Vrou beplan glo moord op Pofadder-hoteleienaar ‘haarfyn’

Leon Brits (41) en sy vrou Suretha Brits (30). (Foto: Verskaf)

Suretha Brits (30) het glo derduisende rande betaal om haar man, Leon Brits (41), eienaar van die gewilde Pofadder-hotel in die Noord-Kaap, te laat vermoor. Sy het glo ook die hele moord haarfyn beplan en opdragte in detail aan haar gekose laksman deurgegee. Jacques van Vuuren, die man wat Suretha gehuur het om haar “vuilwerk” te doen, is boonop ʼn jare lange vriend.

In die pleitooreenkoms wat Van Vuuren (37) ʼn maand gelede met die staat gesluit het, sit hy die gebeure uiteen wat tot Leon se moord gelei het.

Maroela Media het vroeër berig Leon se liggaam is op 7 Oktober deur Suretha in hul huis se swembad aangetref. Hy is verskeie kere met ʼn skerp voorwerp gesteek en toe verwurg. Luidens die nadoodse verslag het Leon verwoed teen sy aanvallers probeer veg.

Van Vuuren is een van drie verdagtes wat oorspronklik vir Leon se moord in hegtenis geneem is. Suretha is op 29 Maart ook in hegtenis geneem en Van Vuuren beweer dat sy die “meesterbrein” agter die moord is.

Luidens die pleitooreenkoms, wat Maroela Media onder oë gehad het, is Van Vuuren die afgelope 20 jaar met Suretha se broer bevriend, en het hy ten tye van die moord vir Suretha en haar familie goed geken. Hy het Suretha selfs as “ʼn suster” beskou. Van Vuuren het in die hof aangedui dat hy egter nie vir Leon so goed geken het nie en net geweet het dat hy en Suretha getroud was en dat hy ʼn welbekende sakeman in Pofadder is.

Die beplanning

Van Vuuren sê Suretha het hom in September genader en gevra of hy Leon sal vermoor of van iemand weet wat dit sal doen. Sy het glo aangedui dat sy iemand sal betaal om dit te doen omdat Leon haar fisiek mishandel en verneuk. Sy het gesê dat sy iemand nodig het om haar “vuilwerk” te doen.

Van Vuuren het ingestem om Suretha te help.

Van Vuuren het toe sy vriend en kollega by ʼn myn in Kathu, Enrich Williams (34), genader en gevra of hy ʼn huurmoordenaar ken. Williams het na bewering gesê dat hy van iemand in Mafikeng weet wat dit vir R400 000 sal doen. Suretha het tot die bedrag ingestem en gesê dat sy eers R200 000 sal betaal en dan die oorblywende R200 000 ná die moord.

Luidens die pleitooreenkoms het Suretha glo vir Van Vuuren ʼn video gestuur wat tot in fyn besonderhede ʼn uitleg van Leon se huis in Pofadder wys. Leon het in die week alleen in die huis gebly terwyl sy en die kinders in hul huis in Kakamas gewoon het, waar die kinders skoolgaan.

Suretha het glo vir Van Vuuren verduidelik dat die skuifdeur na die swembad altyd oop is en dat die huurmoordenaars daardie spesifieke deur moet gebruik om toegang tot die huis te verkry. Sy het na bewering ook die bank vir hulle uitgewys waaragter hulle vir Leon kan sit en wag.

Suretha het glo ook gesê dat die huurmoordenaars “net ʼn stuk wors moet saamvat om verby die honde te kom”.

Volgens die pleitooreenkoms het Suretha ook uitgewys waar die kluis en die kluissleutels is – sodat die huurmoordenaars die moord na ʼn roof kon laat lyk. Van Vuuren het getuig dat Suretha ook wou weet of sy en die kinders nie dalk ten tyde van die moord in die huis moet wees sodat niemand haar sou verdink nie. Van Vuuren het haar egter afgeraai om dit te doen, aangesien hy nie die moordenaars ken nie en dit dus te gevaarlik vir haar en die kinders sou wees.

Sy het na bewering ook ʼn opsporingstoestel op Leon se foon laat installeer om sy bewegings dop te hou.

Op 18 September het Williams en ʼn vriend van hom, Amantle Bareki (24), na Mafikeng gegaan om die geld vir die voornemende huurmoordenaars te gee.

Luidens die pleitooreenkoms was Suretha selfs bereid om haar trouring, ter waarde van R125 000, aan te bied as betaling vir die moord, maar Williams het glo aangedring op kontant.

