Die mat is behoorlik vandeesmaand onder Ilse-Marie van Huyssteen se voete uitgeruk nadat haar man, André (30), oorlede is toe hy ernstige beserings opgedoen het nadat ʼn jacuzzi ontplof het – maar Dinsdag het Ilse-Marie op die mees onverwagte manier die goedheid van vreemdelinge beleef.
“Sedert sy dood was my gedagtes nog heeltyd André, André, André. Dinsdag was ‘n kans om uiteindelik oor iets anders as sy dood te dink,” het Ilse-Marie aan Maroela Media gesê.
GrootFM het van André se ongeluk en afsterwe te hore gekom en besluit om Ilse-Marie as deel van hul #JouMenseMyMense-inisiatief te verras en op verskillende maniere ‘n paar klippe vir haar uit die pad te rol.
Ilse-Marie het Dinsdagoggend saam drie vriendinne in Brooklyn Mall in Pretoria gaan ontbyt eet, salig onbewus dat sowat 18 mense skelm by die tafeltjies om hulle vir die oomblik wag wat Su-an Müller-Marais, GrootFM-omroeper, uit die ateljee bel.
Op die regte oomblik het dié mense een vir een opgestaan en nader gestap met ’n koevert in die hand en dit voor haar neergesit. In elkeen van die koeverte was daar ‘n verrassing vir Ilse-Marie. Een koevert het gelees dat die vier vriendinne se ontbyt gratis is, ’n ander was drie maande se vooruitbetaalde huur en krag, ‘n ander bevestiging dat R4 500 betaal is om haar jongste spruit se skoolgeld te dek. Van die ander koeverte het ingesluit R4 700 vir kruideniersware, ’n Spar-koopbewys, tweedehandse skootrekenaars en ’n Playstation met sowat 17 speletjies vir Ilse-Mari se seuns, Dwayne (9) en Dandré (4).
Haar motor se enjin sal ook gratis herstel word en die gesin se bakkie sal herstel word om voort te gaan met haar man se aanlyn luidsprekerbesigheid.
Die waarde van al dié koeverte se inhoud is altesaam R45 000.
André was voor sy dood die broodwinner in die gesin en Ilse-Mari ‘n tuisbly-ma. Sy sê sy beplan om nou in Januarie weer te begin werk en sal met André se besigheid voortgaan. “Dit is wat André sou wou gehad het.”
Dié koeverte sal dus beslis ’n verskil in haar gesin se lewe maak. “My huur was my grootste bekommernis,” erken sy.
Sy sê dat sy tydens die ontbyt nié ophou huil het nie. “Die Here is so goed. Ek het vir Lindie Strydom (van GrootFM) gesê ek weet nie watter kant toe nie. Ek voel of Hy my alleen gelos het,” sê sy. Strydom het haar gevra of sy steeds so ná die ontbyt voel. “Ek het besef: Kyk hoe goed is Hy nogsteeds vir my en hoe Hy sorg. God is nou nader aan my as ooit.”
Ilse-Marie sê sy is oorweldig deur GrootFM se ondersteuning. “Hierdie mense ken my van geen kant af nie. Ek dink hulle is regtig engele van God.”
GrootFM verduidelik op hul Facebookblad dat dit presies is wat hul deur die inisiatief wou bereik. “Ons wou simbolies vir Ilse-Marie wys hoe vreemde mense wat van haar gehoor het, uit alle rigtings kom om te probeer help.”
Maroela Media het vroeër berig die Van Huyssteen-egpaar het op 8 Augustus by vriende in Pretoria gebraai en in hul jacuzzi ontspan. “Ek het die huis ingegaan toe ek ewe skielik ʼn groot slag hoor. Druk het opgebou en die boiler laat ontplof,” het Ilse-Marie destyds verduidelik.
ʼn Stuk hout van die dek om die jacuzzi het André teen die kop getref en só diep binnegedring dat dit eers die volgende dag tydens ʼn operasie in die Steve Biko-hospitaal verwyder kon word.
Terwyl hy in die waakeenheid gehou is, moes ʼn tweede operasie uitgevoer word om sy breinvlies te heg. Later is hy ʼn derde keer geopereer nadat die wonde van die ongeluk oopgetrek het. ʼn Vierde operasie is later gedoen om vog van sy brein te verwyder voordat hy eindelik op 6 November oorlede is.
