Vrou baklei terug tydens kleinhoewe-aanval

Hannes en Emmerentia Botha bly op ‘n kleinhoewe in Kameeldrif-Wes (Foto: Verskaf)

My ma het besef sy moet nou veg om haar lewe.”

Só vertel Renske Miessner (30) nadat haar ma, Emmerentia Botha (57), verbete terugbaklei het toe sy en haar man Sondagaand deur twee rowers in hul huis in Pretoria gekonfronteer is. Emmerentia en haar man, Hannes (80), woon op ʼn kleinhoewe in Kameeldrif-Wes.

Emmerentia is tydens ’n stoeigeveg met een van die rowers beseer. Miessner se hond, wat by haar ouers op die kleinhoewe gekuier het, het in die proses weggehardloop en is steeds soek.

Miessner vertel haar ouers het omstreeks 18:30 by die huis aangekom nadat hulle by familie wat sowat 3 km van hulle af woon, gekuier het. Toe die egpaar by die huis stilhou, het Emmerentia uitgeklim om die deur vir die honde oop te maak. Sy het gehoor die honde blaf verwoed.

“My ma het gedink hulle blaf uit opwinding oor hul tuiskoms,” vertel Miessner aan Maroela Media.

“Sy het die deur vir die honde oopgemaak en haar Jack Russell-reuntjie, Hunter, het dadelik uitgestorm en om die hoek van die huis na die spaarkamervenster gehardloop. Dit is hierdie venster wat die rowers met ʼn klip stukkend gegooi en só toegang tot die huis verkry het.”

Volgens Miessner het haar ma die huis binnegegaan en ʼn koekbord in die kombuis neergesit. Dit is toe dat haar oog ʼn skaduwee vang.

“Die volgende oomblik staan daar ʼn vreemde man by my ma. Hy het haar voor die bors gegryp en teen die muur tussen die agterdeur en yskas vasgedruk. Hy het haar oor haar kop en hande met ʼn stok geslaan. Haar hande was vol splinters.

“My ma het in daardie oomblik besluit sy sal moet terugbaklei. Sy het met krag van God die man tot teen die ander muur gestormloop.”

Volgens Miessner het Emmerentia tydens die skermutseling gegly en op haar knie geval. Dit is die einste been waaraan sy  ʼn knievervanging met prostese ondergaan het en sy was dadelik bekommerd dat die prostese dalk beskadig is.

Die venster wat die aanvallers gebreek het (Foto: Loyal Security, Facebook)

Hannes het intussen die huis binnegekom en besef iets is nie pluis nie. Hy het dadelik na die kluis toe gegaan om sy vuurwapen te kry. Dit is in hierdie tyd wat die rower ook uit die huis gehardloop het. Hy het saam met nog ʼn man, wat tydens die stoeiery buite gewag het, in die egpaar se Isuzu-bakkie geklim en weggejaag.

“Die tweede man was vermoedelik gewapen, want daar is ʼn holster in my ouers se oprit gevind.”

Edna van Vuuren, wat deel is van die bestuur van die Kameeldrif-Wes Sektor 4-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), was een van die eerstes wat op die voorval gereageer het. Sy vertel hulle het omstreeks 18:50 ’n oproep op die GPF-radio ontvang en dadelik die reaksiespan geaktiveer.

Volgens Van Vuuren het die bakkie ʼn Car Track-opsporingstelsel ingehad en die polisie, metropolisie en SDS Protection-sekuriteitsdienste het die voertuig agtervolg en die bakkie in Laudium, suidwes van Pretoria, opgespoor.

“ʼn Skietgeveg het tussen die verdagtes en die polisie uitgebreek en een van die verdagtes is in die knie geskiet en ook in hegtenis geneem. Die ander verdagte het gevlug,” vertel Van Vuuren.

Cody het tydens die aanval weggehardloop en word sedertdien gesoek (Foto: Verskaf)

Maroela Media het navraag aan die polisie gerig oor die inhegtenisneming van die tweede verdagte, maar wag nog vir terugvoer.

Van Vuuren sê dit is nog nie duidelik wat uit die huis gesteel is nie.

Miessner sê paramedici het Emmerentia op die toneel behandel. Sy het haar ma Maandag dokter toe geneem sodat hulle haar behoorlik kan ondersoek.

“Die X-strale het gewys die prostese in haar knie het toe geen skade opgedoen nie. Sy het ook nie krake in haar skouer of skedel gehad nie. Sy het wel ʼn haarlynfraktuur op haar regter ringvinger opgedoen. Verder het sy net sagteweefselskade.”

Volgens Miessner is haar ma nog kalm en vermoed sy die gebeure het nog nie werklik by haar ingesink nie.

“Ek is net dankbaar hulle het ligtelik hiervan afgekom.”

Die gemeenskap help ook nou verwoed na die vermiste hond soek.

“Cody is ’n bang en senuweeagtige hondjie. Ek vermoed als het net teveel vir hom geword, en hy het besluit om te vlug. My hart is seer. Ek wonder waar hy is en of hy dalk seergekry het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Genis ·

Dit laat mens sprakeloos…. Doe goed wat mens wil kwytraak sal mens agter tralies laat beland… Dank die Vader hulle is gespaar

Misky ·

Wie sal nou ‘n afduim gee oor Genis se kommentaar? Ek stem 100% saam Genis en sal saam jou moet gaan sit

Persheks Adri ·

Stem Misky dis weer iemand wat dink hulle is snaaks en debateer nie eers nie

Persheks Adri ·

Wel gedaan tannie! Baie bly julle het ligtelik van dit af gekom dank die Vader!

Net nog ‘n rede hoekom ons vuurwapens moet hê! Kriminele sit met wapens en hoedeman wil ons ontwapen al is ons hoe eerlik!

Pieter ·

Laat ons op hou praat en oorlog maak en klaar kry. Die anc en ouer people gaan ons blankes nie uit los nie. Ons het te doen met terroriste en kommuniste ons moet dalk begin standpunt in neem.

DEON ·

Kyk nou net, dan kom Cele en sê geen vuurwapens vir selfverdediging.
Nou gaan al die mans en vroue met vuiste baklei om jouself te beskerm.
Wonder wat die polisie gaan sê as jy so krimineel dood slaan met jou kaal hande.
GEEN VUISTE MEER VIR SELFVEDEDIGING.

Ovelia ·

Vat di polisie by die groot koppe se huise weg en sit hul by di boere met hul Ak 4 oms hul op te pas dan sal di grootkoppe voel hoe weerloos voel jy

Johanna ·

Dit is nou n Boervrou uit een stuk. Welgedaan. Die Here het julle beslis krag gegee.

Sandra ·

Ag ek is net bly die mense is ok. Ek hoop julle vind die ou hondjie veilig.

gatgogga ·

Nou wat gaan die dapper kaders doen wanneer hulle al die bejaardes uitgeroei het, en nou bly daar net weerbare mense oor?

Niklaas ·

Dapper vrou. Terugbaklei is al genade, want pleit en mooipraat werk nie op hierdie aanvallers nie.

Kathleen ·

give that girl a bells ! ek is bly julle is ongedeerd . ons moet almal dit begin doen dan sal ‘n skelm 2 keer dink voor hulle ons aanvat . hoop hulle kry die ou worsie , mooiste ding !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.