Vrou beseer in perdryongeluk op strand in Oos-Londen

Valerie en Emile Streicher Foto: Facebook

Valerie en Emile Streicher Foto: Facebook

Valerie Streicher (29) van Oos-Londen is Sondag op die strand by Cove Rock in die Oos-Kaap beseer toe sy van haar perd afgeval het.

Streicher en drie vriende het gaan perdry, het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in ʼn verklaring gesê. Die perd het haar glo reeds vroeër laat afval, maar sy het net haar ken seergemaak en weer opgeklim. Die perd het haar weer laat afval en die moontlikheid het bestaan dat sy rug- en nekbeserings opgedoen het.

Die span van die NSRI is omstreeks 12:30 na die toneel ontbied.

Esther Wallace, ʼn voormalige paramedikus en vrou van Leonard Wallace, ʼn NSRI-vrywilliger en paramedikus by die Oos-Kaapse departement van gesondheid, was saam met die groep vriende. Sy het dadelik hulp ontbied en Streicher op die toneel gestabiliseer.

Die toneel was op sagte strand en ʼn ambulans kon nie by Streicher uitkom nie. Sy is op ʼn traumabord vasgemaak en ʼn helikopter is ontbied. “Ons het die pasiënt agterin ons seereddingsvoertuig geplaas en haar na ʼn veilige gebied geneem waar ons landingsplek gemaak het vir die helikopter,” het die NSRI in die verklaring gesê.

Streicher is daarna na die Beacon Bay Life Care-hospitaal geneem.

Emile Streicher, Valerie se man, het Sondagaand gesê die X-straalplate het bevestig dat sy nie ʼn rugbesering opgedoen het nie, net ʼn erge kneusplek. Hy het die NSRI bedank vir hul bystand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johann ·

Perderuiters op die strand maak maar ‘n idilliese prentjie.
Gou gesond word Valerie. Dan kan jy weer jou passie geniet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.