Ilse-Marie sê sy kan uitsien na nog ‘n vooruitsig wanneer sy en haar seuns volgende maand by haar tannie in Jeffreysbaai gaan kuier om te rus. “Daar het so baie gebeur. Ek het al aan die begin gedink ek wil gaan rus as my man uiteindelik uit die hospitaal kom. Ek het die rus nou soveel meer nodig nadat hy oorlede is. Ek wil net op die strand sit, vir die branders kyk en my gedagtes laat gaan.”
Ai, hoe krimp my hart nou ineen. Ilse-Marie het telkemale so mooi op die Montana Facebookgroep vir Liewe Jesus gevra wanneer André dan nou gaan huis toe kom – wat nooit gebeur het nie.
Baie dankie aan ‘n ieder en ‘n elk wat hier bygedra het, ek glo dit verlig darem haar dag-tot-dag bekommernisse. Ongelukkig kan nie een van ons dit wat sy die graagste wil hê, aanbied nie.
Hopelik maak dit eendag vir jou sin, Ilse-Marie. Ek bid jou berusting toe.
Daars verseker nog GOED oor in die land van ons…..dis lekker om sulke nuus te lees !!!
Dit is amazing……Het nou snot en trane gehuil!!!
Dis hoe mens uitreik na jou mede-mense! WELL DONE.
Hy is altyd goed. Ons sien dit net nie altyd raak as ons in daardie donkerte is nie. Baie sterkte vir hierdie gesin.
Wat n inspirerende en onselfsugtige gebaar!
Of jy bygedra het, of help reel het, is my bede en wens dat alle betrokkenes, 70 x 7 keer, gebless sal word.
Shalom
Ek moet ook nou ‘n slag sluk want ek sit ín ‘n oopplan en kan nie nou huil nie ………… GrootFm julle ROCK ………… die beste stasie ooit. Luister na niks anders nie. Dankie dat julle omgee
Net ‘n bewys dat ons mense ook bymekaar kan staan. Dankie aan “Groot FM” julle is van die Here gestuur. Dankie vir mense soos julle. Gaan so voort , mag julle net die seen van die Skepper ontvang.
well done Groot FM
BAIE DANKIE Groot Fm!
God is alomteenwoordig! Dis n baie mooi storie Maroela Media.
Fantasties! So lekker om die Here se hand te sien! Prys die Here vir mense soos Groof FM xxx Ek gaan nou dadelik huis toe, my man en seuntjie ‘n stywe druk gee, die lewe is so kort! Sterkte met die rou proses dis so seer.
Dis wonderlik, mense weet nie wat dit vir n ma beteken wat so sit en bekommer oor die dag van more nie, wens al die blanke Afrikaners kan so bederf word.
Huil ek nou snot en trane. Die Here is goed.
Wonderlik.
So voorsien die Here, amen! Dankie GrootFM, jul is engele gestuur van bo!
Pragtige artikel tussen al die slagtings en negatiewe berugte. Nog sulkes kam ons hoop gee vir die toekoms.
Wat ‘n mooi storie!
Dit is nou Christen wees in aksie. Om sterkte te sê is mooi woorde, maar om jou sak te skud vir iemand is wat die Here verwag van mense wat hulle self ‘n Christen noem.
ek is so bly vir haar en haar gesin….
ek wens sulke engele wil in my lewe stap….ek soek net n prokureur wat compensation kan aanvat om my tenvolle te vergoed vir n IOD wat my lewe verander het…
sy moet haarself nou net genoeg kans gee om te rou en emosioneel sterk te word….
Groot FM julle is engele. Wonderlike mense met groot harte. Aan almal wat bygedra het, die groot Meester sien dit en Sy beloning aan julle sal nog groter wees. Aan Johrne, Lindie en die hele span ‘ well done’, julle is ysters.
JINNE VROU, JY IS GELUKKIG. BAIE dankie aan almal wat deelgeneem het hieraan en hierdie vrou se probleme help oplos het . ..ek dink daar is NIKS so erg as om jou man te verloor en skielik in finansiele knyp te wees nie … BAIE sterkte met jou werk volgende jaar en DANKIE dat jy jou storie gedeel het .. dis een van die min MOOI stories deesdae. Julle maak my TROTS en ‘n mamma en haar kinders se hart BAIE BLY!