Die dag van die moord (7 Oktober)

Van Vuuren, Williams en Bareki het die aand van 6 Oktober by Van Vuuren se huis in Kathu ontmoet. Dit is tóé dat Van Vuuren vasgestel het dat Williams en Bareki self die moord gaan pleeg.

Van Vuuren het omstreeks 23:30 vir Williams en Bareki in sy ma se motor, wat hy al vir die afgelope drie jaar ry, Pofadder toe geneem. Hulle het ʼn bofbalkolf, Okapi-mes en ʼn knuppel saam met hulle gevat. Hulle het ook ʼn vuuraansteker saamgevat wat hulle gebruik het om agterna die bewyse teen hulle te vernietig.

Hulle het op 7 Oktober omstreeks 05:00 in Pofadder aangekom. Volgens Van Vuuren se verklaring was hulle heeltyd in verbinding met Suretha. Sy het hulle van Leon se bewegings ingelig.

Suretha het toe glo vir Leon gebel en gesê die honde loop in die straat rond en hy moet gaan kyk wat by die huis aangaan.

Byna 15 minute nadat Leon by die huis aangekom het, het Bareki vir Van Vuuren gebel en gesê hy moet hulle kom oplaai; die moord is gepleeg. Bareki en Williams het met ʼn dik gestopte geweersak uit die huis te voorskyn gekom. Volgens Van Vuuren was Williams se blou oorpak vol bloed toe hy in die motor klim. Die drie het toe laat spat en in Kakamas se rigting gery.

Volgens die ooreenkoms het Williams gesê die moord was nie maklik nie, want Leon het “terugbaklei”.

Van Vuuren het ook in die pleitooreenkoms bevestig dat Williams en Bareki geld en vuurwapens uit die kluis gebuit en ook Leon se selfoon gevat het.

Leon is glo verskeie kere met die mes gesteek, met die bofbalkolf geslaan en toe laastens met ʼn hondeketting verwurg. Sy liggaam is daarna in die swembad gegooi.

Hiér het Suretha sy liggaam omstreeks 16:08 “ontdek”.

Die verslag bevestig dat die oorsaak van Leon se dood verwurging is.

Ná die moord

Luidens die pleitooreenkoms het die drie sowat 10 km buitekant Pofadder stilgehou om Leon se foon te vernietig. Sowat 10 km verder het hulle vir Suretha ontmoet. Suretha, Williams en Bareki het hul gesigte bedek sodat hulle nie mekaar kon sien nie. Hulle het toe die selfoon – wat Suretha gebruik het om met Van Vuuren te kommunikeer – asook die wapens en oorpakke vernietig. Van Vuuren, Williams en Bareki is daarna na Van Vuuren se huis waar hulle die gesteelde kontant onder die drie verdeel het. Van Vuuren het altesaam R9 000 gekry.

Suretha Brits (middel) word deur brig. Dick de Waal en lt.kol Sandra Boshoff begelei na die landdroshof in Pofadder (Foto: Verskaf)

Te danke aan die flinke speurwerk van die ondersoekspan is Van Vuuren en Williams ʼn week ná die moord (16 Oktober) in onderskeidelik Kathu en Piketberg aangekeer. Bareki is ʼn paar dae later (22 Oktober) in Kathu vasgetrek.

Die ondersoekspan word gelei deur brig. Dick de Waal, hoof van die Noord-Kaapse polisie se eenheid teen ernstige georganiseerde misdaad, en lt. kol. Pieter Benade as ondersoekbeampte. De Waal het onder meer ook die berugte Griekwastad-moorde ondersoek.

Williams en Bareki is op 20 November in die landdroshof op Pofadder op waarskuwing vrygelaat. Hulle staan tereg op aanklag van moord, roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van ʼn vuurwapen. Hulle sal na verwagting weer op 17 Mei in die hof verskyn.

Van Vuuren is op 25 Maart in die hooggeregshof in Kimberley ingevolge die pleitooreenkoms gevonnis. Hy is 25 jaar tronkstraf opgelê vir die moord, waarvan vyf jaar opgeskort is. Hy is ook gevonnis tot 15 jaar tronkstraf vir roof met verswarende omstandighede en drie jaar tronkstraf vir die onwettige besit van ʼn vuurwapen. Die vonnisse word gelyklopend uitgedien en hy sal effektief 20 jaar agter tralies sit.

