings te probeer vasstel sodat die polisie hom in hegtenis kan neem.

Die slagoffer het geweier aangesien die verdagte gevaarlik is.

Fritz meen dié voorval is een van die redes waarom die meeste verkragtingslagoffers nie hul verkragting aanmeld nie.

“Hierdie soort ding gebeur te gereeld. Ons kan nie ʼn situasie hê waarin slagoffers van geslagsgeweld met minagting en disresperk behandel word deur beamptes wat veronderstel is om beskerming te bied nie,” sê die minister.

“Hoewel ons reeds die Wes-Kaapse polisie-ombudsman gevra het om stelselmatig ondersoek in te stel na die manier waarop geslagsgebaseerde geweldsake by polisiestasies hanteer word wanneer dit aangemeld word, vra ek ook dat die ombudsman hierdie saak dringend ondersoek.”

Fritz sê dissiplinêre stappe sal ongetwyfeld volg, sou ’n ondersoek vasstel dat daar waarheid steek in die bewerings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
Misky

Ek wonder hoeveel sulke gevalle is nog daar buite, want dis net die waarvan ons hoor. En ons algehele/landwye statistieke is ook ‘n druppel in die emmer, want polisie so traag om jou te help of saak nommers te gee as jy by polisiestasie aanklop. Ekself het nou die dag na 2 ure se wag by stasie omgedraai en uitgeloop omdat ek gatvol gewag was. Die 2 mense aan diens was so treurig en ek kon sien die een ou kon skaars skryf

Renata

My sus is aangerand deur haar man. Toe sy die saak wil aanmeld en n J88 vorm kry sodat n dr haar kan ondersoek en die vorm invul, wou die sapd ook nie help nie. Het vir haar gesê sy lyk nie na iemand wat aangerand is nie. Sy het aangedring op n J88 vorm. Die beamptes het toe n J88 vorm vir haar gegee waarvan bl 2 en 4 ontbreek het, bl 1 en 3 was afdelings vir verkragting en nie aanranding nie. Sy is dr toe en daar het die dr die regte volledige vorm van die internet… Lees meer »

N

Ons is nie verniet die banana republic nie. Ons verloor daagliks bevoegde mense, kyk net na die insident verlede week met die gepoogte transito roof.. Die drywer was n ou spesiale taakmag lid. Hoe verloor die staat so n juweel. En kyk nou, n vrou word aanbeveel om haar eie verkragter aan te keer. Dit maak nie saak van velkleur nie, vir n vrou om so iets te moet ervaar is ontoelaatbaar.

Suzette

Mooi man – uiters “bekwame” polisie. Die slagoffer is dan sekerlik geregtig om ALLE nodige bronne en hulpmiddels wat sy kan kry in te span om die taak te verrig – no questions asked.

Blikkies

Ai dis hartseer om te lees. Dissiplinere stappe sal volg, en wat dan?