Van Vuuren se regsverteenwoordiger, Deon Nell, het talle versagtende omstandighede en ander wesenlike omstandighede met Van Vuuren se vonnisoplegging voorgehou. Volgens Nell het Van Vuuren berou vir sy dade getoon en vertel hoe hy homself aan die moord aandadig gemaak het. Lees meer oor Van Vuuren se verhaal Saterdag op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Maggies ·

Ek glo iemand sal beslis. Kyk na Griekwastad. Arnold Voslo sal sekerlik weer die rol kry van die ondersoek speurder.

Androclus ·

Sy is definitief die baasbrein,die hof moet haar net wegstuur.Hoekom het sy nie geskei nie.Selfsugtigheid.

LANA is ELANè ·

Gierigheid, sy wou sy geld en eiendom hê, maar nie hom nie.

Inkpot ·

Wat’n koelbloedige vroumens!
Sy het gedink sy is slim met haar “waterdigte” moordplan.
Wonder wat gaan nou deur haar kop!

MrMagic ·

Dit is verskriklik. Dat enige iemand so mal oor geld kan wees om ‘n moord te pleeg. Die Brits egpaar lyk so gelukkig in die foto en intussen tree Suretha op soos ‘n regte heks. Hoe kan mens dit aan jou maat en kinders doen, is onmenslik.

Tanniepetoors ·

Hoe op aarde word die twee wat skynbaar die moord gepleeg het op waarskuwing vrygelaat?

Madz ·

MAG ek my verstout om te vra dat brig. Pieter Benade ook betrek word by al ons regerings-amptenare se “ondersoeke”…..? Ek dink dis ‘n billike versoek☺

Retha ·

Liewe Hemel! Hoe slaap so ‘n mens en kyk jou kinders in die oe?

Tolletjie ·

Wat vir my amper die ergste is, is die feit dat sy gevra het “of sy en die kinders nie in die huis moet wees ten tyde van die moord sodat niemand hul verdink nie”…. hoe kan jy hoegenaamd oorweeg om jou kinders aan sulke trauma bloot te stel, om te oorweeg dat hulle getuies van die moord moes wees?! Sy is siek!

Mystify ·

Genade, ‘n mens se lewe is niks werd nie, hoekom moord laat pleeg, plaas van doen dit self. Dan was daar nie nog drie mense en hulle gesinne verwoes oor geldgierigheid nie.

oelof ·

Hoe is dit moontlik dat die twee verdagtes wat van moord en roof aangekla word, met n waarskuwing vrygelaat word? Oscar Pistorius se borg aansoek het twee weke geduur.

ES ·

Maak nie saak hoe haarfyn hierdie tipe moorde beplan word nie, die menslike faktor word nooit in berekening gebring nie. Mense praat altyd, en hulle vertel op een of ander tyd vir iemand wat hul gedoen het. Gelukkig het ons van die beste speurders in die wereld.

Skokkend dat die vrou dit aan haar eie man gedoen het. Plaas sy net van hom skei. Nou moet haar kinders sonder ‘n ma of pa grootword. Slaat haar virewig toe!

Hennie ·

Waarom in die lewe word vonnise nog steeds gelyklopend uitgedien in hierdie land. 43 jaar word nou net 20 jaar waar hy sekerlik na 15 jaar of minder parool sal kry.

JohanR ·

Daisy de Melker loop nog rond. Die vrou is ook maar bietjie stupid! ‘n Huurmoord kan nooit stil gehou word nie. Iemand sal praat, of die speurders sal die uitwerk. Hoe lank sit jy vir soe moord? Seker soe 20 jaar, soe sy sal 50 wees waaneer sy die sons afgang weer sien?

LANA is ELANè ·

Mag sy vir altyd uit die samelewing verwyder word, vir altyd asb. Dit is grusaam om deur hierdie artikel te lees, ek kan net dink hoe magteloos die arme man was, want dood moes hy dood om sy eie vrou se “gulsigheid te voer”.

KB ·

Brits het verseker ‘n neurologiese probleem. Daar’s groot fout.

Dirk Mostert ·

Die moordenaars het 23:30 van Kathu vertrek en 05:00 in Pofadder gekom. Hulle het dus ook die aandklokreel veronagsaam en dit behoort in hul klagstaat ingesluit te word. Van Vuuren se “berou” dien as versagting, een van die belaglikhede van die regstelsel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.